1 Konings 19:1-15

Datum: 19 Junie 2022 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

DE EIKE STAAN VOOR VELE UITDAGINGS EN VERANDERING

Ons, De Eike gemeente, is ernstig besig om oor ons roeping na te dink. Die kerkraad het al by twee geleenthede vergader en daar het Psalm 1 die ankerteks van die gemeente se reis geword. Tydens hierdie geleenthede het die kerkraad ook opnuut besin oor wat die kerk van Christus is. So het ons ook saam met Psalm 1 tydens die afgelope Pinkster gereis. Ons het ook die vraag gevra: Waarmee het De Eike se vernuwing te make? Net met die onderskeie bedieninge in die gemeente en ons persoonlike godsdiens, of ook met ons lewe buite die mure van die kerkgebou en buite die grense van die gemeente?

Die fasiliteerder tydens die bosberaad het dit duidelik aan die kerkraad gestel dat nie almal in die gemeente bereid gaan wees om oor hierdie vernuwing saam te besin nie. Ons het gehoor dat ’n sekere persentasie lidmate nie regtig ingenome met sulke veranderings indien wel, gaan wees nie. Dit is hoe dit werk. Navorsing toon dit helder en duidelik in ander gemeentes waar daar nagedink is oor hul roeping en identiteit. Aanvanklik was ek geskok maar het later besef dat daar gewerk moet word met hulle wat bereid is om saam met die kerkraad hierdie nuwe roete en landskap te verken.

Die Here se vraag aan Elia (1 Kon 19:9, 13) by die ingang van die grot op die berg van die Here, is ’n vraag wat vandag aan ons adres gerig is: Wat maak jy hier? Hoekom het God jou in De Eike geplaas? Hoekom is jy deel van hierdie gemeente? Waarom sou God hier ’n gemeente tot stand gebring het?

Bereik ’n mens ooit ’n ouderdom of punt wanneer jy klaar is met God se roeping vir jou lewe? Wanneer God jou nie verder in sy koninkryk of sy kerk kan gebruik nie? Wanneer jy oorbodig voel en soos Elia onder die spreekwoordelike besembos neerval met net een versugting: “Nou is dit genoeg, Here! Neem my lewe, want ek is niks beter as my voorvaders nie”? Wanneer bereik ’n mens die punt van genoeg? Dit is wat die profeet van die Here in hierdie hoofstuk vir God sê: “Nou is dit genoeg, Here! Ek het my deel gedoen. Nou tree ek uit u diens.” Hoor hoe sê Elia dit vir die Here in vers 10 en 14: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God. Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak. Net ek alleen het oorgebly, en hulle soek my om my ook om die lewe te bring” (1983-vertaling). Het God nog ’n roeping vir jou in De Eike, sy kerk hierin Kuilsrivier? Dalk probeer baie van ons, ons self regverdig deur redes voor te hou waarom ons nie betrokke kan wees in die De Eike nie. Ons klink soms soos Elia. Luister na Elia se argument in vers 10 en 14. Dit bevat gedagtes wat as hindernisse in talle gelowiges se roeping deur God voorkom; tipiese argumente en verskonings wat ons ook gebruik om nie aan God se roeping vir ons lewe gehoorsaam te wees nie.

ONS WAS DAREM IN HART EN SIEL TOEGEWYD

Die eerste argument waarmee ons onsself regverdig is dat ons God daaraan herinner dat ons Hom darem toegewyd gedien het; dat ons ons deel gedoen het; dat ons eintlik nou die reg het om uit te tree. Elia sê in vers 10: “Ek het my met hart en siel gewy aan u saak, Here, Almagtige God.” Hiermee wil Elia eintlik sê: “Here, moet tog net nie vergeet wat ek al in die verlede vir U en die kerk gedoen en beteken het nie. Moet my tog nie nou al weer met ’n nuwe roeping kom pla nie. Ek het vrywillig uit u diens getree.”

KYK VIR ’n SLAG NA DIE ANDER LIDMATE IN DIE GEMEENTE

Die tweede argument waarmee Elia homself probeer regverdig het was om die Here se gedagtes te verfris met ’n vergelyking: “Die Israeliete het die verbond met U verbreek. Hulle het u altare afgebreek en u profete doodgemaak” (v 10). Hiermee sê Elia eintlik: “Here, kyk net hoe sleg is die ander. Hulle is nie naastenby so toegewyd soos ek nie. Hulle het nie naastenby soveel tyd aan hulle godsdiens gewy as ek nie. Hulle is nie by ’n Bybelstudie- of kleingroep betrokke nie. Hulle het minder geld as ek gegee. Hulle het minder vir die basaar gewerk. Here, kyk ’n bietjie verder, dan sal U wel sien dit is nou ander mense se beurt. Los my vir ’n slag! Ek weet wat dit is om my roeping uit te leef.”

EK KAN NIE ALLEEN ALLES DOEN NIE

Die derde argument om ons ongehoorsaamheid aan God se roeping te verberg, is die argument van isolasie en blindheid. Hoor wat sê Elia: “Net ek alleen het oorgebly.” Hierdie verskoning is die een wat die deurslag moet gee. “Here, ek kan mos nie alleen alles doen nie. Hier is nie meer een gelowige wat bereid is om my te help nie. Dié wat nog sê hulle is godsdienstig is almal teen my en wil my doodmaak.” Elia wil nie meer vir God dien nie, want hy het homself van God se kinders geïsoleer. Hy het alleen oorgebly …

Tog stuur God vir Elia met ’n opdrag: “Gaan salf twee konings sodat hulle hulle mense kan lei; Ek sal vir hulle die oorwinning in die geveg gee. Gaan salf ook vir Elisa tot profeet en Ek sal sorg dat my werk op aarde voortgesit word.” Hiermee sê God vir Elia: “Doen jy net jou deel. Moenie so gou wil uittree nie. Jy is nie alleen nie. Ek het in Israel die sewe duisend laat oorbly wat nie die Baäl-beeld aanbid het nie. Werk met hulle wie jy het. Jy het geen regverdiging vir jou ongehoorsaamheid nie. Jy het geen verskoning om nie na My te luister nie.”

GAAN MAAK KLAAR MET WAT JY BESIG IS

God vra vir Elia: “Wat maak jy hier? Probeer jy van my af wegvlug? Probeer jy jou roeping systap?” Dan gee Hy vir Elia ’n opdrag, ’n bevel: “Draai in jou spore om en gaan na die Damaskuswoestyn toe – daar is werk vir jou!” Draai om, stap terug, daar is werk in De Eike.

AMEN