Johannes 20:19–23
Datum: 12 April 2026 (Oggenddiens)
Prediker: Johan Janse van Rensburg
“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”
Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar
Ons staan aan die ander kant van Paasfees. Die klip is weggerol. Die graf is leeg. Die woorde “Hy het opgestaan!” weerklink nog in ons ore. Maar nou kom die vraag: Wat nou? Wat beteken dit om ná Paasfees te leef, nie net om dit te vier nie, maar om daarin te leef? Johannes 20 neem ons reg in daardie oomblik in. Agter geslote deure. Die dissipels is nie besig om fees te vier nie. Hulle is bang. Hulle sit vasgevang tussen wat gebeur het en wat dit beteken. Die wêreld buite is nog dieselfde. Die dreiging is nog daar. Die onsekerheid hang swaar in die lug.
Dit is juis waar Jesus opdaag. Deure wat vir mense gesluit is, is nie vir Hom ’n hindernis nie. Dit is die eerste waarheid oor die lewe ná Paasfees: Jesus kom na ons toe waar ons is. Hy wag nie dat die dissipels eers hul vrees oorkom nie. Hy wag nie dat hulle hul geloof regkry nie. Hy kom eenvoudig in. Hy groet hulle met die woorde: “Vrede vir julle.”
Om ná Paasfees te leef, beteken om te leef uit hierdie vrede. ’n Vrede wat nie afhanklik is van omstandighede nie, maar van die teenwoordigheid van die opgestane Here. Dit is ’n vrede wat kom in die chaos, nie nadat die chaos verdwyn het nie. En dan doen Jesus iets merkwaardigs. Hy wys hulle sy hande en sy sy. Die wonde is nog daar.
Dit is die tweede waarheid: Om ná Paasfees te leef, beteken om anders na jou wonde te kyk.
Ons almal dra letsels. Seer van verlies, teleurstelling, sonde, gebrokenheid. Paasfees sê nie dit het nooit gebeur nie. Dit sê: God kan dit herskep. Dit wat jou wou breek, kan in Christus ’n getuienis word van genade.
Nadat Jesus die lewe vir hulle so herskryf sê Hy vir hulle: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Dit is die derde waarheid: Om ná Paasfees te leef, beteken om gestuur te wees. Paasfees is nie net iets wat ons ontvang nie; dit is iets wat ons uitdra. Die dissipels word nie net vertroos nie, hulle word gestuur. Hulle kry nie net vrede nie, hulle word draers van vrede. Dit geld ook vir ons.
Maar Jesus stuur hulle nie alleen nie. Hy blaas oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees.” Dit is ’n diep simboliese oomblik. Dit herinner hulle aan die skepping waar God sy asem in die mens blaas. Hier begin iets nuuts: ’n nuwe skepping. Dit is die vierde waarheid: Om ná Paasfees te leef, beteken om deur die Gees te leef. Ons kan nie hierdie lewe self leef nie. Ons kan nie self die vrees oorwin, of ons roeping uitleef nie. Ons het die Gees nodig.
Dan eindig hierdie gedeelte met woorde oor vergifnis. Dit bring ons by die laaste waarheid: Om ná Paasfees te leef, beteken om ’n lewe van vergifnis te leef. Dit klink amper vreemd, maar herinner die dissipels daaraan dat hulle deel word van God se werk om mense vry te maak.

