Gal.:5:1-26

Datum: 30 Junie 2019

Prediker: Chris Barnardo

’n Man en sy vrou was besig om te gesels oor daardie sensitiewe saak van: “Wat moet gebeur wanneer een van hulle dalk aan ’n masjien gekoppel gaan word.” Die man het, terwyl hy na die televisie staar, ernstig gesê: “Wanneer ek eendag aan ’n masjien gekoppel is en vloeistof deur buis moet inneem om aan die lewe te bly, wil ek hê dat jy die masjien moet afskakel.

Toe staan sy vrou op en skakel die televisie af en gooi sy bier in die opwasbak uit.

Sommige van ons ken sulke mense. Vanoggend moet ons gesels oor vryheid. Vriende, daar is geen groter geskenk as vryheid nie. Maar dan mag hierdie vryheid nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. Ek praat vanoggend oor politieke vryheid en ons vryheid in Christus Jesus.

In hierdie land word baie gekla oor die slaggate in die paaie, swak dienslewering deur munisipaliteite, alles is baie vinnig besig om tot niet te gaan.

Liewe vriende, ek kan nog ’n slaggat hanteer, ek kan ’n dag sonder elektrisiteit hanteer en meeste van ons het voorsorg getref deur watertenks rondom ons huise aan te bring.

Maar daar is iets wat ek nie kan hanteer nie. Daar is dinge wat my dwars in die krop steek. Dit is wanneer mense hulle vryheid misbruik en slaggate in my lewe laat. Wanneer mense vryheid so vanselfsprekend aanvaar en met hulle moddervoete oor my hart en my lewe loop. Dit is sleg.

En in die kerk gebeur hierdie dinge ook. Dit is sleg wanneer mense so vasklou aan geloofsgewoontes en tradisie wat in die loop van die jare gevorm is, dat die vryheid in Jesus eintlik sekondêr is.

In Paulus se brief aan die Galasiërs skryf hy die volgende: Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.

Vryheid is God se wil vir ons lewens. Die Here wil hê dat jy vry moet wees. In Galasiërs is daar spanning tussen gelowiges. Daar word met moddervoete oor mekaar se harte en lewens geloop en slaggate word agtergelaat wat gaan sukkel om herstel te word. En Paulus is besig om met die gelowiges hieroor te praat. Twee sake wat aangespreek word is:

 

  1. VASGEBIND AAN OORGELEWERDE GELOOFSTRADISIE- EN GEWOONTES
  2. VASGEBIND AAN DIE SONDE

 

  1. VASGEBIND AAN OORGELEWERDE GELOOFSTRADISIE EN GEWOONTES

Sommige Jode wat die Christelike geloof aangeneem het, wou ook nie loskom van hulle Joodse geloof tradisies nie.  Hulle wou die seremoniële wette steeds nakom en onderhou soos wat dit deur Moses oorgelewer was. Inteendeel, hulle wou hierdie geloofsgewoontes op hulle mede gelowiges afdwing. Hulle dring aan op die besnydnis van alle manne as ’n vereiste om deel van die kerk te wees.

Paulus daarenteen wil ’n skoon breek maak. Hy wil hê dat mense moet weet dat Christenskap ’n saak van die hart is en nie uiterlike gebruike nie. Paulus het geweet dat wanneer tradisie en geloofsgewoontes soos ’n kombers oor Christelike liefde en aanvaarding gevou word, dit nie Jesus se goedkeuring wegdra nie. Vriende, dit is die konstante versoeking waarteen Christene moet waak – moenie toelaat dat tradisie en oorgelewerde geloofsgewoontes die liefde van Jesus soos ’n swart kombers toevou nie. Ons moet daarteen waak dat my persoonlike voorkeure veroorsaak dat mede gelowiges ’n ander heenkome gaan soek. Christus wil ons vrymaak hiervan.

  1. VASGEBIND AAN DIE SONDE

Erger as om modderspore en slaggate in mense se lewens agter te laat is om met moddervoete deur die Here se se genade te loop en slaggate daar te veroorsaak.

