Hand.9:1 - 20
Datum: 19 Mei 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
Sou ek vanoggend vra: vertel my wat in Hand.9 gebeur het, of wat het met Paulus op die Damaskus pad gebeur, sal die meeste van ons tereg antwoord: dit gaan in Hand.9 oor Paulus se bekering, Lukas vertel ons hoe Paulus tot bekering gekom het. En onder “bekering” verstaan ons Paulus se toekeer tot die Here, die omdraaipunt in Paulus se lewe, die moment waarin Paulus se lewe verander het. Dit is ook nie verkeerd nie. Dit is inderdaad wat in hierdie gelese gedeelte gebeur.
Ek wil egter vanoggend vra: Is wat ons normaalweg onder “bekering” verstaan, al wat met Paulus gebeur het? Is dit ook al wat ons bekering behels: dat ons die Here ontmoet het? Verskaal ons nie met hierdie siening dit wat met Paulus op die Damaskuspad gebeur het nie? Verskraal ons nie die betekenis van ons eie bekering nie? Het Paulus se bekering, ons bekering, nie baie groter implikasies as wat ons normaalweg daaronder verstaan nie?
Bekering is die werk van God.
Let maar op: Dit is nie Paulus se toegewydheid of sy godsdiens of sy soeke na God wat hom by die Here uitbring nie. Paulus was in werklikheid vyandig teenoor Jesus en sy volgelinge. Hy het die gelowiges vervolg en laat opsluit. Hy het geen aandeel gehad van wat met hom op die Damaskuspad gebeur het nie. Ten spyte van Paulus se weerstandigheid, verskyn Jesus aan hom op die Damaskuspad, haal God se genade Paulus in, oorrompel God se genade hom. God verander Paulus van vervolger tot volgeling. God tel vir Paulus op en maak hom deel van God se koninkryk op aarde. Ek en jy moet tog nooit aan ons bekering dink, of hoe ons dit ookal wil noem - toe ons die Here ontmoet het, toe ons ons lewe vir die Here gegee het, toe ons gered is - as dat ons tog so oulik was om vir die Here te kies nie, so oulik was om ons saak met die Here reg te maak nie. Dat ons van ons kant ons tot die Here gewend het nie. Ons sien hier in Paulus se lewe. Bekering is God se ingrype in my lewe, God se werk in my lewe. Die God het uit genade my, soos vir Paulus destyds, uitverkies, neergebuig na my en my Syne gemaak. God het vir my en jou, wat net so min as Paulus verdien het om kind van God te wees, gered en sy kinders gemaak. Ons redding, ons bekering, is bo alles die werk van God. Dit gaan in die eerste plek oor wat God in my lewe gedoen het en nie wat ek gedoen het nie. Ek sal wil byvoeg: nie alleen ons bekering nie, maar ook die voortgang van ons geloofslewe, die proses van heiligmaking, is Gods werk deur die Heilige Gees.
Die Here skep gemeenskap tussen gelowiges.
Paulus is oppad om gelowiges in Damaskus in hegtenis te neem en hulle geboeid terug te neem na Jerusalem. Maar let nou op wat gebeur met Paulus. Jesus stuur Paulus na sy bekering na ‘n gelowige, Judas, se huis in Reguitstraat. Paulus moet by hierdie onbekende gelowige tuisgaan. Jesus gee vir Paulus ‘n gesig dat ‘n ander gelowige, Ananias na hom in Reguitstraat sal kom. Iets soortgelyks gebeur met Ananias. Jesus sê vir hom hy moet na Judas in Reguitstraat gaan waar hy Paulus sal kry. Hy moet vir Paulus die hande oplê sodat hy weer kan sien. As hy by Paulus(die vervolger van gelowiges) kom, spreek hy Paulus as “broer” aan! Dink vir ‘n oomblik ook hoedat Paulus op sy sendingreise deur medegelowiges ontvang is. Mense wat hy glad nie geken het nie, maar wat deur die bloed van Jesus Christus broers en susters van hom geword het. Hierdie medegelowiges het vir Paulus aan huis geneem, kos gegee, versorg, ondersteun met wat hulle gehad het en aan die Here opgedra.
