Lukas 1:26-38

Datum: 20 Desember 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

VERRASSING, VERRASSING!

 Hierdie is ’n tyd wat tot barstens toe vol verrassings is. Kerskouse, propvol verrassings hang in huise en hope geskenke is rondom kersbome gepak. Spyskaarte vol verrassings word beplan deur die dames terwyl die manne sorg dat daar nie ’n tekort aan  vloeibare verrassings is nie. Die wagtyd is so te sê verby. Oor vyf dae gaan gesinne, families en vriende bymekaarkom en saam Kersfees hou. Hierdie is gesinstyd, familie-tyd, tyd saam met vriende. ’n Wonderlike saamwees-tyd wat ek vir niks wil verruil nie, maar daar is iets wat ons tog vir mekaar moet sê.

 

Ek wil vra dat ons vir ’n oomblik in hierdie harwar van laaste Kersfees aankope  tot stilstand sal kom. Kom ons besin vanoggend waaroor dit werklik gaan. Kom ons gebruik hierdie vyf dae voor Kersfees om te na te dink wat Kersfees regtig beteken. Want deur die eeue heen is Christus die Here, afgekoel tot gerieflike, godsdienstige kamertemperatuur. Op vele plekke is Hy vervang deur ’n “Liewe Jesus” wat steeds saggies en teer in sy wiegie lê en slaap.

Die hartseer van dit alles is dat ons begrip van Jesus se geboorte dikwels bepaal word deur allerlei romantiese voorstellings. Deur verskillende Kinderbybels se uit­beelding van skoongewaste skape, engele, ’n ontwerpers-krip en goedversorg­de eregaste.

Boonop hoor ons Boney M se “Little Drummer Boy”. ‘n Soete gedruis. Dit alles in ’n tjoep-stille nag … terwyl ons ons trommeldik eet aan al die Kersfees-kos en al die geskenke binne ‘n uur oopgeskeur word, met ‘n ma van die huis wat al die geskeurde geskenkpapier opfrommel en in ‘n swartsak druk.

 

Daarom kan ons nie anders as om vandag te fokus op die werklike verrassing nie. Daardie verrassing toe die engel Gabriel aan ‘n tienerdogter met die naam Maria verskyn het nie. Die een verassing op die ander. Rondom Maria en Josef se kersboom was daar onbeskryflike verrassings toegedraai. Meer as wat enige paartjie hier op aarde ooit sou kon van droom. Kom ons kyk na die drie verrassings wat ons vanoggend moet oopmaak terwyl ons in verwondering staan:

 

  1. Gabriel se eerste verrassing was: “ Die Here is by jou.” En Maria was verbysterd oor die woorde. Plaas jouself vir ‘n oomblik in Maria se skoene. Hoe sou jy reageer wanneer ‘n engel voor jou verskyn en aan jou die nuus breek dat jy gaan swanger word.? Wat sou jou eerste reaksie wees? Wat gaan my pa sê? Van nou af gaan ek soos ‘n COVID-19 pasiënt hanteer word. Almal gaan my vermy. Ek vermoed dat Maria se hart in haar borskas ge-bokspring het van vrees. Ek is dan ‘n maagd, ek is rein. Wie gaan my glo wanneer ek vertel dat ek nog nooit by ‘n man geslaap het nie.

Maar dit gaan nie oor Maria nie. Dit gaan oor ‘n Goddelike ingryping op ‘n Goddelike wyse. Dit gaan oor die krag van ons Almagtige God. En daarom word sy gerus gestel met die woorde: Die “Here is met jou.”

Die Here los haar nie alleen tydens  hierdie wonderwerk gebeurtenis nie. God bewys genade aan Maria en en maak haar rustig deur te sê: Moenie bang wees nie. Dit is die eerste groot verrassing van Kersfees. God se Lig verskyn in die wêreld en verdryf die duisternis en vrees uit ons harte.

 

  1. Gabriel se tweede verrassing is dat Maria ‘n seun in die wêreld sal bring. Kan julle die verrassing daarin hoor! Maria, 31Jy sal swanger word en ’n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee. Wat kan meer aangrypend wees as dat God Sy onbeskryflike werk in die hande van ‘n 16 jarige tiener plaas? Destyds as ‘n jong pa sou ek nie my drie kinders in die sorg van ‘n sestienjarige tiener plaas nie. En hier word die Redder van die wêreld in Maria se hande geplaas. Sonder enige tierlantyntjies dra Maria vir nege maande God se seun. Jesus word nie aan haar voorgestel as “liewe Jesus nie maar as: 32Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word. Die Here God sal Hom die troon van sy voorvader Dawid gee, 33en Hy sal as koning oor die nageslag van Jakob heers tot in ewigheid. Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.”  Hierdie Goddelike ingryping  vertel alles van sy roete om by stukkendes, verlorenes, randfigure, afgeskryfdes, eensames, sondaars en selfs godsdienstiges uit te kom. Hy was van daardie eerste dag af die groot hemelse sendeling wat aarde toe gestuur is. Dit is die verrassing van Kersfees, die Jesuskind beteken God met ons. Johannes se vertelling vat dit goed saam: “En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon.” God slaan tussen ons tent op in die lyf van Jesus. Dit wat niemand ooit sou kon dink nie, gebeur op Kersdag. Dit is die tweede verrassing. Jesus was nie net mens nie maar Goddelik.

 

  1. Gabriel se derde verrassing is dat Jesus die Seun van die Allerhoogste genoem sal word. En dit is die verrassing van Kersfees! Wanneer God besluit om Sy grootste reddingswerk te doen herhaal hy nie die verlede soos met Noag en die Ark of Moses in ‘n mandjie Of soos met uittog uit Egipte en die trek, droogvoets, deur die Rooisee nie. God se grootste reddingswerk word in die broosheid van Sy Seun gedoen. 100% Seun en 100% God. Nie 50/50 nie. Nie liewe Jesus nie maar Seun van die Allerhoogste.

 

Seun van die Allerhoogste, God se kind wat ons soek, wat op ons spoor bly en ons inhaal.

SLOT

Dalk is dit tyd dat ons Kersfees sal sien vir dit wat dit regtig is sonder al die blink en Hoo-Haa en Jingle Bells. Dalk sal Kersfees dan ook ons lewens radikaal verander, sodat ons sal kies om voltyds vir die Here te leef.

Want dit is wat gebeur met mense wat hulle trompop in Jesus vasloop: Hy keer hulle lewe op sy kop. Hy verander ONS, deur die manier waarop ONS lewe te verander. Dan is Hy nie meer een of ander veraf heilige wat ek elke nou en dan in die kerk raakloop nie. Of die babatjie wie se geboorte ek in dié tyd vier nie. Nou is Hy die Here van my lewe vir wie ek nie ná die feesseisoen rustig wil wegpak, saam met al die kersversierings nie.

 

Laat toe dat daar in dié tyd ’n nuwe verhaal in jou lewe opstaan: die waarheid oor Jesus.

 

Dan sal jy elke dag sy koms en sy nabyheid vier, reg deur die nuwe jaar. Kom ons vier oor 5 dae Kersfees op die regte manier.

AMEN