Lukas 9:57-64
Datum: 28 Augustus 2022 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Morkel
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Hoe het dit gebeur dat jy ‘n lidmaat van die kerk geword het? Of laat ek die woorde in ons teksgedeelte gebruik: Hoe het dit gebeur dat jy ‘n volgeling van Jesus geword het? Hoe het dit gebeur dat jy jouself ‘n volgeling – of dissipel – van Jesus noem? De Eike se slagspreuk sê mos ook, “in die voetspore van Jesus.” Verreweg die meeste van ons het in die kerk grootgeword. Ons is deur die verbondsteken van die doop by die kerk ingelyf. Ons ouers het van kleinsaf vir ons Bybelverhale gelees. Ons het verder in die Kinderkrans geleer van die Here, sy Woord, en sy beloftes. By die Sondagskool is ons verder onderrig in die Here en die Bybel. Ons het as kinders ons ouers, die grootmense hoor praat van die Here se sorg, sy voorsiening, dat die Here gebede verhoor! Uiteindelik het ons belydenis van geloof afgelê en volle lidmate van die kerk geword.
In die tyd wat Jesus op aarde was, het dinge natuurlik anders gebeur. Toe Jesus sy bediening begin het, het mense Hom begin volg. Ons het so vinnig in die voorafgaande hoofstukke gesien hoedat mense van Jesus begin kennis neem het. Hulle het gesien, gehoor, en ervaar het hoedat Jesus ‘n storm op die see stilmaak, mense van bose geeste bevry, ‘n vrou wat aan bloedvloeiing gely het, genees, Jaïrus se dogtertjie uit die dood opwek, broodjies en vissies vermeerder en vir ‘n skare mense kos voorsien, ‘n onrein gees in ‘n seun skerp aanspreek en die gees die seun verlaat. Alhoewel dit op ‘n ander manier as met ons gebeur het, het hierdie mense ook kennis geneem van Wie Jesus is. Hulle het gesien hoedat Jesus wonderwerke doen, hulle het ervaar hoedat Jesus aan hulle behoeftes voorsien, hulle het gesien hoedat Jesus mense genees en die krag in Jesus se Woord gesien en beleef.
Is dit verkeerd dat hierdie mense Jesus begin volg het omdat hulle hierdie ervarings gehad het? Is dit verkeerd dat ons ewe-eens onsself volgelinge/dissipels van Jesus noem omdat ons van kindsbeen beleef dat die Here getrou is, gebede verhoor, altyd daar is vir ons, vir ons voorsien en sorg? Natuurlik is dit nie verkeerd om te leef vanuit die genade van die Here nie, om dit wat ons uit die Here se hand ontvang, te omarm en te leef nie. Natuurlik is dit nie verkeerd om dankbaar te wees, dankbaar te leef omdat ons kan deel in die voorreg om te deel in dit wat die Here ons bied nie. Julle sal egter met my saamstem dat die risiko destyds bestaan het dat mense Jesus begin volg het vir die voordeel wat hulle gereken het dit vir hulle inhou. Dat hulle kon gedink het, “ek gaan hierdie Jesus volg” want, Hy rol klippe uit jou pad, Hy los jou probleme vir jou in ‘n japtrap op, Hy gee vir jou wat jy nodig het -
genesing, kos. Ek en jy kan vandag steeds in hierdie selfde slagyster trap, of in hierdie gewoonte verval. Ek volg Jesus omdat ek reken dit is goed om Hom aan jou kant te hê, ek het deurgaans ‘n Wonderwerker byderhand! Hy sal altyd sorg dat alles altyd seepglad en voorspoedig verloop. Ons kan gerus vir ‘n oomblik nadink in hoe ‘n mate denkwyse ‘n rol speel in hoekom ek myself ‘n volgeling van Jesus noem?
