1 Kon 18:20-39 (2020 vertaling)

Datum: 15 Maart 2026 (Oggenddiens)

Prediker: Adriaan Vogel

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Ek is bekommerd oor die wêreld. Nie net oor die verhale van oorlog en korrupsie wat die nuus so gereeld met ons deel nie, maar oor die “louwarm” geloof waarvoor Openbaring 3:16 ons waarsku.

Dit is nie mense ver van ons nie, maar mense wat saam met ons werk, ons vriende en ons familie. Daarom raak ons nie kwaad nie, maar bekommerd en bid dat hulle weer hulle pad sal vind na God.

Hoe moet ons hieroor voel? Wat kan vandag se verhaal ons hieroor leer?

Teksagtergrond

Hierdie week sluit ons aan by ’n volk wat leef in die beloofde land wat God vir hulle gegee het, maar nie meer so toegewyd leef nie. Inteendeel, die afgodsdiens van Baäl en Asjera het begin oorneem danksy Agab en Isebel.

In hierdie tyd heers daar ’n lang droogte oor die land. Die koning is moedeloos en woedend maar daar is geen oplossing nie. Dan stuur God vir Elia na hom om reën aan te kondig. Voordat dit kan gebeur is daar egter ’n paar voorwaardes. Offers moet voorberei word maar die ware God moet dit self aansteek. Wie sal dit wees, God of Baäl?

Teks: 1 Konings 18:20-39

Iets klop nie

In vers 21 daag Elia die volk uit met die woorde: “Hoe lank gaan julle nog op twee krukke hink?” Hulle wil God volg maar eintlik ook hulle brood aan albei kante gebotter hê.

  • Hink mense steeds vandag tussen hulle geloof en hulle gemak?

Die oorverdowende stilte

Die profete van Baäl berei hulle offer voor en wag vir ’n antwoord. Van oggend tot middag roep hulle en raak al hoe meer desperaat. Elia spot selfs met hulle maar niks gebeur nie.

  • Wat doen mense as dit wat vir hulle gemak en betekenis gebring het, nou nie meer werk nie?

Elia bring ’n offer

Elia bly rustig wanneer dit sy beurt is. Hy raak nie paniekerig omdat Baäl nie antwoord nie. Hy herbou eers die altaar. Daarna beveel hy dat water daaroor gegooi moet word sodat daar geen twyfel kan wees nie. Hy gebruik twaalf klippe, soveel soos die seuns van Jakob, om hulle te herinner dat dit dieselfde God is wat nog altyd by hulle was en vandag ook.

 

Die gebed

Elia bid nie ’n indrukwekkende lang gebed nie. Dit is ’n kort eenvoudige gebed wat iets besonders bekend maak. Hierdie hele gebeurtenis was nooit bedoel om Baäl te oorwin nie.

 

Waaroor gaan hierdie verhaal

Oor 'n God wat verdwaalde mense nie verwerp nie, maar bly terugroep.