Psalm 8

Datum: 11 Junie 2017

Prediker: Hannes Burger

Die Psalmboek is uniek in die Bybel – dis net anders as enige ander Bybelboek. Want waar al die ander Bybelboeke ons vertel van God, vertel die Psalmboek ons hoe mense God ervaar. Dit gaan oor mense se pad saam met God. Natuurlik gaan dit nie so seer oor die mense nie. God bly steeds in die middelpunt –elke boek in die Bybel gaan immers oor die Here. Meer spesifiek: oor God Drie-Enig. Elke Bybelboek leer ons van die Drie-eenheid van God. Ons dink somtyds dat die Ou Testament eintlik die deel van die Bybel oor die Vader is, die Evangelies gaan oor die Seun, en die laaste deel handel oor die Heilige Gees. Maar dis verkeerd. Elke boek in die Bybel gaan oor God, in sy wonderlike volheid.

Daarom lees jy al in die heel eerste hoofstuk in die Bybel van die Gees van God. Genesis 1 vertel ons hoe die Gees gesweef het oor die waters by die skepping, en wanneer Johannes sy evangeliebeskrywing begin, vertel hy ons dat niks geskape is sonder die Seun nie. God was dus alreeds by die skepping van ons wêreld in sy volle Drie-Eenheid teenwoordig. Jy kan dus nie eintlik regtig van God die Vader praat as die Skepper nie, want die volle Drie-Eenheid was by die skepping betrokke. En jy sou eintlik maar dieselfde kon sê van alles in die Bybel waaraan jy sou kon dink. Maar aan die ander kant, leer ons tog op ‘n besondere manier vir God ken as Vader in alles wat Hy gemaak het. En dis eintlik presies waaroor Psalm 8 ook gaan. Dis hoekom hulle dit dan ook ‘n Skeppingspsalm noem.

In Psalm 8 kry ons die digter in absolute verwondering oor alles wat God gemaak het.

1. Die wonder van die natuur:

Maar dit behoort nie regtig vir jou vreeslik vreemd te wees nie. Self onthou ek hoe ek as kind snags op my rug op die gras gelê het, en die Karoonag in al sy glorie bekyk het. Aan die een kant om te  soek of ek nie ‘n satelliet sien nie, en daarvoor het jy nooit baie lank gewag nie. Maar aan die ander kant het die grootsheid en stille prag van die naghemel my betower. Eers baie jare later het ek die video van Louis Giglio gesien en weer daardie selfde verwondering ervaar, die verwondering wat jou asem wegslaan en jou stil maak, sodat jy dit net doodstil kan indrink. Vandag nog kan ek nie wag om weer in die Karoo te gaan kuier sodat ek daardie naghemel kan ervaar nie. Maar heel waarskynlik het jy jou eie plek van verwondering. Dalk iewers op ‘n rots by die see terwyl die son ondergaan, of die kranse van die Sederberge om jou rooi verf.

Maar daar is een ding wat hierdie digter verstom. En dis dat hierdie wonder van God se skepping vir almal is. Dis nie ‘n geslote boek vir almal behalwe die spesiaal ingewydes nie. Dis daar vir enigiemand om te geniet. Vir die professor en die kindjie.

Die fisikaprofessor is dalk rasend opgewonde oor die een of ander nuwe spesie van sprinkaan wat so pas iewers ontdek is. Of oor die ingewikkelde wonders van klimaatsverskynsels. Hy kan jou dalk net verwys na ‘n ingewikkelde tesis wat pas hieroor geskryf is, wat na alle waarskynlikheid vir jou sal klink of dit in Grieks geskrywe is. Maar aan die ander kant van die skaal kan ‘n klein kindjie die handewerk van God met net soveel verwondering besing. Hom of haar net so verstom aan die delikate wonder van ‘n skoenlappertjie in die tuin. Dalk, sê die Psalmdigter, is dit juis hierdie kleintjies wat dit die beste verstaan. Hulle voel nie verplig om vir elke iets ‘n verklaring te gaan Google nie. Hulle kan hulle net onbevange verwonder daaraan en so die lof besing van die Een wat hierdie magtige werk tot stand gebring het.

Ons moet leer by hulle, sê die Psalmdigter. Want ons hoor dikwels volwasse gelowiges sê hulle sukkel om God raak te sien. Hulle wens so dat Hy Hom op die een of ander manier aan hulle moet openbaar. Die waarheid is dat dit nie sommer vanselfsprekend is dat jy God sal raaksien nie. Dit vra van ons ‘n baie spesifieke instelling om dit reg te kry. Om die spore van God in die skepping raak te sien. Dit vra die instelling van ‘n klein kindjie. Dit maak slim en geleerde mense skaam. In hulle pogings om ingewikkelde verklarings te soek verloor hulle die verwondering oor wie God is en wat Hy gedoen het.

