Markus 3:31-35

Datum: 26 November 2017

Prediker: Chris Barnardo

Ongelukke gebeur so vinnig. Onverwags. Dit is hoekom ’n ongeluk ’n ongeluk genoem word. Ek dink vanoggend aan Christopher Reeve. Superman wat in so baie mense se harte gekruip het. Dit wat veronderstel was om ’n dag te wees met die wind in sy hare en die reuk van salpeter terwyl hy sy perd vrye teuels gee, het rampspoedig geëindig. Ons Superman het van sy perd afgeval en in die hospitaal beland as ’n kwadrupleeg.

Twee jaar na die tragiese ongeluk het Christopher en sy vrou openhartig gepraat oor die gom wat hulle hul verhouding aanmekaar vasgehou het .

In ’n artikel wat oor die gesin geskryf is vra die skrywer die volgende vraag: Het jy in daardie eerste tye van besef dat jy verlam is, snags wakker geword met swart hond langs jou bed? Het die depressie jou gevangene gehou en het jy gevoel om die prop te trek en om eerder te sterf?

Christopher het geantwoord, : “Nee. Vier dae na die ongeluk het ek my bewussyn herwin en besef wat met my gebeur het. Dana, my vrou, en ek was alleen in die hospitaalkamer. Die dokters het nie veel hoop gehad nie. Dit was voor die eerste operasie en ek onthou dat ek vir Dana gesê het dat dit nie die moeite werd is om te baklei nie. Dat ek alles net vinnig wil klaarkry sodat sy en die kinders kan aangaan met hulle lewens. As Dana na die vloer gekyk het en stadig asem ingetrek het en met my begin praat het, sou dit vir my moeilik gewees het. Want ek sou gedink het dat sy net ordentlik is. Maar sonder om te dink of asem in te trek het sy my in die oë gekyk en gesê. Jy is steeds jy, ek ek is eindeloos lief vir jou. Dit het my gered. Dit het veroorsaak dat ek nie moed opgegee het nie. Toe kom my drie kinders ingestap en ek wonder so by myself. Hoe kan ek ooit hulle agterlaat.

  1. Waar het Superman sy krag vandaan gekry? Van sy vrou en kinders. Wat vra dit om familie te wees?

Markus vertel ons van ’n ongewone gebeurtenis in Jesus se lewe. Jesus was in die begin van sy bediening. Mense het in hordes bymekaargekom om na Hom te luister terwyl Hy hulle onderrig het.  Ons ontmoet vir Jesus in ’n huis, besig om die mense te leer, toe sy familie opdaag. Hulle het vir Jesus kom haal omrede hulle besorg was oor Hom. Markus sê vir ons dat Jesus se familie gedink het dat hy van lotjie getik was. Volgens hulle was daar groot fout met Jesus. En hulle wil vir Jesus beskerm. Hulle wil vir Jesus huis toe neem.

Jesus se familie staan buite die huis. En hulle sê toe vir Hom: “Kyk, u moeder en u broers en u susters daar buite soek U.” “Wie is my moeder en my broers?”

34Hy het die mense aangekyk wat in ’n kring om Hom sit en gesê: “Hier is my moeder en my broers! ! 35Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

Interessant. Dit klink so koud, klinies!. Ons is bewus van familie spanning in die Ou Testament. Kain en Abel. Noag en sy familie. Jakob en Esau. Maar Jesus? Daar is probleme in Jesus se familie.

Vriende. Daar is in alle families spanning. Selfs in Jesus se familie. Alle families het hulle hoofpyne en hartseer. Familiewees is ’n uitdaging. Ek lees van ’n vulkaan wat op die punt gestaan het om tot uitbarsting te kom en mens en dier se lewens in die klein dorpie bedreig het. ’n Pa het toe die regte ding gedoen deur sy twee seuns na ’n vriend vir ’n onbepaalde tyd te stuur totdat die gevaar verby was. Na ’n ruk het die vriend ’n boodskap aan die pa gestuur. Kom haal asb. jou twee seuns,....en stuur vir my die vulkaan.

Sommige van ons kan hiermee identifiseer en selfs simpatiseer. Om kinders op te voed en groot te maak kan uitdagend wees. Want ouers weet nie alles nie. En dit maak dit moeilik. Baie ouers wonder soms of hulle die regte dinge reg doen. Ouers doen alles na die beste van hulle vermoë en hoop dan vir die beste. Maar dat dit nie altyd maklik is nie is gewis. In vandag se lewe is ouerskap nie speletjies nie. Ek dink die grootste sosiologies skuif wat in die hedendaagse lewe plaasgevind is : DIE WERKENDE MA. En om ‘n gesin op rustige finansiële waters te laat vaar is ’n enorme uitdaging. Om ’n gesin te wees is nie maklik nie. Alle gesinne het hulle uitdagings. Ek vermoed dat ons almal daarmee sal saamstem.

  1. Tweedens hoor ons vanoggend dat Jesus familie her-definieer.

Familie is meer as biologie. Familie gaan oor liefde en respek vir mekaar. Gesamentlike toewyding is belangriker as die gene wat ons deel. “Wie is my ma en my broers?” vra Jesus. Dan kyk hy na die mense rondom hom. “Hierdie is my ma en my broers.” Jesus verbreed die konsep van familie vêr verby die tradisionele siening van familiewees. Biologie is ’n klein deeltjie van ouerskap. Kom ons sê dit vir mekaar.

