Romeine 3:21-28
Datum: 12 Augustus 2018
Prediker: Hannes Burger
Die Jode vier in die maand Augustus ‘n dag wat vir hulle verskriklik belangrik is. Hulle vier dit tot vandag toe nog. Maar in die tyd van die Bybel, toe Dawid se manjifieke tempel nog op Sionsberg gestaan het, was dit onteenseglik die hoogtepunt van hulle jaar. Jy sien, dit was die een enkele dag van die jaar wat die Hoëpriester namens voor God kon gaan staan. Net op hierdie enkele dag mag die Hoëpriester daar ingegaan het in God se direkte teenwoordigheid. En daar kon hy ‘n offer bring vir die volk se sonde. Natuurlik kon hy dit ook nie sommer maar net doen nie. Hy moes eers homself reinig en offers vir sy eie sonde bring, voordat hy kon waag om voor God te verskyn.
Daardie vertrek van die tempel het as die allerheiligste bekend gestaan. Dis afgesluit van die res van die tempel deur die voorhangsel, ‘n swaar gordyn wat gemaak het dat niemand ooit daar kon inkyk nie, en daar binne het die simbole van God se teenwoordigheid gestaan: veral die ark, ‘n houtkis met ‘n goue deksel, wat ‘n belangrike rol gespeel het in die offerproses op daardie dag,
Hierdie een enkele dag van die jaar, het die Jood indirekte toegang tot God gehad. En dit was die hoogtepunt van hulle hele jaar. Dit was die Groot Versoendag, of Yom Kippur, soos hulle dit noem, die dag wat die Jode vanjaar weer op die 26e Augustus vier. Ek sou julle baie lank kon verveel met al die voorskrifte wat die Here vir hierdie baie spesiale geleentheid gegee het. So moes die volk byvoorbeeld die hele week vooraf offers bring en hulleself voorberei vir hierdie geleentheid. Al daardie reëls sal jy in Levitikus kon kry, as julle daarin geïnteresseerd sou wees.
- Die Tragiek van die Yom Kippur
Maar julle sou ook in die brief aan die Hebreërs kon lees van die tragiek van die Groot Versoendag. Want selfs al sou die Jode met alle toewyding hierdie voorskrifte tot op die letter volg, was dit maar net ‘n skaduwee wat vooruit wys. Dis ‘n ritueel wat met rede jaarliks herhaal moes word, omdat dit nie regtig permanente versoening kon bewerk nie. Op die ou end het die groot Versoendag nie regtig beantwoord aan die doel waarvoor God dit gegee het nie.
Jy kan maar sê dat dit eintlik maar bloedweinig verskil gemaak het, behalwe om vorentoe te wys, om die verwagting te skep dat daar iets beter op pad is, wat God in gedagte het vir sy mense.
- Die ander Hoëpriester
Dis waarom God toe ingegryp het. Waarom Paulus hierdie gedeelte wat ons gelees het, kan begin met van die wonderlikste woorde in die hele Nuwe Testament. Met die woorde “Maar nou”. Want God het op een verskriklike dag dit alles verander. En dit was daardie dag toe ons ‘n ander Hoëpriester gekry het. En skielik begin die hele ding van die Groot Versoendag met al sy voorskrifte vir ons meer sin maak.
Want op daardie dag het daar ook Iemand namens ons in die teenwoordigheid van God gaan staan om versoening vir ons sonde te doen. Maar nie in die tempel wat deur mense gebou is nie. Die slag was dit inderdaad in God se teenwoordigheid. Dit was ook nie ‘n gebrekkige, sondige mens wat voor God gaan staan het namens my en jou nie. Hy was die volmaakte Hoëpriester want al is Hy ook versoek net soos ons, het Hy nie toegegee nie. Hy het geen sonde gehad waarvoor Hy eers self moes offer nie. Daarby het hy nie die bloed van ‘n lammetjie by hom gehad nie. Die Seun van God het sy eie kosbare bloed as offer gegee. Hy het sy lewe afgelê vir ons. Natuurlik hoef so ‘n reuse offer nooit herhaal te word nie. Dit het volkome versoening bewerk vir altyd, want dit was die volmaakte offer waarna al die offers van die Ou Testament vooruit gekyk het.
- Die Resultaat van Jesus se offer
En toe gebeur dit. God het hierdie offer onvoorwaardelik aanvaar. As teken daarvan het Hy vir Jesus op die derde dag uit die dood laat opstaan, en Hom die ereplek bo alles in die heelal gegee, aan sy regterhand. En daardie oomblik, in Paulus se woorde uit Romeine 3, “het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree.” Die dag het vir my en jou gebreek. ‘n Nuwe era het begin. Die era van genade was hier, waarin ek en jy vandag nog mag lewe. Nou hoef ek en jy ons nie te bekommer oor hoe ons die ewige lewe sal kan verdien nie, want God gee dit eenvoudig vir elkeen wat glo.
Natuurlik is ons van nature sondaars. Natuurlik sou jy nooit deel kon hê aan die heerlikheid van God nie. Maar nou sê vers 24: “...maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.” Sonder dat hulle dit verdien. Op grond van sy genade.
Ons het ook ‘n Yom Kippur gehad. Ons noem dit net Goeie Vrydag.
En wat is nou anders? sou jy dalk kon wonder. Watter wesentlike verskil het hierdie eintlike Yom Kippur kom maak? Hierdie offer was van so ‘n aard, dat dit die voorhangsel na die allerheiligste weggeskeur het. Jy het nie meer iemand nodig om een maal per jaar namens jou voor God te gaan staan om vir jou in te tree nie. Hierdie offer het die deur na God toe vir jou oopgemaak. Nie net kan jy self nou voor Hom verskyn nie, maar jy kan elke dag in sy teenwoordigheid lewe. Terwyl jou groot Hoëpriester elke oomblik vir jou intree by die Vader!
Kom ons stel ons voor ons het pas Romeine 3 vir die eerste keer in ons lewe gelees – wat dink jy, sou net daarna volg? Waarmee gaan Paulus hierdie allerwonderlikste nuus opvolg? Wat gaan die Here van ons vra, nou dat ons hiervan weet?
Jy kan dit in een enkele woordjie saamvat: Geloof. Dis al wat God vra. Dit is die goue woord van die Nuwe Testament. En as jy dalk vir Paulus sou vra: maar wat bedoel jy daarmee? Hoe wil God hê moet ons glo, dat hierdie wonder ons eie kan raak? Dan gaan Paulus voort en verduidelik hy vir ons: Geloof beteken dat jy ophou om op jouself te roem. Geloof is wanneer jy ophou om in die middelpunt van jou lewe te staan. Geloof is wanneer jy ophou om vir jouself so vreeslik belangrik te wees, en net jouself prysgee. Dat jy ook sterwe aan jouself, om te kan lewe in God se teenwoordigheid.
Geloof beteken inderdaad om te laat gaan. En vir God te sê: Here, ek weet dit wat in Romeine 3 staan, is van my waar. Dat ek op geen manier ooit deel sou kon kry aan u heerlikheid nie, maar sou sink in die moeras van die sonde en die dood. Dankie dat U dit nie wou toelaat nie. Dankie vir die volkome Hoëpriester, wat in hierdie oomblik vir my intree. Dankie dat ek vry mag wees. Geloof is om te bid: Here, leer my asseblief deur u Gees om elke dag in hierdie vryheid te lewe, tot u eer...
Geloof is om op jou beurt jouself, jou hele lewe, as lewende offer aan God te gee...
AMEN