Psalm 31

Datum: 14 April 2019 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

‘n Rukkie terug is ons twee ou dominees in die gemeente besig om te gesels oor ons bediening in die kerk, en al die vergaderings wat ons oor jare deur ons bedieninge bygewoon het. En terwyl ons so gesels, kom ons agter dat ons altwee se grootste frustrasie met die kerk oor die afgelope dertig, veertig jaar, was dat daar nog nooit ‘n tyd was wat daar nie die een of ander groot saak op die tafel was, wat gedreig het om die kerk te verdeel en lam te lê nie. Die kinders noem dit ‘n “isssue”. Daar was nog net altyd die een of ander issue, op elke sinode en elke ringsitting.

 

Jy kan maar opnoem. In my tyd was dit eers apartheid, en daarna kerkeenheid, en toe die Belydenis van Belhar. Intussen was daar verslae oor Skrifverstaan, waartydens ons duidelikheid probeer kry het oor die skeppingsverhaal en of Jona nou letterlik in die vis was of nie. Verstaan my mooi, dis sekerlik nie onbelangrike goed nie. Dit voel my net soms of die kerk dit moes afgehandel en aanbeweeg het, en uitgekom het by die praktyk van die koms van die koninkryk van God. Ek hoef julle ook nie te vertel dat die onlangse hofsake die kerk nou weer knie-diep in die volgende issue gedompel het nie.

 

‘n Hele loopbaan in die kerk, en ons was nog nooit sonder “issues” nie. Ek het nogal gewonder, is dit nie dalk omdat ons Afrikaners is nie? Maar dan het ander kerke tog ook maar baie dieselfde pad geloop... Of is dit nie dalk die duiwel se taktiek om die kerk te ontspoor, sodat die eintlike belangrike sake van die konkinkryk by ons verbygaan nie.

 

Issues sal ons seker maar altyd met ons hê. Dis deel van hierdie werklikheid, waarin ons maar dikwels in ‘n baie dowwe spieël kyk en ‘n uiters raaiselagtige beeld sien. Daar is nou maar eenmaal vrae waarop ons nooit glashelder antwoorde sal hê nie. Groot geloofsvrae, soos die een wat Psalm 31 aan die orde stel. En miskien is dit die eintlike groot geloofsraaisel. Die moeilikste een van almal. Die vraag na geloof en lyding.

 

Kyk, een ding staan soos ‘n paal bo water.  Die Bybel sê vir ons oor en oor. Jy kan vir God vertrou. Hy sal vir sy kinders sorg. Gaan lees maar weer Psalm 62 waarin Dawid bely: “Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan....” En weer by vers 6: Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug.”

 

Dis tog glashelder: Net by God vind ek rus, want by Hom is ek veilig...Vertroue op God bring vrede. Solank jy op die Here vertrou, kan jy rustig wees. Hy sál vir jou sorg. Ware vertroue is sinoniem met die Here se vrede en rus.

 

Maar nou is die vraag: is dit die waarheid? Nog al die eeue worstel gelowiges met die vraag: lyk dit so? Dis een ding om te bely dat ons in die Here glo, en dat ons ten volle op Hom vertrou – maar skreeu die praktyk nie teen hierdie belydenis nie? Kyk maar net hoe lyk ons lewens... Waar is die rus en vrede wat Psalm 62 belowe? Hoekom lê ons dan snags en rondrol? Waar is die voorspoed wat die Bybel belowe, as ons saans wakker lê? As ons lewe eerder vol kwellinge en hartseer is? Dit voel tog asof dit tog nie so moet wees nie...

 

Daarby vertel baie gelowiges ons boonop dat dit eintlik maar ons eie skuld is. Dis net sonde en kleingeloof, en niks anders nie. Dis oor ons sou kleingelowig is, dat ons nie elke dag die hele dag hierdie vrede ervaar nie! Maar weet jy, dis nie wat die Bybel sê nie. Die Bybel sê ons lewe in ‘n stukkende wêreld, en selfs ons wat kinders van die Here is, lewe nie nou al in die hemel nie. Hebreërs 11 sê tog duidelik dat ons glo wat ons nog nie sien nie. Ons kan nog nie sien dat alle dinge reeds aan die mens onderwerp is nie, sê Hebreërs 11. Die mens lyk nie soos ‘n koning nie. Hy lyk veel eerder soos ‘n sukkelaar, ‘n verloorder.

 

Die Bybel sê nêrens jy moet net glo, en dan moet alles net altyd goed gaan nie. Nee, die Bybel vertel vir ons van die stryd van God se kinders, in hierdie pynlike werklikheid waarin ons lewe. Nêrens worstel die Bybel oor die vraagstuk van die sewe skeppingsdae, of oor die realiteit van Jona in die vis nie. Maar op baie, baie plekke, worstel die Bybelskrywers met presies hierdie selfde enorme, séér vraag: Waar is die vrede in my lewe dan, as ek regtig die Here dien? En dis waaroor Psalm 32 gaan.

