Markus 15:21-34; Psalm 22:1-22

Datum: 10 April 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Hannes Burger

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Alles in sy lewe het verkeerd geloop van die oomblik af wat hy die aand bo van die dak af vir Batseba sien bad het. Dit was of alles net buite beheer spiraal. Voor hy hom kon kry, was Uria dood, en daarna het die bodem uit sy lewe geval. Dit voel soos gister toe alles wonderlik goed eggaan het. Hy was gevestig op die troon en daar was relatiewe vrede in sy koninkryk. Hy het elke dag die seën van God ervaar - hy was as “’n man na God se hart” bekend! En toe daardie één fataal verkeerde besluit, en daarvandaan het alles net verkeerd geloop. Natuurlik het hy goed geweet wat die Here van hom verwag. Maar hy het verkies om dit nie te doen nie. Hy het ‘n buite-egtelike verhouding begin, en toe hulle weer sien was sy swanger. Hy was desperaat. Al waaraan hy kon dink, was om van haar man ontslae te raak. En daar het die chaos in sy huis en sy lewe begin.

 

Eers sterf hulle babatjie na geboorte. Toe verkrag sy seun Amnon sy eie halfsuster, en uit weerwraak vermoor haar ander broer Absalom hom en vlug vir sy lewe. En net toe dit lyk of die stof weer gaan lê, en Absalom is terug by die huis gebeur dít...

 

Toe Dawid weer hoor maak sy eie kind ‘n leër bymekaar en ruk op Jerusalem toe om sy pa te kom onttroon. Sy oogappel, vir wie hy regtig baie lief was. Dit was vir Dawid te veel. Die Bybel vertel vir ons hoe hy huil-huil die Olyfberg uitvlug voor Absalom se leërs, om net ‘n bloedbad in Jerusalem te probeer vermy. Hy is gedaan en gebroke. Dit voel vir hom asof álles nou verkeerd is. Daar is net mooi niks oor van sy gesin, van sy lewe, en van sy gemoedsrus nie.

 

Hy verstaan dit nie. Hy is tog ‘n gelowige. God het vir hom belowe dat Hy altyd daar sal wees vir Dawid, en dat sy nasate vir altyd op die troon sou sit. En wáár was God nou? Hoekom voel God skielik so vêraf, asof die Here hom vergeet het en niks meer vir hom omgee nie? En dis toe wat Dawid hierdie verskriklike gebed bid. Dawid, die gelowige kind van die Here, die man na God se hart, bid uit die stukkendheid van sy hart: My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep? My God, ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie...” My God, my God, waarom het U my verlaat...?

 

Waar is God, as ek so swaar kry? Hoekom help Hy nie? Hoe kan dit wees dat my “Bron van krag” my nou net ignoreer...?

 

  1. Dis die lewenskreet van miljoene...

En ons verstaan. Want ons hoor hierdie selfde kreet klink op die oomblik in die wêreld daarbuite. Met dieselfde desperaatheid, dieselfde implisiete aanklag daaragter. Ons hoor dit deur die eeue weerklink in die Dachaus en die Auswitschse, ons hoor dit in die gange van die groot hospitale, uit tallose begraafplase. Ons hoor die kreet by ‘n magtelose ouer, saam met die seer van die onderdrukte en die magtelose. Hulle wat nie môre en oormôre helder kan sien nie.

My God, my God, wáár is U? Wáárom het U my verlaat...? Waarom laat U toe dat dit met my gebeur, waarmee ek geen raad het nie en nie kan hanteer nie, waarom gee U nie uitkoms nie? Waar is U, as ek U so nodig het? U, Here, moet tog nie so ver bly nie...”

 

  1. Tot op Golgota...

En dan hoor ons eendag, op Golgota, hierdie selfde kreet. Maar dié keer is dit nie iemand wat die chaos op homself gebring het, wat iemand anders se huis opgebreek en hom vermoor het om sy vrou te kry nie. Hierdie keer is dit nie iemand wat ly onder sy eie verkeerde besluite en sonde, soos ek en jy nie. Hierdie keer is dit die Sondelose. Dis die Seun van God self, en wat daar met Hom gebeur, is erger as enigiets wat jy jou kan voorstel.