13Julle, is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. 14Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” 15Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. 16Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.

 

Daar was heidene in die gemeente wat in die spore van Jesus begin leef het. Maar hulle wou ook aan sekere gebruike en gewoontes vasklou. Hierdie gebruike  sondige gewoontes ingesluit wat nie gestrook het met ‘n leefstyl as navolger van Jesus nie. Paulus het besef dat verslawing aan sonde verskriklik is vir die mens. Dit is afbrekend en vernietigend en wurg die lewe uit mense uit. Jesus wil hê dat ons vry moet wees. Maar in die naam van vryheid het ons nie Carte Blanche om verkeerde sondige praktyke na te jaag en te beoefen nie. Dit los ons met skuldgevoelens en nagte se wakker lê. Dit jaag ons heeltyd wil mens oor jou skouer kyk.

 

Vanoggend sit Jesus Sy hand op jou skouer en sê hy ook vir jou: Kom saam met my! Want vriende:

  1. CHRISTUS HET GEKOM OM ONS VRY TE MAAK

Ons kan slawe van geloofstradisie en gewoontes wees. Ons kan slawe wees van die sonde. Maar dit is nie nodig nie. Jesus het gekom om ons vry te maak.

Dus, wat beteken vryheid vir Paulus? Vryheid is ’n lewe in die Gees van Christus. Hy skryf die volgende: 22Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, 23nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.

. 24Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. 25Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

Paulus nooi sy lesers uit na ’n nuwe lewenswyse. ’n Lewenswyse sonder moddervoete en slaggate. Paulus nooi ons uit om ’n nuwe lewe te beleef waarvan die wêreld nie weet nie. ’n Wêreld vol valsheid en integriteitloosheid. ’n Wêreld waarin innerlike waardes nie meer tel nie. Innerlike waardes soos liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

Ek sluit af met ’n storie wat dalk hierdie teks by julle dalk sal laat grondvat.

Die dominee doen huisbesoek by ’n jong gesin en hy bestee baie tyd aan die man en vrou en seuntjie. Hulle het ook ’n hond, ’n Whippet. Of soos ons dit ken, ’n windhond.

Die pa vertel dat hierdie hond afgetree het as ’n resieshond. ’n Wonderlike temperament met kinders. En die dominee gee baie aandag en krap die hond se ore.

Die pa vra toe om gou verskoon  te word. As egpaar is hul roetine om die seuntjie saam in die bed te gaan sit. Toe is dit net die hond en die dominee in die sitkamer. Skielik begin die hond praat: “Hoe lank is dominee al die bediening?”

“Ek tree binnekort af, net soos jy.”

“Ek het nie afgetree nie”: Sê die hond. “Ek het net besluit om op te hou waarmee ek besig was.

Vir jare het ek die haas om die resiesbaan gejaag. Tydens een wedren het ek naby die haas gekom. Net om te sien dat dit nie ’n regte haas is nie. Dit was heeltyd ’n vals haas. Vir al die jare het ek ’n haas gejaag wat “Fake” is. Ek het nie bedank nie, ek het gekies om nie meer vals hase te jaag nie.

Is dit hoe jy dalk voel oor die lewe? Dat jy dat ook dalk ’n vals haas gejaag het in jou lewe? Dit is dalk tyd dat jy jouself iets meer gee in die lewe.

Meer as om soos daardie man voor die televisie te sit en dan te kla oor die swak programme waarna gekyk word. Dit is ’n sinlose gejaag na niks nie. Verslaaf aan dinge wat jou kosbare tyd steel.

Kom ek sê vir jou wat is die sin in die lewe. Liefde vir die Here. Dien die Here in geloof. Wees lief vir jou naaste. Vind betekenisvolle roetes waar jy ander mense kan dien. Net dit. Dit is die sin in die lewe. ’n Baie eenvoudige formule waardeur jy jouself sal verryk. Dalk, net dalk vir die eerste keer in jou lewe moet jy hierdie geloofsprong maak en jy sal verseker ware vryheid ontdek.

AMEN