Romeine 4 en 5

Datum: 3 September 2017

Prediker: Hannes Burger

Hy was ‘n harde man. Jy het nie destyds sommer net die hoofbewaarder van ‘n Romeinse tronk oor jou sagte hart geword nie. Nee, hy het nie die woord genade geken nie. Toe hulle die twee moeilikheidmakers inbring, het hy nie eens twee keer gedink nie, maar hulle wreed mishandel. Hy het hulle baie geslaan, sê Handelinge 16. Al het hy baie goed geweet hulle is nie regtig kriminele nie. En net om seker te maak dat daar niks verder nonsens is nie, het hy hulle in die heel binneste sel van die tronk gegooi, en hulle vasgeboei met hulle voete in die swaar houtblokke. En toe gaan lê om te slaap en niks verder aan hulle gedink nie. Want hy was ‘n harde, genadelose man...

Maar die ou wat net na middernag op sy knieë voor Paulus staan, is ‘n totaal ander man. Daardie nag het daar in sy tronk iets gebeur wat eindeloos groter is as hy. Hy wat nie eers vir God ken nie en nog nooit oor Hom gedink het nie, is gekonfronteer deur die Almagtige. En vir die eerste keer in sy lewe is hy vreesbevange. Hy bewe soos ‘n riet. Hy is broos as hy met ‘n bewende stem vir Paulus vra: Wat moet ek doen...?

Dis heel waarskynlik die belangrikste vraag wat enige mens kan vra: Wat moet ek doen om gered te word? Want hierdie vraag beïnvloed nie net jou môres en jou oormôres nie. Dis vir ewig. Dis ‘n vraag wat elke keer opklink as ‘n mens besef hy kan homself nie red nie. Ons is sondig en kan nie voor God verskyn nie. Selfs ons beste dade is nie goed genoeg nie. Dit kan ons vrede en ons lewe nie verseker nie. Wat moet ons doen om gered te word?

Natuurlik verwoord hy dit soos die mense van sy tyd. Hy was seker daar moes iets wees wat hy vir God kan doen, wat God positief oor hom sal maak en sal maak dat God hom sal red.  En wát God ook al in daardie oomblik vra, sou hy bereid wees om te doen, want hy het daardie nag vir God in aksie gesien en dit het hom vreesbevange gemaak.

Maar Paulus se antwoord verras hom. Glo net, sê Paulus onder leiding van die Gees vir hom. Dis net só skokkend eenvoudig: “Glo en jy sal gered word”.

  1. Ons maak godsdiens dikwels so kompleks.

Selfs ons wat glo, maak soms of Christenskap so ‘n verskriklik ingewikkelde saak is. Luister maar na ons. Jy sal dink ‘n mens moet duisende dinge doen voor jy in God se goeie boekies kom. Geen wonder niemand wat na ons luister en na ons kyk, sien enigsins daarvoor kans nie! Dis ‘n mag der menigde van reëltjies, en elke kerk sit nog sy eie reëls by. Dit klink soms of die soort Christenskap wat ons uitdra, selfs nog meer reëls het as wat selfs die Fariseërs kon droom om te hê!

Reëlreg daarteenoor staan Paulus se antwoord vir die tronkbewaarder van Filippi. Dank die Here, dat die Gees Paulus lei om so ‘n eenvoudige antwoord te gee, sodat ons dit ook vanoggend kan hoor. “Glo net...” En presies hierdie selfde argument volg Paulus ook in Romeine 4. Dit staan hier uit soos ‘n vuurtoring in die donker. Dis NIE ingewikkeld om ‘n kind van die Here te wees en hemel toe te gaan nie. Dis eintlik ontsaglik verskriklik eenvoudig...

Want, sê Paulus, alles wat daarvoor nodig was is immers klaar gedoen! Die prys is betaal. God se Seun het alles gedoen. Hy het op Golgota die volle prys vir jou aan die kruis betaal. Jy hoef niks maar NIKS daar by te voeg nie. Hoor jy dit? Niks nie. Al wat God van jou vra, is net om te glo...