 

Want al voel dit vir Dawid daar teen die Olyfberg of hy alleen is, en God hom verlaat het, is Dawid nie regtig alleen nie. En dieselfde is waar van elke gelowige wat al ooit in ’n operasiesaal ingestoot is, of by ‘n oop graf gestaan het. Geen gelowige was nog ooit werklik alleen nie. God was daar selfs al het dit so gevoel nie. Maar nie daardie dag aan die kruis nie. Op Goeie Vrydag was Jesus werklik alleen. Van God verlaat, sodat Hy al die straf vir ons sonde kon dra. Daardie storm moes Hy alleen trotseer. As Jesus uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”, is dit regtig so.

 

Op Golgota staan Jesus werklik stokalleen in die duisternis wat ons sonde oor eeue geskep het. Die Godverlatenheid van die hel wat ons moes tref, kom op Hom. Ek en jy kan dit nie eens vir ons begin voorstel nie. En die verskriklikste is wanneer Jesus daardie donker Vrydagmiddag aan die kruis uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat...?”

 

Dit was vir my en jou. In ons plek, sodat dit nooit, ooit met ons kan gebeur nie. Dis die wonder van daardie kreet. As jy dit hoor, kan jy wéét dat God óns nooit so sal verlaat nie. Ja, al voel dit dalk by tye so. Al voel dit party dae net so donker, of God nêrens in sig is nie. Maar jy mag weet dit sal nooit van jou waar wees nie. Want Jesus het dit vir ons gedoen. Vollediglik. Daar kan nooit weer enigiets tussen ons en God inkom nie. “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here...”

 

Nie eens Covid-19 en al sy aaklige nadraaie nie. Want daar was een verskriklike, Goeie Vrydag, toe die stem weerklink het van die kruis af: “My God my God, waarom het U my verlaat...?”

NAGMAALSFORMULIER

Kom ons sluit ons oë in gebed:

 “Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word;

laat u koninkryk kom;

laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.

Gee ons vandag ons daaglikse brood;

en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree;

en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.

Want aan U behoort die koninkryk en die krag, en die heerlikheid, tot in ewigheid

AMEN.

 

Die laaste aand saam met sy dissipels het Jesus die Nagmaal ingestel.  Hy het die brood gebreek en vir hulle gesê: “Dit is my liggaam. Dit is vir júlle. Gebruik dit tot my gedagtenis.” Toe neem Hy die beker wyn en sê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaraan dink, tot my gedagtenis.”

 

Hy het vir ons die nagmaal gegee, sodat ons sal onthou. Onthou dat ons verlore sou gaan, as Hy nie Homself aan die kruis in ons plek gegee het nie. Onsthou dat Hy vir al ons sonde betaal het, sodat daar vrede tussen ons en God sal wees, en sodat ons broers en susters van mekaar kan wees. Dis waaraan die tekens van die Nagmaal ons herinner.

As jy dan nou die broodjies en die slukkie wyn proe, onthou dan dat Hy die volle prys vir ons betaal het. Sodat ek en jy hier kan opstaan, en voluit net vir Hom kan gaan lewe.

 

Jy is welkom by die Nagmaal as jy glo in die Here. Al is jy nie volmaak, maar jy weet dat jy die Here nodig het.

 

Uitdeel van die tekens

Kom ons maak nou seker dat elkeen van ons ‘n stukkie brood en ‘n slukkie wyn of sap het.

 

Instelling van die tekens

“Die brood wat ons breek, is die gemeenskap met die liggaam van ons Here Jesus Christus. Neem dit, eet dit, dink daaraan en glo dat sy liggaam gebreek is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.”

 

 “Die beker van danksegging wat ons met danksegging seën, is die gemeenskap met die bloed van ons Here Jesus Christus. Neem dit, drink dit, dink daaraan en glo dat sy bloed gestort is tot ‘n volkome versoening vir al ons sondes.”

 

Danksegging

“Ek wil die Here loof, met alles wat in my is wil ek sy heilige Naam loof. Ek wil die Here loof en nie een van sy weldade vergeet nie. Dit is Hy wat al my sonde vergewe, wat al my siekte genees, wat my red van die graf en my met liefde en ontferming kroon, wat my die goeie in oorvloed laat geniet, my die jeugdige krag van die arend skenk. Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie. Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie, vergeld ons nie vir ons ongeregtighede nie, want so groot as die afstand tussen hemel en aarde is, so groot is sy liefde vir dié wat Hom dien. So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af. Soos ’n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien.” (Ps. 103)

Die kers word gedoof.