Filippense 2:5-11
Datum: 1 Oktober 2017
Prediker: Hannes Burger
Dié van julle wat darem wel kans gekry het om die afgelope week bietjie na die E-Nuusbrief te loer, sal dalk onthou dat Erfenisdag na verlede Sondag die hele week by my bly spook het. Of dalk verkies jy om dit eerder Braaidag te noem. Al is daar darem seker meer aan ons mense se erfenis as net ‘n braaiery. Nie dat ek ‘n probleem het met ‘n braaitjie nie – dis tien teen een wat die meeste van ons nou weer na kerk gaan doen. Braai is vir seker vir ons almal baie belangrik. En ek hoop regtig jy geniet jou braai vanmiddag. Dis immers so deel van ons kultuur en ons erfenis soos rugby teen die Australiërs.
Maar nou was dit nie regtig kultuur-goeters wat my die afgelope week so besig gehou het nie. Want al is ons kultuur-erfenis vir seker baie belangrik, is daar tog één ding wat vir ons belangriker as dit moet wees. Want die héél belangrikste ding wat jy van my kan sê, is tog dat ek ‘n kind van die Here is. Dis belangriker as enigiets anders. Dis belangriker as watter taal ek praat, of in watter sirkels ek beweeg, of selfs watter span ek ondersteun. Om die waarheid te sê, die feit dat ek ‘n kind van die Here is, is die héél belangrikste van alles in my lewe.
Ek is dus in die eerste plek ‘n Christen. As ek daarom voor die spieël staan en myself vra: Wie is ek regtig? begin die antwoord dus vir my persoonlik by die Bybel. En dis ook nie sommer maar net nog ‘n vraag nie. Ek dink dis ‘n verskriklik belangrike vraag. Trouens, ek dink dis vir seker een van die heel belangrikste vrae wat jy as gelowige vandag vir jouself kan afvra. Want as jy nie helder en duidelik weet wie jy is nie, hoe gaan jy weet waarheen jy op pad is, of wat jy probeer bereik? Hoe gaan jy lewe, as jy nie weet wie jy is nie? Dis dus nie sommer maar net die soort van vraag waarmee dominees hulle besig hou nie. Dis ‘n wesensvraag. Wie is ons?
- Paulus begin Filippense met ons identiteit:
Wat kan jy van ons sê? Gelukkig kom help Paulus ons om dit te antwoord. Sommer hier reg aan die begin van sy brief aan die Filippense kom herinner Paulus hulle aan wie hulle is – hulle is mense in wie se lewens God die goeie werk begin het.
Hulle is nie wat hulle nou is, hulle is nie nou Christene omdat hulle so gehoorsaam was en gelukkig die regte besluite op die regte tyd geneem het nie. Om die waarheid te sê, dis hoegenaamd nie eens hulle wat die eerste stap self geneem het nie – dis God! Dis Hy wat na hulle uitgereik het, voordat hulle kon kies of vra, soos ons gesangvers sê. En dis nie al nie. God het nie by daardie eerste stap gestop nie. Nee, omdat Hy getrou is, sit Hy steeds sy werk voort. Daarom is hulle verder ook mense met wie God op pad is. Filippense 1:6 sê dat God nie alleen die goeie werk begin het nie, maar dat Hy elke dag daarmee voortgaan, en dat Hy dit end-uit sal neem. Hy laat ons op geen stadium aan onsself oor nie. Hy is die Getroue, en Hy sal vir seker getrou die pad end-uit saam met ons stap.
En nou begin ek verstaan wie ek is. Want nou besef ek skielik: wat ek is is net genade, soos Koos Du Plessis gesing het. Staan ‘n oomblik daarby stil. Wat ek is, is net genade. Het jy dit al ooit regtig geregistreer? Dís wie ons is.
En dit sê alles oor ons. Maar daarby bepaal dit ook ons hele bestaan. Paulus se woorde in Filippense 1:27 is dat ons hele lewenswandel hiermee in ooreenstemming moet wees. Jou hele lewe moet hiermee klop. Dit bepaal hoe jy na jouself en na ander mense kyk, hoe jy met hulle praat en oor hulle dink. Jy praat met jou vrou soos iemand wat net uit genade gered is. Jy werk met jou tuinman soos iemand wat net uit genade gered is. Jy gedra jou op elke moontlike lewensterrein soos iemand wat net uit genade gered is. Jy vergeet dit nooit nie, want dit is wie jy is. En dit bepaal jou hele lewe.
