Johannes 20:19-31
Datum: 8 April 2018
Prediker: Hannes Burger
In watter dissipel sien jy jouself raak?
Die dissipels was almal doodgewone ouens. Mense net soos ek en jy. Hulle was almal unieke indiwidue, elkeen met sy eie sterk punte, en elkeen van hulle het by tye erge flaters gemaak – weereens, net soos ons. Daarom kan ons nie anders as om ons met hulle te identifiseer nie. Ons verstaan hulle angs as die hoë golwe oor die boot slaan, en ons verstaan dat hulle nie heel eerste aan Jesus dink toe hulle ‘n gedaante oor die see aangeloop sien kom nie. Ek vrees dit kon baie maklik met my ook gebeur het – ek is hoeka so bang vir die see.
Maar nou sit ek die afgelope week in ‘n vergadering hier by Kuilsrivier-Suid in een van hulle Raadsale, en so tussendeur bekyk ek ‘n skildery teen die muur. Iemand – seker een van hulle lidmate – het twaalf mense geskilder in moderne klere wat wyn en brood sit eet om ‘n tafel. Jy kan maar sê, so byna ‘n Laaste Avondmaal-tipe skildery, behalwe dat almal moderne klere aanhet en Jesus nie fisies daarby ingeskilder is nie. Eintlik kon dit net sowel ek en jy om daardie tafel gewees het. ‘n Baie goeie idee vir ‘n skildery, het ek nogal so by myself gedink.
Maar dit sit my toe aan die wonder: waar pas ek en jy in, in hierdie skildery? Met watter een van die dissipels sou jy jouself kon identifiseer? Sou iemand dalk vanoggend hier wou opstaan en sê: Ek sien myself in die rol van die dinamiese Petrus, wat onbevrees leiding gee, al maak hy som in die proses foute en trap dalk op mense se tone. Of ek is waarskynlik eerder soos die rasionele Lukas, die man wat noukeurig navorsing doen voordat hy ‘n pen op papier sal sit. Of dalk eerder Fillipus, die een wat meer op die agtergrond werk, en tog sien selfs nie-gelowiges kans om hom te nader as hulle Jesus wil ontmoet? So in my stilligheid het ek natuurlik gehoop niemand sou homself graag met Judas Iskariot identifiseer nie....
Maar op die ou end wonder ek of die meeste van ons nie dalk eerder onsself in Tomas sal raaksien nie. Tomas, die een vir wie die geloof nie sommer net altyd so vanself gekom het nie. Tomas - die een met die vrae. Jy weet, toe ons kinders was, sou iemand dit nogal moeilik in die kerk erken het. Ons wou nie ongelowge Tomasse wees nie, want ons het so half die idee gehad dat Christene nooit twyfel nie. Dat jou geloof soos ‘n rots is, onwankelbaar vas al bars watter storm ook om jou kop los. Dat wat ook al gebeur, ‘n ware gelowige nie vrae vra nie. Dat hy of sy net aanvaar en glo.
Vandag weet ons: dis nie hoe dit werk nie. Want twyfel is die keersy van geloof. Hulle gaan hand aan hand. Twyfelvrae is onlosmaaklik deel van ons lewe. Dis soos Paulus in daardie bekende hoofstuk van hom skrywe: dat ons nog dikwels in ‘n dowwe spieël kyk, en ‘n raaiselagtige beeld sien. Ons bekyk die lewe en verstaan nie regtig nie. En al meer mense erken ruiterlik dat hulle by tye ernstig wonder. Dis waarom ons vir Tomas so goed verstaan, as hy reguit sê: As ek nie gesien het nie, sal ek nooit geglo kry nie. Ek wens so ek het hierdie rotsvaste geloof gehad, wat niks ooit kan skud nie, maar ek vrees dis nie waar nie. My geloof lyk dikwels eerder soos ‘n plantjie in die pastorietuin na hierdie droogte. Dit lewe darem nog soort van maar dis omtrent al. Van kragdadige lewenskrag is daar min sprake. Laat ek eerlik wees: dit sukkel maar meeste van die tyd.
Weet jy, ek dink dis presies hoekom die verhaal van Tomas in die Bybel staan. Dis vir ons, sodat ek en jy kan weet dat twyfel nie die einde van die wêreld is nie. Maar sodat ons ook sal weet wat maak ‘n gelowige met sy twyfel. Want dis wat ons hieruit moet leer.
- Wat is Jesus se reaksie op Tomas se twyfel?
En dan is die eerste ding wat ek wil hê jy moet raaksien in Johannes 20: Wat was Jesus se reaksie op Tomas se twyfel? En dan moet ek sommer dadelik sê: Gelukkig gaan Johannes 20 nie oor Tomas en sy twyfel nie! Dit gaan oor Jesus. Dit laat die kollig helder en duidelik op Jesus val, en hoe Hy die situasie hanteer. Want twyfel spreek nie die laaste woord in ons lewe nie. En daarom moet jy mooi hierin oplet wat maak Jesus hier met Tomas se twyfel.