Natuurlik beteken dit nie dat jy nie mag vrae vra nie. Ek raak nogal bietjie opgewerk as mense maak of die kerk probeer om mense te verhinder om vrae te vra – asof ons bang is hulle leer dalk die antwoorde. Jy mag maar Google hoe swaeltjies dit regkry om na hulle nessies terug te keer in die Lente, of hoe die weerpatrone werk. Verwondering en verstaan staan nie teenoor mekaar nie, en verstand en geloof is nie vyande nie. Inteendeel. Hoe meer ek verstaan, hoe groter raak my verwondering.

2. Want geloof begin wanneer jy iets van mens-wees verstaan.

Maar nou kom jy agter in Psalm 8 dat daar iets in die digter gebeur wanneer hy hom so aan die skepping staan en verstom. Wanneer hy voor die wonder van die grootheid van God staan, begin hy self ontdek wie hy self is. Dan val dit hom op hoe klein en onbenullig hy self regtig is – ‘n nietige stofdeeltjie in die grootsheid van die heelal. En so help die grootsheid van God se skepping hom om op sy knieë te kom. Wat is die mens dan? Vra hy homself af. Hierdie mens wat so klein en so nietig is, so bevlek is met sonde en onreg, so dikwels in sy wese boos is, wat is die mens dan, Here, dat U hom sou liefhê? Dat U hom ‘n ereplek in hierdie grootse skepping gegee het, sodat hy dit namens U moet bestuur. Wat is die mens, dat U selfs u Seun gestuur het om Hom te bevry, terwyl hy tog só verdien het om in die verderf op te eindig?

En so ontdek die skrywer iets waarvan ons ook baie graag in die kerk sing. Ons noem dit ”genade onbeskryflik groot”. En dit maak sy verwondering net groter. Want nou gaan dit nie net meer oor die kompleksiteit en wonder van die skepping nie, maar eindeloos meer oor die Skepper self. Oor sy eindelose deernis en liefde vir jou. En dis daar, waar jy jouself leer ken, wat geloof regtig begin en die vrae bietjie opdroog. Dis waar geestelike groei begin – op daardie punt van absolute verwondering...

3. Dis waarskynlik die sentrale tema van die Hervorming.

Dis nogal vanjaar ‘n besonder goeie jaar om daaroor te gesels. Want vanjaar is dit presies 500 jaar gelede wat Maarten Luther die stellings teen die kerkdeur in Witternberg vasgekap het. En so die Hervorming begin het. En nou mag dit dalk vir party van julle slegte nuus wees, want nie almal van ons vind die geskiedenis presies ewe opwindend nie. Maar vanjaar se fees gaan nie eintlik regtig oor die Hervorming nie. 500 jaar is na alles ‘n baie lang tyd. Dit gaan ook nie oor Luther of Calvyn of Zwingli of enigeen van daardie manne nie, so merkwaardig hulle ook al was en hoe wonderlik die Here hulle ook gebruik het.

Dit gaan oor die Woord. Oor die waarhede van die Woord wat die Hervorming weer vir ons ons eie kom maak het. En ons sal nog baie na einde Oktober toe gesels oor die Hervorming en die verskil wat dit kom maak het. Maar dan nie as ‘n geskiedenisles nie, wat dit sou eintlik ons tyd mors. Nee, vanjaar se fees roep ons op om hierdie waarhede uit die Woord opnuut weer ons eie te maak, want die Woord is tydloos. Daarom het Chris alreeds met die afgelope Pinkster gereeld na die Hervorming verwys, en daarom hoop ek dat die opgewondenheid oor die waarheid van die Woord julle nog later al meer gaan begin meesleur. Tot ons einde Oktober met groot dankbaarheid die Here se Naam groot gaan maak met Hervormingsfees.

En nou is een van die heel vernaamste erfenisse van die Hervorming dalk juis dat dit ons geleer het om weer in verwondering voor God te staan. Om stomgeslaan te staan in ons absolute klein-heid voor God, en wie Hy is en wat Hy doen. Met die vraag: “Wat is die mens dan...?” Wie is ek dan, Here... vir soveel genade, onbeskryflik groot, van U te ontvang?

Dis ‘n ontsaglike belangrike punt vir die kerk om op te kom. Want DIS die punt waarvandaan geestelike groei moontlik is.