Die Here skep gemeenskap tussen mense. Al is hul vreemdelinge vir mekaar soos Paulus en Judas en Ananias. Die Here maak mense kinders van Hom, broers en susters van mekaar. Al is die een van Jerusalem en die ander van Damaskus. Die Here smee bande van liefde en omgee tussen gelowiges, al was die een vervolger en die ander volgeling. So is dit ook vandag met ons as Christendom, as kerk of as gemeente van die Here. Die Here bind ons as gelowiges aan mekaar, skep bande van liefde en omgee tussen ons, maak van ons broers en susters van mekaar. Ongeag of ons van Jerusalem of van Damaskus kom, man of vrou is, Jood of Griek is, ryk of arm is, bruin of wit of swart is, Afrikaans of Engels praat, Zoeloe of Xhosa, jonk of oud is. Ons gelowiges is deur die Here aangewys op mekaar, ons het mekaar nodig, ons is verantwoordelik vir mekaar. Ons kan nie maar wegstaan van mekaar nie, ons kan nie maar sê, ek het nie ander nodig nie, ek is okay op my eie. Of ons geloof indiwidueel, op ons eie, sonder medegelowiges wil uitleef nie. Dit is nie soos die Here dit wil hê nie.
Laat ons elkeen self antwoord: Hoe kom ek my verantwoordelikheid teenoor my broers en susters in die geloof na? Watter bydrae doen ek tot die geloofsgroei en welwese van my medegelowiges? Waar skakel ek in, hoe skakel ek in? Is ek deel van ‘n kleingroep? Is ek bereid om op ‘n kommissie, die kerkraad te dien? Met die basaar te help? Doen ek iets vir ander wat meer afhanklik is van medegelowiges, soos oues van dae, siekes, mense met wie dit nie goed gaan nie? Om deel van die geloofsgemeenskap te wees is nie ‘n keuse nie, dit is ‘n gegewe! Ek wil ‘n laaste opmerking hieroor maak: Dit moes vir Paulus ‘n aanpassing wees om meteens afhanklik van ander te wees, om deur ander gelei en versorg te word, om uitgelewer te wees aan dié wat hy vervolg het! Dikwels is dit ook vir ons moeilik(er) om aan die ontvangkant van die genade en barmhartigheid van medegelowiges te wees as om die een te wees wat genade bewys. Ons moet ook bereid wees om deur medegelowiges gedra te word. Ons moet bereid wees om getroos te word as dit ons gebroke is, gehelp te word as slegte dinge met ons gebeur het, ondersteun te word as die lewe ons onder gekry het.
Bekering beteken om deur die Here in diens geneem te word. In v. 15 staan: Ek het vir Saulus uitgekies om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel. V.20: Paulus het dadelik in die sinagoges begin verkondig dat Hy/Jesus die Seun van God is. Die Here neem vir Paulus dadelik na sy bekering in diens. In v.15 word die woord “werktuig” of “instrument” gebruik. Handelinge vertel vir ons verder hoedat Paulus ‘n werktuig in die Here se hand was. Bekering beteken om deur die Here in diens geneem te word, gestuur te word, gebruik te word, ‘n werktuig in Sy hand te wees. Dikwels dink ons as ons tot bekering gekom het, is alles reg en fine en is daar niks verder nodig om te gebeur nie. Ek het gearriveer, my plek in die hemel is bespreek, ek kan maar min of meer aangaan met my lewe soos voorheen. Paulus se bekering wys vir ons dat bekering is om beskikbaar vir die Here te wees, ‘n werktuig of instrument van die Here te wees, in diens van die Here te wees, gereed te wees dat die Here my kan gebruik, kan stuur Wat doen jy vir die Here? Waarheen, na wie, stuur die Here jou? Op watter manier is jy in diens van die Here? Of is jou bekering ‘n uitsondering op die bekering waarvan die Bybel praat? In Hand. 22 vertel Paulus dit wat op die Damaskuspad met hom gebeur het. Hy sê in v.10 vir die Here “Wat moet ek doen, Here?“ Ek wil jou vanoggend die geleentheid gee om vir Paulus na te praat. Om ook vir die Here te vra “Wat moet ek doen, Here? “ Ek gee ‘n paar oomblikke van stilte.
Amen