MATTEUS 4:18-22
Datum: 17 Mei 2018 (Aanddiens)
Prediker: Chris Barnardo
INLEIDING
Die eenvoud van Jesus ruk my altyd tot stilstand. Jesus het die wêreld vir altyd andersom laat draai- hierdie einste Man wat geen boek geskryf het nie, geen land bestuur het nie, geen aardse weermag rondom Homself versamel het nie, en geen politieke of ekonomiese mag opgeëis het nie, hang saam met vissermanne uit. Kan dit wees? Tussen eenvoudige, hardwerkende manne met stukkende vingers en stink klere begin Hy sy bediening. Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.”: sê Hy vir die manne.
Jesus praat hulle taal. Jesus ken visvang en visreuk. Jesus ruik self soms na vis. Jesus sit in ‘n visserskuit en preek. Hy word selfs aan die slaap agter op ‘n vissersboot. Hy klim in die skuit en vra vir Petrus om dieper die see in te roei en die nette uit te gooi. Daardie dag van hulle baie vis na ‘n hele nag van geen vis nie. Jesus vermeerder die vissies. Hy braai vis op die strand vir sy dissipels. Jesus is so naby aan die mense wat Hom volg, diegene wat Hy dissipels maak, dat Hy soos hulle ruik.
Jesus staan nie en gooi pamflette uit ‘n ivoortoring en roep “Bekeer Julle” nie. Jesus is tussen ons. Hy loop tussen ons en ken ons uitdagings en probleme, weet hoe moeilik ons werk soms kan wees in korrupte stelsels wat ander verryk en nie die mense dien nie. Jesus weet. Jou reuk sit ook aan sy lyf.
Dit is Jesus. God met ons. Jesus is God se liefde in lewende lywe.
EN ONS IS SY VOLGELINGE
In die 33 vertaling lees ons dat Jesus sê: Kom agter My aan, In Grieks beteken dit letterlik Loop in my voetspore. Maar dit is nie waar Jesus se woorde stop nie. Hy sê dan verder: Want ek wil jou op ‘n ander manier leer visvang. Om in Jesus se voetspore te loop is ‘n opsie, maar om te begin visvang is te veel gevra. Dit beteken dat ek gaan vuil word. Ek kies eerder om op die wal nette te herstel, terwyl die ander visvang.
Hoe dikwels staan ek nie net en gil uit die ivoortoring vir mense om in te kom , of gooi pamflette af en vertel hulle hoe hulle in die wêreld God se teenwoordigheid moet wees, terwyl ek nie is nie.
Nee vriende, dis nie radikale dissipelskap nie. As ek die teks reg verstaan is daar nie ’n keuse nie. as jy kies om in Jesus se spore te loop, moet jy ook in die boot klim. Jy moet diepwater toe. Dissipels is Jesus se voltydse navolgers. Groei en verandering is hulle stapelvoedsel. Koue informasie en lewelose rituele is nie hulle kos nie. Dissipels van die Here laat toe dat Hy gedurig aan hulle beitel, kap, saag en snoei. Terwyl ander net bid, is dissipels alreeds deel van die antwoord op hulle eie gebede.
Hulle bid nie net nie, maar doen ook. Hulle hoop nie net nie, maar gee in God se Naam uitdrukking aan hulle verwagtings. Hulle gee gedurig uitdrukking aan hulle gedagtes oor hoe om God te verheerlik. Hulle sing nie net hulle geloof nie, maar leef dit. Hulle liefde vir die Here gee aanhoudend af op hulle harte, woorde en lewe. Dissipels van Jesus se vingerafdrukke vertoon altyd iets van die Here se deernis. In hulle voetspore is die regte roete aanwysers te sien wat lei na God se ewige stad. Hongeriges kry brood by hulle. Stukkendes ontvang ‘n pleister of twee. Jesus se hemelse lig skyn elke dag ‘n klein stukkie helderder in al sy dissipels se omgewing. Hulle geloof gebeur voltyds. Hulle liefde vir die Here is aanhoudend; hul omgee vir ander mense ook.
Dis tyd vir De Eike om in die boot te klim. Dis tyd om die vis-aas aan jou hande te ruik. Dis lankal tyd dat elke lidmaat van De Eike nette begin uitgooi eerder as om op die wal te sit en nette te herstel. Die beste plek om te wees is aanboord, want Jesus is ook aanboord. Daar bedaar storms. Daar kom bang harte tot rus. Hy tel drenkeling dissipels terug in die boot, waar hulle hoort; daar waar die aanbiddingsfees gebeur. As jy saam met Jesus wil wees, klim terug saam met Hom in die boot en begin visvang. Verander die wêreld!
AMEN