Dit is baie maklik om ’n kind te hê. Ouerskap vra meer as dit. Dit vra ’n diepe toewyding om werklik ’n ouer te wees. Jou familie bestaan uit daardie mense wat  hulself beskikbaar stel om daar te wees vir jou. Mense wat hulself onvoorwaardelik toewy en ondersteuning bied in alle omstandighede. Mense wat daar is wanneer my moed opraak. Mense wat daar vir my is wanneer ek my vervaldatum bereik. Mense wat nie met my ongeduldig word nie. Mense tussen wie ek net my myself hoef te wees. Mense wat nie nie daardie hoë verwagtings van my het nie. Mense wat net klief is vir my.

Daar was navorsing gedoen tussen 100 top Hoof Uitvoerende Direkteure. Die mees suksesvolste sakemanne van die wêreld. Baie van hierdie top sakemanne was eindelose toegewyde gesinsmanne. Tog was daar ‘’n paar wat nie die gesin as belangrik beskou nie. Luister gerus na een van hierdie manne se kommentaar op die gesinsverband.

Wanneer jou gesin veeleisend word moet jy ....doodeenvoudig vir jou ’n ander gesin kry. ’n Gesin wat vir jou werk. Klink dit vreemd? Tog nie. Daar is  baie wegloop-ouers in ons land. En sommige van hierdie ouers loop nie fisies weg van hulle gesinne af nie. Hulle loop psigies weg. Dit is hoekom dit altyd vir my lekker en vars is wanneer ek hoor van ouers wat hulle lewens opoffer vir hulle kinders en die gesin.

Wat onthou jy van jou ouers? Of jou grootmaak ouers?

Ek was in standerd 5 gewees en het gaan deelneem aan die Interskole atletiek. Hoogspring was my item. My pa kon daardie dag nie daar wees nie. Werksverpligtinge waaruit hy homself nie kon loswikkel nie het hom daardie dag na ’n ander dorp geneem. Daar was dalk skrale ’n kans dat hy dit kon bywoon. Maar het vir RT daarop te sit nie. Ek onthou die oggend baie vroeg was hy alreeds weg. Op die kombuistafel was daar ’n briefie. Aan my gerig. En my pa het my lof besing. Ek was sy oudste, sy trots sy alles. Hy het my sterkte toegewens en geglo dat ek ’n plek op  die podium sou kry.

Laat die oggend het die hoogspringers by die mat aangemeld. Opwarming en oefenspronge het plaasgevind. En ek het gehoop dat my pa dit net dalk sou kon maak. Ons was later net drie oor in die kompetisie. Die derde en die tweede ou het uitgeval.

Toe sien ek my pa teen die draadheining staan. In die bloedige son met sy vingers so deur die ogiesdraad sien ek hom nou nog staan.  Hy het geweet dat as hy deur die toegangshek moes hardloop, hy my laaste sprong so mis. Dit is wat ek onthou. Drie jaar later is hy oorlede. Dit is hoe ek hom onthou.

Ek wonder baie of dit enigsins sou saak maak as hy nie my biologiese pas was nie? Dit sou nie saak maak nie. Wat ek onthou is dat sy woord sy eer was. Hy was ’n beloftehouer.

  1. Vriende en dit bring by die belangrikste gedeelte van die teks. Dit het die doen met karakter binne familie. 35Elkeen wat die wil van God doen, is my broer en my suster en my moeder.”

GOEIE MENSE IS GOEIE OUERS. Mense wie se karakter bevraagteken word, se ouerskap word bevraagteken.

As Jeugwerker destyds in Brackenfell het ’n hoërskoolseun my kom sien wie se trane vlak gelê het. Hy was een oggend by die huis en het deur sy pa se klerekas gaan snuffel en het op iets afgekom wat hom uitgeboul het. Onmiddellik het ek die donker geheime pornografie roete gevolg. Nee oom ek het op ’n joernaal afgekom wat my pa in sy stiltyd byhou. Op elke bladsy was my naam neergeskryf. My pa bid elke dag vir my! ‘’n Bewys van ’n pa se integriteit. ’n Bewys dat my pa regtig is wie hy is. Hierdie jong seun was diep daardeur geraak. Ek weet dat hy vandag dieselfde vir sy kinders doen.

Ek vermoed dat dit is waar so baie ouers faal. Die boodskap wat ons vir ons kinders gee is: Doen wat ek sê, moenie doen wat ek doen dit nie. Vriende dit is ’n boodskap wat nooit suksesvol is nie.

Goeie mense is goeie ouers. Alle families het probleme. Maar wanneer ’n familie geanker is in die Almagtige Lewende God is die kanse op sukses baie  groot.

Het jy dalk al die boek STRAIGHT TALK, van Lee Iacocca gelees?

Hy skryf oor sy pa en die feit dat sy pa deur voorbeeld gelei het. Op sy sterfbed het niemand melding gemaak van sy gawes as sakeman nie. Almal het gepraat oor sy passie vir sy gesin.

Die enigste  rots wat vas bly staan, die enigste instelling wat werk, is die familie. Ek was so grootgemaak om daarvolgens te leef. Baie van ons was so grootgemaak.  Ek dink dat as hierdie land se gety gedraai wil word moet ons by families begin. ’n Beskaafde wêreld kan nie beskaaf bly as dit nie gebou word op gesonde families nie. ’n Stad, ’n provinsie, ’n land kan floreer wanneer gesinne gesond is. Wanneer gesinne saam na God se wil soek in alles wat hulle doen dit.

Jy hoef nie ’n SUPERMAN te wees nie. Wees jouself en soek na die wil van die Here en wees lief vir jou familie. Al wil soms weghardloop uit frustrasie!

AMEN