Jesaja 61

Datum: 14 Desember 2025 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

Die jongste video preek sal eers na 18h55 op die MAANDAG na die diens as ‘n video  beskikbaar wees by hierdie skakel as gevolg van probleme met ons stroom.

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Inleiding

Advent is die seisoen van afwagting. Ons wag op lig in ’n donker wêreld, op vrede in ’n tyd vol spanning, op hoop wanneer mense moedeloos raak. En vandag, op hierdie Advent-Sondag, fokus ons op vreugde. Maar in ’n wêreld soos ons s’n kan dit amper naïef klink: “Wees bly!” Jesaja 61 leer ons van ’n ander soort vreugde – ’n vreugde wat nie in omstandighede vassteek nie, maar in God se reddende werk.

 

Geluk en vreugde: Wat is die verskil? Ons gebruik dikwels die woorde asof hulle sinoniem is, maar die Bybel wys ’n belangrike verskil. Geluk is gewoonlik gebou op wat met my gebeur. Dit is weer-afhanklik, mense-afhanklik, gebeurtenis-afhanklik. Geluk kom wanneer dinge reg loop

 

Maar vreugde—Bybelse vreugde—is iets dieper. Dit is God-afhanklik. Dit borrel op van binne, nie van buite nie. Vreugde is nie die afwesigheid van swaarkry nie, maar die teenwoordigheid van God te midde van dit alles. Jesaja 61 wys vir ons hoekom hierdie soort vreugde so anders, so stewig, so hemels is.

 

Jesaja 61 begin met hierdie bekende woorde:

“Die Gees van die Here my God is op My, omdat die Here My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die armes…”

 

Dis belangrik om te sien: Vreugde kom nie uit onsself nie. Dit word gebring.Dit arriveer.Dit is ’n geskenk van die Messias. Die een wat Jesaja hier beskryf, is Jesus self. In Lukas 4 staan Jesus in die sinagoge, lees presies dié woorde en sê: “Vandag is hierdie Skrifgedeelte vervul.” Jesus bring vreugde omdat Hy bring wat geen mens kan gee nie: Herstel vir gebrokenes, Bevryding vir gevangenes, Lig vir dié wat in duisternis sit, Troos vir dié wat treur.

 

Jesaja help ons dan om die volgende oor vreugde te verstaan. Vreugde vir die bedroefdes beteken dat God ons laste ruil: Hy gee sierkrans in plaas van as, vreugde-olie in plaas van rou, en ’n kleed van lof in plaas van ’n verslae gees. Hy verander nie altyd die omstandighede onmiddellik nie, maar Hy verander die mens binne die omstandighede.

 

Hierdie vreugde is ’n geestelike krag wat ons hoop gee en ons staande hou in storms. God se volk sal soos bome van geregtigheid / “terebinte van geregtigheid” wees—gewortel, sterk, en vol diep vreugde, selfs deur moeilike tye.

 

Advent nooi ons uit om aktief te wag en in Christus se vreugde te leef: ons bring ons laste, Hy bring lof; ons bring rou, Hy bring vreugde. Geluk is tydelik, maar vreugde is ’n belofte van God: die Here is naby, Hy kom, en Hy maak nuut