  1. Maar wat is geloof?

En nou het ons mos twee weke gelede al ‘n bietjie hieroor gesels toe ons oor verlossing uit genade alleen gepraat het. Die Sola gratia van die Hervorming. Maar dis dalk goed om weer ‘n oomblik hierby stil te staan, siende dat dit die één ding is wat God van ons vra om hemel toe te gaan. Wat is hierdie geloof, waardeur ek en jy gered kan word?

Laat ek maar weer my leermeester by die kweekskool, prof Flip Theron aanhaal: “Geloof is nie iets wat jy doen nie, dis om op te hou iets te probeer doen om gered te word”. Twee weke gelede het ons al vir mekaar gesê: Geloof is leë hande voor God. Geloof is net te ontvang. Jesus noem dit die geloof van ‘n kindjie... Ongekompliseerd en onvoorwaardelik. Sonder waarborge en sonder eise. Net vertroue. Jy hoef nie eers alles te verstaan nie. Jy hoef nie eers die hele Bybel uit jou kop te ken of duisende reëls te gehoorsaam nie. Jy kan net sê: Here ek glo... Soos die veroordeelde moordenaar aan die kruis sê: Dink aan my.

Steeds by prof Theron. Ek het al sy beeld oor geloof met julle gedeel. Hy sê dis soos ‘n swemmer wat in die see in die moeilikheid kom. As die lewensredder by jou opdaag, wil jy met alle mag skop en spartel, om hom te help om jou te red.

Maar jy moenie! Jy moet juis rustig raak, al is dit hoe moeilik, en alles net aan hom oorlaat. Dat hy jou red. En dis geloof. Hou op spartel. En laat God jou red...

  1. Maar natuurlik stop dit nie daar nie.

Maar natuurlik stop dit nie daar nie. Want daar staan ook ‘n ander vers in die Bybel wat net so ‘n enorme invloed op Luther gehad het. Die Gees het hom na Hebreërs 10:38 gelei. Daar staan in die 1953-vertaling: “Die regverdige sal uit die geloof lewe”. Daar het Luther sy slagspreuk “Sola Fidei” gelei. Dis alles net uit geloof, en nie uit werke nie. Maar as jy baie fyn kyk, merk jy uit die Griekse werkwoord dat die Hebreërskrywer hier praat oor ons verlossing, slegs uit geloof. Maar jy kan dit ook anders verstaan, en ek vermoed hy skryf dit doelbewus dubbelsinnig. Want dit gaan oor meer as ‘n eenmalige geleentheid. Dit gaan ook oor ‘n voortgaande pad. Oor die res van lewe.

Hy wat deur God vrygespreek is omdat hy glo (want dis wat “regverdige” beteken) se lewe sal bepaal word, sal staan onder die teken van die geloof. Dieselfde kinderlike afhanklikheid wat die oomblik kenmerk wat jy bewende voor God neerval om gered te word, bepaal ook die res van jou lewe. Die regverdige ontvang nie net die lewe deur die geloof nie, Hy lewe dan deur die geloof. Elke oomblik verder.

Jy noem mos jouself ‘n regverdige (of miskien maak die woord jou ‘n klein bietjie ongemaklik – dan noem jy jouself dalk eerder ‘n geredde; of ‘n kind van die Here of ‘n Christen). En die wonderlik dat jy dit mag doen, want dis net genade! Maar nou is die groot vraag: lewe jy deur die geloof? Lewe jy elke oomblik in totale geloofsafhanklikheid, soos ‘n kindjie, of het jy selfversorgend geword? Kan jy self jou besluite neem, self jou reaksies bepaal? Laat jy jou deur God lei, jou lewe deur die Gees beheer, sodat jy sy getuie kan wees? Lewe jy deur die geloof?

Baie jare terug het jy ook hier voor die doopvont gedraai. Dit het dalk nie ‘n blywende merk op jou voorkop gemaak nie, maar het dit wel ‘n blywende merk op jou lewe gelaat? Lewe jy soos iemand na wie God uitgereik het voordat hy kon kies, kon vra? Lewe jy soos iemand aan wie baie genade bewys is? Lewe jy uit die geloof?

AMEN