Jesaja 7:1-14 en Matteus 1:23
Datum: 29 November 2020 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”
INLEIDING
Voor verlede Vrydag ontvang ek ’n stemboodskap van ’n persoon waarvan ek amper al vergeet het: “Sterke vir julle. Ons vertrou dat die Man daarbo, julle Brackenfellers sal kalm hou en beskerm.”
Ja, gebeure rondom Brackenfell Hoërskool het ons op die kuber-wêreldkaart geplaas. Ons woon ’n hanetree van die Hoërskool af en ons kinders was die pas afgelope week baie besorg oor my en Carina se veiligheid. Verlede Vrydag het ons kinders ons oorval met selfoon boodskappe: “Sluit die deure, Maak al die vensters en gordyne toe en moenie die deure vir onbekendes oopmaak nie”.
Maar Vrydagoggend was ek daar gewees, in die personeelkamer, nie om arms te swaai of arm te druk nie. Ek was daar om te omarm. Om die onderwysers van Brackenfell Hoërskool met die Woord van die Here te bedien. Ek was daar om vir toegewyde hardwerkende manne en vroue, mense wat net die belange van die kinders dien, te vertel dat hulle moet bedaar, dat hulle moet kalm bly, dat hulle nie bang moet wees en hulle ontstel oor wat besig was om buite die heinings van die skool gebeur nie.
En terwyl ek van die Hoërskool af terugstap huis toe, nadat ek hulle met die Woord bedien het, dink ek terug aan die woorde op die stemboodskap waarvan ek julle vertel het: “Sterke vir julle. Ons vertrou dat die Man daar bo julle Brackenfellers sal kalm hou en beskerm.”
Vir ’n tweede keer het my nekhare gerys. Ek twyfel geensins oor hierdie persoon se motiewe en besorgdheid nie, MAAR mý Vader staan nie op ’n afstand en kyk na wat gebeur nie. God bly nie iewers daarbo nie. Hy hou ons nie maar net dop van vêraf nie. Hy is Immanuel. God by ons.
- AGAS SE BLAPS
So sê God wanneer Hy belowe dat Hy vir Koning Agas, wat ’n internasionale krisis met sy bure beleef, ’n teken gaan gee. Daardie teken is ’n vrou wat swanger sal word, en ’n seun in die wêreld bring, en sy sal hom Immanuel noem. God by ons. God sê vir Agas. Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor hierdie twee stukke brandhout nie, hulle rook net. Moenie bang wees vir die dreigemente van die Israeliete en Aramese se konings nie.
Maar Agas steur homself nie aan die teken wat God vir hom gee nie. Die eie ek is mos in beheer. Die bedreiging is in sy gesig. Die opmars van Israel en die Arameërs noodsaak Agas om witvoetjie by Assirië te gaan soek. “Help my sodat ons die Israeliete en Arameërs saam kan verslaan.” Goeie genugtig, koning Agas se vrese veroorsaak dat hy God se hulp en sorg van die hand wys. Agas plaas sy vertroue in mense, eerder as in God, die lewende Almagtige Vader. Agas maak benoude spronge om sy eie bas en die van sy volk te red. Agas soek kitsoplossings.
- ONS GELEENTHEID, OF DALK ONS VERLEENTHEID
Laat Agas se optrede ons nie aan onsself dink nie? Soms maak ons ook benoude spronge en probeer ons op eie houtjie die bedreigings in ons lewens hokslaan. Ons wil nie saam met die Here waag nie! Ons is so besig met ons eie pogings om probleme op te los en krisisse te hanteer, dat ons God se belofte wat waar geword het, ignoreer.
Ons vergeet in krisistye en soms ook in goeie tye van die Engel se woorde wanneer hy Jesus se geboorte aankondig in Matteus 1. Ons vergeet dat die dissipels dit eerstehands in Matteus 28 gehoor het toe Jesus op die punt gestaan het om terug te keer na sy Vader se hemelse huis. Ons vergeet toe Jesus vir hulle gesê het: “Ek is by julle al die dae tot aan die einde van die wêreld.”
Kom ons herinner mekaar aan Immanuel, God by ons, en vergeet om vir ’n slag as super planmaker, skynheilig, gevul met ongeloof, die hero van die dag te wees. Ons verkies so maklik ons eie weg bo God se weg. Ons vertrou eerder op ons eie planne en taktiek as op God.
Hierdie gebrokenheid waarin ons leef is die landskap waarin Jesus gekies het om mens te wees. Hier by ons. Immanuel. Hy is teenaan ons. Nader as ons eie klere teen ons lywe, is Hy teenwoordig in ons lewens. Hy voel ons pyn. Hy het ons laste kom dra. Hy het in ons plek presies dit kom betaal wat ons nooit kan betaal nie – al ons skuld by God. Hy is regtig Immanuel.
Luister vir ’n slag wanneer God deur Sy seun Jesus met die krag van die Heilige Gees vir ons fluister: Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie! Moet jou nie ontstel oor die stukke brandhout wat net rook nie.
Kom na my toe. Ek nooi jou oor na ’n ander vuur toe, een wat nie rook nie maar wat goeie hitte afgee. By daardie oorkantste vuur is daar net rook. Daar baklei almal. Daar stry almal oor wie is die meeste benadeel en verneder. By daardie vuur wat net rook, is almal slagoffers. Daar is soveel oop wonde, soveel rou emosies. Kom sit hier. Hier maak die vuur almal warm. Hier is genesing te vind... asook ‘n bietjie vrede, rus en kalmte vir elkeen se gemoed.
By hierdie vuur waar Immanuel sit, sit mense graag hulle seerkry aan sy voete neer. Hier leer hulle om deur die Here se genadige oë na mekaar te kyk, en om met mekaar te praat as regte mense… as kosbare mense! Hier is niemand slagoffers nie. Of wenners ten koste van ander nie. Hier is almal begenadigdes. Hulle eie pyn en seerkry word deur die kruis getemper. Hier leer almal om Immanuel se verhaal bo-oor hulle eie lewensverhale te skryf en om dit oor te vertel en uit te leef. By hierdie vuur is daar warmte en veiligheid en kalmte, die Here s’n. Kom sit asseblief hier. Dit is wat Advent vir my beteken. Die dankbare op pad wees na Kersfees.
- SLOT
Advent roep ons daartoe om na te dink oor Immanuel. Hy is die Heilige wat by sy mense wil woon, wat die hele wêreld sy tempel wil maak. Hy is nog onderweg na die wederkoms wanneer Hy alles in almal sal wees en ons is hierby ingesluit. Dit roep ons tot volle oorgawe en volle toewyding aan die God, ons God, wat aan ons sy onuitspreeklike gawe skenk. Die vreugde oor hierdie wondergawe moet ons herinner aan die miljoene wat nog by die stukke rokende brandhout sit, wat nog nie die geheim van Immanuel, God met ons, leer ken het nie.
AMEN