1 Korintiërs 1:18-31

Datum: 21 Januarie 2018

Prediker: Hannes Burger

Dis iets wat ‘n mens deesdae al meer hoor: Mense wat reguit sê hulle kry nie meer geglo nie. Want sê hulle, daar is net te veel goed wat hulle nie verstaan kry nie. Daar is net te veel goed wat nie vir hulle sin maak nie. Mense was vroeër jare nogal huiwerig om dit hardop te sê, maar nie deesdae meer nie. En sonder dat jy eers regtig ingevra het, begin hulle verduidelik.

Dan begin hulle sommer by Adam en Eva en die skepping, en vra vir jou waar pas die dinosourusse in. Daarna takel hulle vir Noag en Jona en al die oorloë van die Ou Testament. En as hulle daar klaar is, is dit die Nuwe Testament se beurt. Hulle begin by die maagdelike geboorte, en via die kruis en die opstanding, kom hulle op die ou end by die uitverkiesing en die oordeelsdag uit. En as hulle klaar is met die Bybel begin hulle by al die flaters wat die kerk al gemaak het, en ons weet mos dis nie aldag ‘n mooi storie nie. En so eindig hulle by die droogte en die geweld.

Op die ou end kyk hulle jou almal so kopskuddend aan, omdat jy tog so naïef kan wees, en sê: “Ek weet regtig nie hoe kry jy geglo nie – maar ek is jammer. Ek kan dit nie glo nie”. En jy kan sien hulle is seker dis net omdat jy nog nooit besonder diep hieroor gedink, of enige van hierdie vrae gevra nie. Dis dié dat jy nog kan glo.

Hoe lyk jy dan? Ek vrees ek lyk sulke tye nie baie geskok nie. Want ek verstaan. Want jy sien, daar is baie goed wat ek ook nie verstaan nie. Waarop ek ook geen antwoorde het nie, en ek maak nie ‘n geheim daarvan nie. Daar is stukke van die Bybel wat ek ook nie verstaan nie, en vir baie van die goed wat gebeur het ek ook nie antwoorde nie. Vra gerus maar vir die lede van die Senior Bybelstudiegroep. Hulle weet al oor hoe baie goed ek ook maar met ‘n mond vol tande staan.

Maar weet jy, dis nie vir my ‘n groot probleem nie. Inteendeel. Ek wonder soms of ek wel sou kon glo as ek alles verstaan het. As alles vir my sin gemaak het, en ek kon alles glashelder verstaan wat God doen - sou ek Hom dan nog met soveel sprakelose verwondering gedien het? Help hierdie deurmekaar stukkende wêreld waarin ek so min verstaan, my nie juis op ‘n manier om afhanklik van die Here te bly nie, om aan te hou om aan Hom vas te hou en te bly glo nie? Herinner dit my nie elke dag dat ek Hom nodig het nie? Is dit nie eintlik vir my baie goed dat daar so min goed is wat ek regtig verstaan nie?

  1. God het gekies om anders te werk te gaan as die logika van ons wêreld.

Die feit van die saak is dat God Hom nie laat voorskryf deur menslike logika nie. Hy het spesifiek gekies om eerder presies die teenoorgestelde te doen. Toe die Jode sê: “Sien is glo”, doen ‘n wonderwerk dan sal ons glo, het God verkies om te werk soos die mosterdsaad. Ongemerk waar niemand kan sien nie. Of soos suurdeeg wat sy werk doen juis wanneer jy die deeg doodstil uitlos en nie daarmee lol nie. Daarmee het God gesê: Jy gaan nie altyd raaksien nie. Jy is nie geroep tot empiriese geloofseksperimente nie – jy is geroep om te vertrou. Net so ook toe die Grieke gesê het: “Ek kan nie glo wat nie vir my sin maak nie”, baie soos vandag se mense. En as ‘n klein babatjie in ‘n krip nie vir my sin maak, of ‘n Koning aan ‘n kruis nie, kan ek nie glo nie. Vir hulle sê God: Gelukkig het Ek julle mos nie geroep om te verstaan nie. Want julle sal nooit regkry om alles te verstaan nie.

Want God het gekies om ons logika op sy kop om te keer. Min van wat Jesus ons kom leer het, maak sin. Dit maak nie vir ons sin dat die wat eerste is, laaste sal wees, of dat jy moet sterwe aan jouself om regtig te kan lewe nie. Dit maak nie sin dat hoe meer jy soos ‘n kindjie glo, en hoe kleiner jy is, hoe groter dinge kan God deur jou doen nie. Ons verstaan nie genade onbeskryflik groot, die regverdiging van die goddelose nie. Niks daarvan maak sin nie, want dis nie hoe dinge werk nie!

