Galasiërs 5: 1-15

Datum: 29 Augustus 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

  1. Inleiding. Meeste van ons hou daarvan om in beheer van ons lewens te wees. Ons wil nie ingeperk word nie. Ons wil vry wees om te kom en te gaan. Totdat Covid – 19 al ons planne deurmekaar kom krap het. Skielik word ons vryheid ingeperk en ek beleef daardie “buite beheer” gevoel.

Maar vanoggend lees ons van ’n ander tipe vryheid. Paulus noem dit: Christelike Vryheid. Ja, vriende iewers langs die pad moet ons besef dat ware vryheid, vryheid in Christus is. Ons moet besef dat daar nie van ons verwag word om wetties en volgens ’n string oorgelewerde gewoontes te leef wanneer Jesus Christus ons Verlosser word nie. Ons moet vasstaan in hierdie vryheid en geensins toelaat dat ons weer onder ’n slawejuk in gedwing word nie.Hierdie vryheid waarvan Paulus praat is eintlik ’n kort opsomming van die Evangelie. Die goeie nuus is Jesus. Jesus wat ons  vrymaak en dit is die basis van ons geloof.  Dan eers is ons werklik vry sonder inperkinge alhoewel dit toewyding vra. Hierdie vryheid in Christus beteken dat ek....

  1. Niks het om weg te steek nie. Dit is verskriklik om heeltyd oor jou skouer te kyk. Om heeltyd in vrees te leef dat mens uitgevang word, is afbrekend wat verhoudinge lewenslank kan skade berokken. Daar is niks in die lewe wat mense so emosioneel kan dreineer as skuldgevoelens nie. Sonde en skuldgevoel maak van ons slawe. Paulus skryf in vers 17: 17Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. Deels van Paulus se vryheid was dat hy niks gehad het om weg te steek nie. Paulus het alles, selfs sy lewe as jagter op Christene voor die Here bely. Selfs Stefanus se dood waarin Paulus instrumenteel was het hy vir die Here bely en sonde het noe meer die mag oor hom gehad nie. Daar is niks meer bevrydend as wanneer jy bely en die waarheid begin praat nie. Ons hoef nie meer in vrees te leef dat ons uitgevang gaan word. Ek het niks om weg te steek nie. En wanneer ek niks het om weg te steek nie, het ek niks om.....
  2. Niks het om te verloor nie. Paulus se welstand was nie aan materiële dinge gekoppel nie. Selfs as geboeide in die tronk was Paulus vryer as die wagte wat hom opgepas het. Ons kry slapelose nagte oor die stand van ons welvaart en ons bly besorg oor môre.. Tog moet ons besef dat niks op aarde permanent nie. Liewe vriende, aanvaar dit nou, eendag gaan alles van jou weggeneem word. Dit is lankal tyd om minder besorg te wees en voluit te begin lewe. En wanneer jy niks het om te verloor nie sal jy ......
  3. Niks het om voor bang te wees nie. Paulus was oor niks bevrees nie. Hy het verskriklike moeilike tye beleef. Nogtans was hy nie bang nie. In Fil. 1:21 skryf Paulus: 21want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins. Wat doen mens met so mens? Hy het selfs vir die dood nie gevrees nie.

 

  1. Slot. Juis daarom sal ons nie ons vryheid waartoe ons geroep is misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie. Ons ervaar ons vryheid op ’n ander manier. Ons het niks om weg te steek nie. Wat ons sê, dit leef ons. Ons het niks om te verloor nie. Alles wat ons het en is, word aan die Here toegewy. Ons het niks om te vrees nie. Om te lewe is Christus, om te sterwe wins.Hierdie vryheid mond uit in liefde, liefde wat omskep word in goeie dade. Dit is wanneer die vrug van die Gees sigbaar word in ons lewens. Maar dit bly steeds ‘n keuse.

Daar is ’n storie vanuit antieke Persië oor ’n Weermag Generaal wat ’n vreemde gewoonte gehad het. Hy het veroordeelde kriminele altyd ’n keuse gegee wanneer  hul vonnisse volstrek moes word. Jy het ’n keuse het hy gesê: “Die vuurpeloton of die groot swart deur. Wat sal dit wees? Moeilike keuse, maar elke liewe veroordeelde het die vuurpeloton gekies. Hulle kies eerder die bekende as die onbekende, Is dit nie ’n eienskap van die mens nie? Mense is bang vir die onbekende. Op ’n dag het die Generaal se Adjudant met groot huiwering gevra wat agter die groot swart deur is.

Vryheid het die Generaal geantwoord. En tot dusvêr was niemand dapper/moedig/onverskrokke genoeg om die groot swart deur te kies nie.

As jy dapper/moedig/onverskrokke genoeg is om die groot swart deur te kies, wat ons Jesus noem, is ware vryheid vir jou beskore. Staan vas en vat dit!

Vryheid en vergifnis wag vir jou aan die ander kant van die deur. Jy moet net dapper/moedig/onverskrokke genoeg wees om te laat gaan en te begin glo. Dan eers het jy niks om weg te steek nie, niks om te verloor nie en niks om voor bang te wees nie.  AMEN