Lukas 17:1-10

Datum: 6 Oktober 2019 (Aanddiens)

Prediker: Hannes Burger

Dis ‘n interessante gedeelte van die Evangelie hierdie. As jy dit die eerste keer deurlees, klink dit vir jou so half soos ‘n klomp losstaande goed, wat maar net so sonder enige logiese rede saamgevoeg is. Asof dit nou maar eenmaal die stories oor Jesus is wat oorgebly het, en nou het Lukas dit in een hoofstuk saamgebondel, sodat dit darem nie verlore raak nie. Maar as jy regtig rustig gaan sit met Lukas 17, en hierdie gedeelte van die Woord toelaat om met jou te praat, kry jy tog mettertyd ‘n heel ander gevoel. Want dit voel vir my op die ou end asof Jesus hier net met ons sit en gesels. Want as ‘n mens net met mekaar gesels, het jy mos nie ‘n voorafuitgewerkte program waarvolgens jy praat, soos by ‘n formele debatstoespraak nie. Jy sê die goed maar net soos hulle in jou kop kom, en dra die waarheid daarvan oor aan die mense wat na jou luister.

En toe besef ek skielik hoe goed pas hierdie gedeelte by vanaand se geleentheid. Want vanaand is vir ons as gemeente nogal baie kosbaar. Dis amper soos die laaste keer wat ‘n pa saam met sy kind gesels voordat hy of sy die huis verlaat om verder te gaan studeer, of iewers sy eie potjie begin krap. Dalk rondom ‘n braaivleisvuurtjie. En dis wat ons graag vanaand sou wou doen. Eintlik wil ek glad nie vanaand vir ons klomp skoolverlaters preek nie, ewe min as daardie pa by die vuur vir sy kind wil preek. Vanaand wil ek eerder net hê ons moet saam kuier met Jesus, en hoor wat Hy vir ons wil sê.

En natuurlik praat Jesus met hulle oor geloof. Want geloof, het Hy vir ons kom leer, is wat ons aan Hom bind. Geloof is wat ons staande gaan hou as ons eers op ons eie moet regkom, en geloof is wat op die ou end ons plek in die hemel oopsluit. Van die begin tot die end, gaan alles net om geloof. En wat is dit, wat Jesus vir ons hier oor geloof kom vertel?

  1. Geloof laat jou vergewe

Geloof maak jou altyd gereed om ander mense te vergewe, begin Jesus. En eintlik is die rede daarvoor baie eenvoudig: want as jy glo, is jy nie meer die heel belangrikste persoon in jou lewe nie. Nee, dan behoort daardie ereplek aan God. Daarom hoef jy as gelowige nie meer heeltyd jouself te handhaaf nie. Jy hoef nie meer die hele tyd terug te baklei en net seker te maak dat iemand jou tog nie dalk te na kom nie. Dis goed wat vir ongelowige mense geweldig belangrik is. Hulle is tog só bang hulle word dalk te na gekom. So bang iemand behandel hulle nie met die respek wat hulle meen hulle toekom nie.

Maar nou het die gelowige al daardie goed agtergelaat. Ek is nou nie meer die belangrikste persoon in my lewe nie. Daarom hoef ek ook nie die res van my lewe vir jou kwaad te wees, as ek dink jy het my dalk te na gekom nie. Nee, omdat ek glo, kan ek ook vergewe.

Want die groot ding is mos, dis presies wat ek by Jesus gesien het. Hy bly ook nie vir ons kwaad vir elke dingetjie wat ons verkeerd doen nie. Hy vergewe, oor en oor. Selfs dieselfde ding, oor en oor. En as Hy so kan vergewe, wie is ek en jy dat ons dit nie ook kan doen nie? En dan nie een keer of soos die Jode van Jesus se dag geglo het, drie keer nie. Hulle het geglo jy moet moet drie keer vergewe. Die vierde keer kan jy maar kwaad bly, want dan is daardie ou duidelik net absoluut moedswillig. Dan hoef jy regtig ook nie meer te vergewe nie. Nee, sê Jesus. Selfs al sou iemand sewe keer op ‘n dag vir jou kom sê hy is jammer, moet jy hom sewe keer vergewe, en môre weer van voor af begin. Want dis hoe God met ons maak.

