Matteus 7: 7-12
Datum: 18 Junie 2023 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
- Inleiding. Vandag is dit ’n dag vir die vaders en ons wil aan hulle erkenning gee vir 'n baie belangrike rede. Die kerk se boodskap moet duidelik gehoor word dat vaders 'n uiters belangrike rol speel in die lewe van die gesin, dat hulle nodig is, en God iets van hulle verwag. Pa’s, julle sal 'n onbeskryflike en kragtige impak op julle gesin hê as julle op drie belangrike gebiede fokus in die gesinslewe. Ek is oortuig daarvan dat jul dit wel doen maar kom ons beskou vanoggend dan as hersiening.
- Die rol van ’n pa is om homself aan God te verbind. Dit is lankal waarneembaar dat ons kinders hul siening en verstaan van God van hul vaders kry. Die manier waarop 'n pa sy kind hanteer, met sy kind praat en sy kind dissiplineer, speel 'n groot rol in die vorming van daardie kind se verstaan van God. Die rol wat die Here in ‘n vader se lewe speel is duidelik herkenbaar in ‘n kind se menswees. Is jy as pa die geestelike leier in die gesin? Vra God vir leiding.
- Die rol van ’n pa is om homself met sy gesin te verbind. Vaders se rol in die huis is meer as om net die rekeninge te betaal. Ons moet ook help met die versorging van ons kinders. Afwesige pa’s binne die gesin veroorsaak verwoestende skade aan ons kinders. Ons kan nie stry teen die statistieke van wanaangepaste kinders as gevolg van afwesige pa’s in die huisgesin nie. Daarom is dit krities dat pa’s hulself tot die gesin sal verbind. Soek na oplossings en maak van die gesin in veilige plek.
- Die rol van ’n pa is om homself en sy gesin aan die kerk te verbind. Die primêre rol van die kerk (gemeente) is om 'n kanaal van God se genade in hierdie wêreld te wees en ‘n pa behoort dit aan sy kinders te modelleer. Een van die grootste geskenke wat ‘n pa aan sy kind kan gee is om sy kind deel te maak van ‘n meelewende gemeente. Hoekom sal ons klippe uitdeel aan ons kinders as daar vis beskikbaar is? Klop aan by ‘n gemeente waar jy as ouer saam met jou kind ‘n geestelike tuiste het.