Dis God se logika. Dalk gaan ek dit eendag verstaan. Maar nou maak bloedweinig sin. En dan staan daar nog in vers 21: God het dit so gekies “in sy goedheid”...! Nie om die lewe vir ons so moeilik moontlik te maak, sodat ons moet sukkel om te glo nie. Nie om ons te benadeel nie, maar juis omdat Hy ons ontsaglik liefhet...

  1. Met ander woorde: Jy hoef nie alles te verstaan om gered te word nie.

Jy kan My nie leer ken deur ‘n studie van my te maak nie, sê God. Maar dan weet jy mos darem dat geen verhouding so werk nie. Jy het nie iemand lief omdat jy hom of haar regtig verstaan nie. Want laat ons nou maar eerlik wees - wie van julle verstaan regtig altyd julle lewensmaats? Verhoudings werk nie so nie. Dit begin op heel ‘n ander punt. Op die punt van oorgawe en vertroue. Julle sal My leer ken, sê God, nie deur alles te verstaan nie, maar deur naby aan My te leef, deur My toe te laat om julle te red en deur die pad saam met My te loop. En my almag sal wonders deur jou doen, nie omdat jy so hard saamwerk daaraan of so slim is om te verstaan hoe dit werk nie. God laat sy krag te werk deur hulle wat net glo...

Eintlik het God gekies om ons te red deur die toppunt van onlogika: die kruis van Jesus Christus. Dis die een ding waarvan ons heeltemal niks verstaan nie. Wanneer die Koning van die heelal, die Een aan wie alles behoort omdat alles deur Hom geskape is, soos ‘n slaaf en ‘n misdadiger die hoogste prys betaal vir ons.

As jy by die kruis staan, verstaan jy heeltemal niks. Want hoe verstaan jy soveel liefde, soveel genade onbeskryflik groot in aksie? Dit laat jou brein botstil staan. Veral ook omdat dit alles net vir ons is. Dit alles net sodat ‘n klomp ondankbare rebelle hulleself kinders van God kan noem. Dit maak geen sin nie. En ek weet vir seker dat ek dit ook nooit sal verstaan nie. Ek kon dit net ontvang, gered deur die wysheid van God wat eindeloos groter is as dié van mense, en deur die krag wat dit ontketen, wat eenvoudig geen perke ken nie...

Ek weet dat ek nooit die stukkendheid van ons wêreld sal verstaan nie. Dat ek nie meer antwoorde het vir die droogte, of vir pasiënte in die ICU, of vir bedroefte nasate en mense wat gebrek ly nie. Ek het nie helder antwoorde vir slagoffers van sinnelose geweld nie. Ek verstaan meesal net heeltemal glad nie. Al wat ek verstaan, is dat ons God nodig het. Ons kan geen oomblik sonder Hom lewe nie. Iemand het eenkeer uit ‘n gehoor vir CS Lewis geskreeu: Godsdiens is net ‘n kruk! En toe het hy geantwoord: Ja, en is ons nie almal kreupel nie...

  1. Kyk maar om julle...

Ons het Hom nodig. En Paulus is reg: ons het vir seker niks om op te roem nie. En natuurlik is dit ook nie regtig vir ons lekker nie. Selfs ons kerkmense kry maar moeilik om dit so te aanvaar, en verstaan dit meestal ook glad nie. Ons wil dan almal so graag iets werd wees, iets bydra tot hierdie verhouding. ‘n Teenprestasie lewer. Dis hoe ons logika werk. Maar dis nie hoe God dit gekies het nie. Daar is vir ons geen roem nie.

En dan is die ironie dat Paulus dit sowaar goeie nuus noem! Maar hy noem dit so, want dis presies wat dit is. Want die oomblik wanneer jy dit snap, wanneer jy begryp dat jy nie hoef te verstaan nie, dat alles nie glashelder hoef te wees nie, dis presies die punt waarop jy waarlik vry raak- dis die punt van onvoorwaardelike vertroue. Want dis die essensie van geloof. Geloof is nie onlogies nie. Dis nie irrasioneel nie. Dit gaan net heeltemal glad nie oor verstaan nie. Dit gaan oor oorgawe. Oor vertroue. En wanneer jy dit begryp, en die waansinnige jaagtog na verstaan laat gaan, kom jy vry. Jy hoef nie te verstaan nie. Jy kan dit net geniet dat jy nou God se kind is. Dat jy waarlik vry is...

Want “die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.”

AMEN