In ons teksgedeelte ontbloot Jesus ‘n ander dimensie van dissipelskap vir sy volgelinge (destyds/vandag). Wys Jesus wat die volle implikasies is van om volgeling van Hom te wees, Jesus kom herinner ons vanoggend weer aan aspekte van navolging/ dissipelskap wat ons nalaat - dalk verkies om na te laat. ‘n Paar van Jesus se nalopers kry die geleentheid om volgelinge van Hom te word. Mens vind die reaksie van Jesus in elk van hierdie gevalle ietwat vreemd, selfs kortaf. Die eerste een sê vir Jesus “Ek sal U volg waar U ook al gaan”. Mens sou verwag dat Jesus hom sou antwoord “Wonderlik, kom volg My!”
Maar Jesus sê “Jakkalse het gate en voëls het neste, maar die Seun van die Mens het nie eens ’n rusplek vir sy kop nie.” Jesus roep die volgende twee om Hom te volg. Die eerste een sê vir Jesus hy wil eers sy pa gaan begrawe. Die tweede een sê vir Jesus hy wil eers sy familie gaan groet. In beide gevalle verwag mens dat Jesus iets sal sê soos “Ek verstaan, familie is belangrik, gaan maak so, kom daarna terug en volg My!” Maar Jesus sê “Laat die dooies hulle eie dooies begrawe maar verkondig jy die koninkryk van God.” En “Iemand wat sy hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die Koninkryk van God nie.” Jesus se reaksie ís nie wat ons graag wil hoor nie, pas nie mooi by die prentjie wat ons van dissipelskap van Jesus het nie, klink te veel dat om Hom te volg, vir my swarigheid inhou, my lewe - my planne, my drome, my ideale - gaan omverwerp.
Jesus sê, dink eers so bietjie mooi voordat jy My wil volg! Dit is nie so eenvoudig nie. Dit is nie iets wat jy so terloop êrens in jou lewe kan inpas nie! Om My te volg, het implikasies, ingrypende implikasies vir jou lewe! Jesus verwys meer as een maal na “die Koninkryk van God.” Jesus sê “om My te volg”, beteken dat God se wil eerste in jou lewe kom, dat God se koninkryk voor jou wil kom, voor die koninkrykie wat jy vir jouself aan die oprig is, kom. Jesus sê ons prioriteite sal moet verander, selfs iets wat so belangrik soos ons familie is, sal ondergeskik aan God se wil moet word. Om Jesus te volg, beteken om afstand te doen van dinge in ons lewens wat in die pad staan van die Koninkryk van God. Dinge waaraan ons so geheg geraak het dat dit verhoed dat die Koninkryk van God die eerste prioriteit in ons lewens is. Jesus sê Hy soek nie ‘n volgeling wat gedurig omkyk nie. Jesus, Hy vir wie ons volg, (so staan dit hier) het nie aldag(alnag) ‘n holte vir sy kop gehad nie. Hy is gekruisig, Hy het gesterf aan die kruis op Golgota, Hy het sy lewe vir ons gegee. Daarom hou navolging van Jesus nie alleen in om te leef vanuit sy genade en gawes en goedheid nie, maar dat ons ook sal bereidwees om op te offer vir die Here, om prys te gee ter wille van sy Koninkryk, om te ontbeer. Ons sal moet sterf aan onsself om te leef vir die Koninkryk van God.
Dit, vriende, is die anderkant van navolging van Jesus. Die geskiedenis is vol voorbeelde hiervan. Van die prys wat navolging van Jesus vir gelowiges gekos het. Van wat dissipels van Jesus bereid was om op te offer vir die Koninkryk van God. Van dit wat Bonhoeffer die titel van sy boek gemaak het, “The cost of discipleship”. Ons, Jesus se volgelinge van vandag, sal dit nie kan ontwyk nie. Ons sal vir onsself moet gaan uitmaak wat disipelskap in 2022 van ons vra. Ons het begin om te praat oor lidmaatskap, oor navolging van Jesus. Jesus roep ons vanoggend weer “Volg My”. Wil jy graag vanoggend by hernuwing vir die Here “ja” sê? Ja, Here, ek wil U volg volgens U definisie van navolging? Kom ons antwoord die Here deur op te staan en saam hardop ons geloof te bely!
AMEN