Eintlik is dit en van die wonderlikste goed wat Jesus ons kon geleer het. Want weet jy, vergiffenis maak vry. Jesus weet dat vergiffenis nie net die een wat verskoning vra, vry maak nie. Dit maak ook die een wat vergewe, vry. Eers as jy werklik vergewe, is jy werklik vry. En dis wat God wil hê sy kinders moet ervaar.

  1. Geloof maak jou ‘n dienaar

Geloof leer jou vergewe. En die rede daarvoor is baie eenvoudig. Dit staan hier baie duidelik uitgespel. Geloof kan vergewe, want geloof maak jou ‘n dienaar. Onthou wat Jesus ons geleer het: Jy is nie meer die belangrikste ou in jou lewe nie. God is. Jy lewe nie meer om gedien te word nie. Jy staan nou in sy diens. En weereens, as jy wil weet hoe dit werk, hoef jy maar net na Jesus te kyk. Dis presies wat ons by Hom leer. Hy, wat die Prins van die hemel was, het sy bestaan op Godgelyke wye nie beskou as iets waaraan Hy moes vasklou nie, sê Filippense 2. Hy het nie krampagtig aan sy status en sy posisie gekleef nie. Nee, Hy het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem. Vir ons, het Hy ‘n Dienskneg geword.

Nou as die Here ons kom dien het, wat maak jou dan so belangrik, dat jy nie kan dien nie? Dat jy altyd die belangrikste moet wees, altyd gedien moet word, altyd reg moet wees? Is jy dan soos die slaaf van Jesus se storie, wat meen dat sy eienaar eintlik vir hom aan die tafel moet bedien? Of het jy al geleer verstaan dat alles wat jy het, en alles wat jy is, net genade is? Verstaan jy al, dat jou hele lewe eintlik net om een ding draai, en dis oor dankbaarheid vir die Here wat jou verlos het?

  1. Geloof soos ‘n mosterdsaadjie

Dalk voel jy: Nee, maar ek dink nie ek is al daar nie. Ek dink nie ek het genoeg geloof, dat dit van my waar kan wees nie. Dis wat die dissipels ook daar langs die vuur gereken het. Toe hulle hoor wat Jesus vra, probeer hulle die bal weer vir Jesus teruggee. Here, gee ons dan net meer geloof, sodat ons dit kan begin regkry, sê hulle vir Hom. Ons glo regtig nog net nie sterk genoeg daarvoor nie!

Julle verstaan nie, sê Jesus. Want as jy sê Ek glo! Dan het jy al klaar alles wat nodig is. Die saadjie is klaar in jou geplant, wat wonders in jou lewe kan doen. Moenie wens vir meer geloof, of dink jy sal dalk later hierby kan probeer bykom nie. As jy sê “Ek glo”, beteken dit dat jy reeds God se Gees in jou het, en jy weet mos niks is vir sy Gees onmoontlik nie! Al wat jy hoef te doen, is om te laat gaan, en Hom toe te laat om jou in staat te stel om te lewe soos God vra. Jy is al klaar nuutgemaak. Jy is ‘n kind van God. Jy is ‘n dienaar. Gaan lewe dit dan net.

Dis tog interessant om verder te lees, en te kyk wat kry ons net na hierdie gesprek van Jesus in die Bybel nie. Dan gaan jy sien dat ons net na hierdie uitsprake van Jesus die verhaal van die tien melaatses kry. Onthou jy daardie tien ouens wat genees is van hulle melaatsheid, en toe het net een omgedraai en gaan dankie sê? Daarmee wys Jesus ons waaroor dit alles eintlik gaan. Dit gaan alles net oor dankbaarheid. Dit waarvan Lukas 17 praat, wys duidelik hoe dankbaar jy regtig is. As jy oorweldig deur dankbaarheid is, soos daardie geneesde melaatse wat voor Jesus se voete neerval, sal dit jou klein en nederig maak. ‘n Dienaar maak. Sal dit die Gees vrystel om groot dinge in jou lewe te doen. Want dis wat Hy doen in die lewe van ‘n kind van God...

AMEN