 

  1. Dawid se ellende

Kyk bietjie mooi vir Dawid. Hy vertel ons hier dat sy lewe die hele tyd bedreig word. Hy is omring van vyande. Sy totale bestaan word gekenmerk deur verdriet sê hy! Hy lewe elke dag in angs, en verder voel hy die hele tyd eensaam, en verstote. Dit voel vir hom niemand gee om nie, selfs nie eens God nie. Dis nou al sou erg dat sy gesondheid al begin ingee onder al sy bekommernisse.

 

Só sleg gaan dit met Dawid! Dawid, van wie die Bybel sê dat hy “’n man na God se hart”  was. Hoe is dit moontlik? Wat help dit Dawid is ‘n kind van die Here, as dit só met hom gaan? Wat help dit dan hy verrtrou op die Here, as hy dan geen vrede en voorspoed ken nie? Wat help dit jy vertrou op God, as dit vir jou geen rus en vrede waarborg nie?

 

  1. Vertroue herstel die vrede

Ongelukkig het hierdie vraag nie ‘n maklike antwoord nie. Dis nie ‘n geval van een plus een is twee nie, want dit is nie hoe die lewe werk nie. Die lewe bly ‘n stryd.

 

Maar binne-in hierdie stryd het Dawid een ding geleer, en dít is waaroor Psalm 31 gaan. Hy het geleer dat daar iets verskriklik belangriks in die spel kom, elke keer wat God se kinders in nood kom. Dis iets wat ons maar sukkel om te verstaan, maar jy sien tog in vers 4 iets daarvan deurskemer. Daar staan: “…ter wille van u Naam sal U my voorgaan en my lei.”  

 

Hoor jy dit? Vir God is sy eie eer en sy Naam is op die spel wanneer sy kinders swaar kry. Só ernstig voel Hy oor jou, en so ernstig voel Hy oor sy belofte dat Hy ons nooit in die steek sal laat nie. Sulke tye word sy trou aan sy beloftes as’t ware getoets, en dis nie iets wat Hy ligtelik beskou nie. En as jy wonder wat help dit mens, as jy swaar kry, moet jy net kyk watter verskil dit hier in Psalm 31 aan Dawid maak. Daar sê hy:Ek wil jubel en juig oor u troue liefde: U was nie onverskillig teenoor my ellende nie; U het die bedreiging van my lewe raakgesien.”

 

Dawid kan juig en jubel, selfs as dit met hom sleg gaan, want hy weet dat hy op God staat kan maak. Hy weet dat jy altyd op God reken, veral ook as dit sleg gaan. Dis waarom hy op die ou end bely: Maar ek vertrou op U, Here, ek sê: U is my God. My tye is in u hand. Red my…”  My tye is in u hand. Daarmee sê hy: Here, my hele lewe behoort aan U. U beskik oor alles. Dalk gaan dit nie altyd soos ek sou kies nie. Dalk voel ek op die oomblik min van u vrede in hierdie deurmekaar wêreld. Maar ek weet, U bly in beheer. En dáárin vind ek rus. U kan sorg wanneer ek myself nie kan help nie. My troos is dat U my God is. Red my…

 

  1. Psalm 31 en lydenstyd

Ek en jy is eintlik baie bevoorreg, want ons kan vandag baie verder as Dawid kyk. Ons weet nog iets, wat selfs Dawid op hierdie stadium nog nie geweet het nie. Ons weet dat die woorde van hierdie Psalm baie eeue later weer een dag sou opklink op ‘n onverwagte plek. Daardie woorde wat jy in vers 6 kry. Daarin sê Dawid: “In u hande gee ek my lewe oor...”

 

Baie eeue later, sou Iemand anders ook so sê. Op Goeie Vrydag was dit Jesus se laaste woorde aan die kruis, vertel Lukas 23 ons. En as Jesus hierdie woorde sê, open Hy vir ons ‘n nuwe perspektief op Psalm 31. Skielik verstaan ons dat ons hierdie vrede nie as ‘n magtige kragtoer van sterk geloof kan verkry nie. Hierdie vrede is vir ons verdien, daardie donker Goeie Vrydagmiddag op Golgota. Dis nie iets waarvoor jy kan werk nie. Dis iets wat jy net kan vra.

 

Ek wens ek kon vanoggend vir jou ‘n klinkklare antwoord gee op die grootste vraag van die Bybel, waarom gelowige mense swaar kry. Ek wens ek kon vir jou verduidelik waarom dit dikwels glad nie goed gaan met God se kinders nie. Maar ek kan nie die onverstaanbare verklaar nie. Al antwoord waarby ons op die ou end kan uitkom, is die punt waarby Dawid op die ou end uitkom: my tye is in God se hand, daarom kan ek rustig wees. Ek kan, soos vers 25 sê, “sterk  wees en goeie moed hou”.  Want ek wéét, God sorg vir sy kinders.

 

AMEN