Johannes 16:12-15
Datum: 16 Junie 2019 (Oggenddiens)
Prediker: Chris Barnardo
WAT IS DIE WAARHEID? – Feesdiens Musiek en Prediking
PREDIKING
Die wintervakansie het aangebreek en die studente en skoliere kan nie wag om vir ’n slag rustig te word nie. Maar terwyl die studente en skoliere vir die volgende paar weke rustig gaan word, gaan ons as volwassenes voort met die daagliks verantwoordelikhede en eise wat aan ons gestel word.
Ons leef in ’n ander wêreld. ’n Wêreld waarin die Reserwebank se pilare onder hom uitgeruk wil word met sekere politici wat eintlik gemuilband behoort te word. ’n Bruto Binnelandse Produk wat bydra tot groot onsekerheid oor ons ekonomie. Konflik in ons land is op ’n menspunt. Woede en haat is aan die orde van die dag.
Iets wat ek hieruit geleer het terwyl ek al die media platvorms dophou, is dat elkeen van ons, ons eie weergawe van die waarheid in ons ronddra. Wie is nou reg, en wie is verkeerd? Hoe maak ek ’n keuse tussen al hierdie sogenaamde waarhede waarvan ek bewus is?
Vriende, kom ons wees nou eerlik met mekaar vanoggend: Wie kan ek glo, praat die waarheid? Almal probeer ons lei of dalk mislei sodat ons hulle weergawe van die waarheid kan glo.
Die waarheid. Wat is die waarheid? Pontius Pilatus het sy vrou gevra wat die waarheid is. Dit is ’n vraag wat almal wat die regte dinge in die lewe wil doen, bloots ry. Almal wat stoei met die kompleksiteit van die lewe sukkel met hierdie vraag: Wat is die Waarheid?
Die vraag is natuurlik: Hoe bly jy as volgeling van Jesus staande, midde in ‘n omgewing vol van die fopnuus en halwe waarhede waarmee ons gebombardeer word? Selfs in die kerk moet ons onderskei tussen waarheid en onwaarhede.
Vriende dit dra by tot die feit dat ek baie vir my afvra: Wat is die verskuilde agenda? Watter waarheid word weerhou van my? En dit skep wantroue.
Gelukkig kom Jesus se woorde vanoggend en gee aan my die vrede wanneer HY vir sy dissipels sê: “13Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei.” Die hele waarheid en nie ‘n halwe waarheid nie.
Die Gees stuur my, gee vir my rigting, oppad na die waarheid.
- Hoe vind ons die Waarheid?
DIE Gees wys en lei ons na die waarheid. Jesus sê: Deur die Gees vind ons die Waarheid. Die Gees is die wysvinger na die Waarheid. Die Gees lei ons na die Volle Waarheid.
Wanneer ons na hierdie bottel vol jellylekkers kyk en ek vra dat julle moet raai hoeveel jellylekkers hierin is, gaan ons verskillende antwoorde kry. Maar daar is net een korrekte antwoord. Ek het die lekkers getel en daar is 197 lekkers in die bottel.
Wanneer ek vra dat elkeen van ons vanoggend ons gunsteling liedjie se naam op ’n stukkie papier moet neerskryf sal daar ook verskillende name van liedjies neergeskryf word. Maar daar is net een korrekte antwoord. Reg? Verkeerd!
Want elkeen van ons het ’n bepaalde voorkeur en dus kan daar nie een korrekte antwoord wees nie. Dit is suiwer ’n geval van smaak en voorkeur.
Vriende, wanneer ons ’n besluit kragtens geloof moet maak kies mense oorwegend volgens hulle persoonlike smaak. Soos om jou gunsteling liedjie te kies. Kom ek gee voorbeelde.
Orrel of orkes.
Vinnig of treurige lofprysing en aanbidding
Hande in die lug, of nie.
Die volledige liturgie of net die preek.
Motbolle
As dit die wyse is waarvolgens ek voorkeure in my geloof maak en keuses uitoefen is daar groot fout in die kerk. Geloof gaan nie oor persoonlike voorkeur nie.
Geloof is seker. Geloof is nie ’n geval van persoonlike opinie nie. Geloof is nie vaag nie. Geloof is nie of jy tydens jou doop besprinkel of onderdompel is nie. Waaroor dit gaan is of jy as volgeling in die voetspore van Jesus loop.
Geloof is presies hoeveel jellylekkers in die pot is.
Kom ek vertel jou presies hoeveel jellylekkers in hierdie geloof-potjie is.
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.
En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees,
gebore is uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus,
gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;
wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;
wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.
Ek glo in die Heilige Gees.
Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die vlees
en ’n ewige lewe. AMEN
Dit is hoeveel Jellylekkers in hierdie potjie is.
II Hoe reageer ons op die Waarheid?
Vriende die Gees van die Waarheid maak jou vry. Ons sê dit vir ons kinders. Dit is een van die belangrikste dinge wat Jesus mense leer. Maar daar is ’n probleem. Wanneer jy die Waarheid gevind het, moet jy dáárby staan. Dis nie genoeg om die waarheid te ken nie. Jy moet op die Waarheid reageer.
Wanneer ons op ander terreine in die lewe gekonfronteer word, weet ons wat die regte ding is om te doen. Die vraag is: Sal ons reageer, sal ons oorgaan tot aksie as ons weet wat die waarheid is?
Daar is drie probleme met die waarheid. Eerstens moet ons dit vind. Tweedens is om daarop te reageer. En derdens is om daaroor te praat.
‘’n Professor in Fisika was gevra om sy kundige kennis tydens ’n hofsaak te gee. Tydens kruisondervraging het die prokureur aan hom die volgende vraag gevra: Wat is, is jou kwalifikasies as ’n kundige getuie in hierdie saak?
Gewoonlik ’n nederige mens tussen vriende, het die professor saggies geantwoord: Ek is die grootste lewende kundige op hierdie gebied waarin julle my kruisonderva. Later het ’n vriend van die professor verbaas aan hom gevra hoekom hy so vol van homself was.
Dit was nie eie aan die professor se manier van lewe nie. Die professor het geantwoord. Wat het jy van my verwag om te doen, ek was onder eed.!
Die kerk moet die Waarheid praat soos hierdie Professor. Ons is nie draers van ’n halwe waarheid of ’n mate van die Waarheid nie. Ons as volgelinge is die draers van die Hele Waarheid. Jesus is nie ’n weg na God toe nie.
Jesus is die enigste Weg na God.
Jesus is nie, soos ’n ander geloof wat verklaar dat Hy ’n profeet is nie.
Ons Vader in die hemel het nie vir Jesus as ’n verteenwoordiger aarde toe gestuur nie. God het SY enigste Seun gestuur.
Dit mag dalk arrogant klink vir mense buite die kerk maar dit is hoe dit is. Niks minder nie. Ons is onder eed! Ons is SY volgelinge en verbind tot dit wat die Gees aan ons harte openbaar en ons is daarom verplig on dit vir die wêreld te vertel.
AMEN