Nie dat dit altyd so vreeslik maklik kom nie. Paulus maak nie asof alles altyd sommer net so vanselfsprekend in plek sal val in jou lewe nie. Dis ‘n stryd, sê hy. En hierdie stryd is nie soseer teen iemand spesifiek nie, maar dis ‘n stryd binne-in jouself. Dis ‘n stryd om vas te bly staan by wat jy glo. God roep jou om jou posisie te beman en geen duim terug te wyk vir enigiemand of enigiets nie. Maak nie saak watter taktiek die vyand ook al probeer nie – en glo my, hy ken al die swak plekke in jou mondering beter as jy self en weet waar om jou aan te vat – jy moenie toegee nie. Nie eens ‘n duimbreedte nie! Jy moet vas staan! Jy is na alles uit genade gered. Jy is ‘n kind van God.
- Paulus roep ons egter nie op om ‘n klomp reëls te gehoorsaam nie.
Maar dan kom voeg Paulus iets hierby wat jy nooit mag vergeet nie. Dis verskriklik belangrik dat jy altyd sal onthou dat jou identiteit as Christen nie gebou is om allerhande wette en reëls nie. Dis nie ‘n klub waarby jy aangesluit het, en nou moet jy sekere reëls gehoorsaam of jy word uitgeskop nie. Want as jy so begin redeneer, begin jy maak asof jy nie uit genade gered is nie. Dan begin jy jouself wysmaak dat jy tog iets bygedra het tot jou verlossing, en dat jy darem so half en half verdien om God se kind te wees – en dis louter onsin. Jou identiteit is dat jy uit genade verlos is. Stop.
Christenskap gaan nie oor reëls nie. Dit gaan oor ‘n PERSOON. Dit gaan oor Iemand. Maar om regtig elke dag in verhouding met Hom te lewe is dit ewe nodig dat jy sal weet wie Hy is – en daarom kom herinner Paulus ons vinnig daaraan. Hy kom haal een van die oudste gesange waarvan ons weet, aan om ons voor te stel aan Wie Jesus regtig is. As jy iets van Jesus wil verstaan en van Wie Hy is, moet jy die pad verstaan wat Hy geloop het. Die ou vertaling het gepraat van die “ontlediging” van Christus. As ons mooi geleerd wil klink, noem ons dit ook soms op die Griekse woord: die kenosis. En dit beteken: Jesus het Homself leeg gemaak. Hy het afstand van alles gedoen – ter wille van jou...
- En dan, skielik, staan ons voor ‘n spieël...
En dan, skielik, staan ons voor ‘n spieël. Want Paulus begin hierdie hele aanhaling met die woorde: “Aangesien dit alles waar is van julle...” Aangesien dít is wie jy is - Wat dan nou? vra hy. As jy iets begin verstaan van wie jy is – wat dan?
Dan - sal Jesus se gesindheid elke dag ook in jou lewe begin sigbaar raak. En as jy dalk wonder hoe dit werk, en wat Paulus bedoel, het ek die vrymoedigheid geneem om die lied van Jesus se ontlediging op ons toe te pas. Dan klink dit min of meer só:
Jy is ‘n verloste koningskind,
- Maar dis nie ‘n status waarop jy trots kan wees en dink jy is beter as ander nie,
- Nee, staan eerder altyd self terug en skuif jou eie belang op die agtergrond ter wille van ander.
- Moenie bang wees om soos Jesus te stop by mense in nood, en jouself met hulle te vereenselwig nie.
- Onthou hoe Jesus hierdie pad konsekwent gestap het, sonder om terug te deins. En gee dan jouself volkome prys, presies net soos Hy vir jou gedoen het.
Dan kan jy weet, God sal jou aan die einde van jou lewe optel en voor sy troon neersit, en jy sal vir ewig in sy heerlikheide teenwoordigheid wees.
AMEN