En dan moet jy asseblief mooi raaksien dat Jesus nie vir Tomas verwerp oor sy twyfel nie. Jesus skors hom nie summier as dissipel omdat hy vrae het, en nie weet wat om daarmee te maak nie. Jesus kom sê nie hier vir ons dat sy volgeling nooit vrae mag hê nie. Inteendeel! Wanneer die Prins van Vrede daar in die bovertrek verskyn sê Hy vir hulle almal: "Vrede vir julle!" – ook vir Tomas. Want Jesus het die pad van die kruis geloop en opgestaan sodat ons kan lewe, en sodat ons ook die pad saam met Hom kan loop – nie net die wat sterk staan in die geloof nie, maar juis ook vir die die weifelendes, die onsekeres. Dis nie die gesondes wat die dokter nodig het nie, het Jesus eenmaal gesê. Dis die siekes. Jesus het nie mens geword vir die wat sterk staan in hulle geloof, en dink hulle het Hom nie eintlik nodig nie. Inteendeel! Hy is die Verlosser van die swakkes, die weifelendes, die onsekeres.
Kyk maar met hoeveel deernis hanteer Hy vir Tomas hier. Hy skel hom nie uit en raas onmiddelik, praat hom in sterk taal aan oor sy twyfel nie. Hy nooi hom nader. Kom hier, Tomas. Kom hier, want hier naby aan My, sal jy wéét dat Ek lewe. Dat Ek opgestaan en die dood oorwin het. As jy daar ver staan, buitekant die kring, gaan jy vir seker wonder. Maar hier naby aan My hoef jy nie meer te wonder nie. Moenie meer twyfel nie. Glo net.
Natuurlik IS twyfel inderdaad sonde – twyfel is immers niks anders as ‘n stuk ongeloof nie. Dis eintlik ‘n mosie van wantroue in die Here, wat gesê het dat ons Hom net onvoorwaardelik in alles moet vertrou. Maar dis verskriklik belangrik dat jy in hierdie verhaal raaksien dat Jesus ons nie afskryf as ons twyfel nie....
- Jesus verwag egter nie van Tomas om in sy twyfel vas te steek nie.
Maar dis net punt een. Want dan maak Johannes 20 ook net so duidelik dat Jesus nie wil hê ons moet maar verlief neem met twyfel in ons lewe, en daarmee moet vrede maak asof ons niks daaraan kan doen nie. Want as ons sê dat twyfel sonde is, sê ons juis ook daarmee dat ons nie daarmee vrede kan maak nie. Na alles lê twyfel jou lam. Dit maak dat jy niks geestelik kan groei nie, en dit beroof jou van die vrede en die blydskap wat die Here eintlik deur sy Gees vir jou wil gee.
Dis daarom dat Jesus hier reguit sê, nie net vir Tomas nie, maar ook vir die res van sy volgelinge: "Moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” Maak vandag die keuse teen twyfel. Jy moet baie mooi verstaan dat twyfel ‘n keuse is. Jy hóéf nie te twyfel nie. Jy kan kies vir geloof en vertroue, kies téén twyfel.
- Wat is die oplossing vir twyfel?
Dalk wonder jy maar so half daaroor ook. Want dit voel so half vir ons asof twyfel nie iets is waaraan jy iets kan doen nie. Dis na alles nie iets waarvoor jy ooit gevra het nie. Dit kom maar so half oor jou, en jy is magteloos daarteenoor. Dalk voel jy regtig ook soos Tomas: "As ek nie sien nie, sal ek nooit kan glo nie." En ek sukkel om te sien. Ek lees die koerantopskrifte en ek sukkel om te sien dat Jesus in beheer is, en dat Hy die magte van die duisternis verslaan het. Ek sukkel om te sien dat Hy alles kom herstel het aan die kruis, as alles rondom my so stukkend is. En ek ervaar so min daarvan dat Hy my naby aan God gebring het, as God so dikwels vir my ver voel.
Die sleutel lê baie duidelik hier in Johannes 20. Want in hierdie verhaal hoor ons Jesus sê: So lank jy ver bly staan, ver van God af, sal jy nooit sien nie. Dis om die waarheid te sê, ‘n onfeilbare resep vir twyfel! En as jy voel die twyfelvrae begin jou lamlê, en jy weet nie watter kant toe nie, is dit juis die tyd waarin jy jouself onvoorwaardelik in vertroue moet werp op God, en vir Hom sê: Here, ek verstaan nie die goed nie. Maar ek glo en ek weet dat U my liefhet, en dat ek by U veilig is. En selfs al verstaan ek NIKS nie, wil ek nog altyd by U wees. Want U is my Vader.
Dis waarom ek sê: Twyfel is ‘n keuse. Nie omdat jy dit sommer een dag net gaan reg kry om op te hou twyfel nie, want dit gaan jy nooit regkry nie, maar omdat die Heilige Gees juis hiervoor verantwoordelikheid neem. Hy werk die sekerheid in ons, as ons Hom net kans gee. As ons net naby genoeg aan God lewe... Want geloof is nie om al die antwoorde te hê nie, maar soos ‘n kindjie te vertrou
AMEN