Skriflesing : Fil. 1:3-11

Datum: 5 Desember 2021 (Oggenddiens)

Prediker: Chris Barnardo

“Vir ‘n LEWENDIGE UITSENDING van die preek kliek hier om dit te kyk”

 

1. INLEIDING

Die kenmerk van ’n gesonde gesin met geloofswaardes is dat so ’n gesin se lewenswandel met die evangelie van Christus ooreenstem. Dit is waartoe Advent die kerk van Christus nou oproep in Suid-Afrika en die wêreld: Om uit dankbaarheid vir wat Christus gedoen het, eensgesind te wees.
Daarom gaan ons vanoggend tyd afstaan om te gesels oor die kerk in die kleine, oftewel die gesin.
Die afgelope twee jaar het gesinne verskriklike berge en dale beleef. Die pandemie vra nie na titels en kwalifikasies en waar jy vandaan kom wanneer sy tande in jou ingeslaan word nie.
Omikron is hier, kyk gerus na die getalle en vriende, hierdie pandemie betoon geen genade en niemand word uitgesluit nie. By baie gesinne het baie dinge verkeerd geloop. Vir sommige gesinne was gebeure traumaties terwyl ander baie verlies beleef het. Dinge sal nooit weer dieselfde wees nie.
Selfs die kerk se invloed word oënskynlik kleiner in mense se lewe en die Christelike geloof en die kerk in die toekoms sal blykbaar minder vanselfsprekend wees. Sondag is nie meer Sondag soos dit voorheen was nie. Die roetine en grense binne baie gesinne het stelselmatig verskuif.
Kinders leer van self beveiliging, hande was, maskers dra, veilige afstand tussen maatjies, eenkant sit tydens pouses. Ons kinders word forseer om te isoleer. En dit kan lei tot emosionele isolasie. Ons kinders se gedrag verander en ons as ouers sit met skuldgevoelens. Ons faal as ouers, dink ons. Ons probeer al die balle gelyktydig in die lug hou en is lewensmoeg. Wanneer die kinders ons aandag soek, blaf ons, is kort van draad en smag net na ’n bietjie normaal-wees. Daarom wil ons hierdie jaar ’n bomenslike Kersfees vir die kinders gee. Iets wat hulle vir lank sal onthou. ’n Kersfees met groot geskenke. Sommer net ’n lekker Kersfees propvol bederf.
Ek wil nou nie gesien word as die partytjie-bederwer nie, maar ek kan jou vanoggend baie geld spaar indien jy bereid is om hierdie paar minute stil te word en na die Here se stem te luister. En wanneer jy vanoggend hierdie boodskap sluk en hier uitstap gaan jou aksies nie skuldgevoel-gedrewe wees nie, maar Gees-gedrewe.
Ons land se kinders het wel geskenke nodig maar heel anders as waaraan baie ouers dink. Die geskenk wat ouers aan hulle kinders in ons land kan gee is om onbeskaamd lief vir die Here te wees. Hierdie land se kinders het ouers nodig wat nie gedurig by hulle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie. (Kol 3:21) Hierdie gemeente se kinders het ouers nodig wat aan hulle geloofswaardes modelleer eerder as om toe te laat dat die iPad en selfoon die plaasvervanger word van ’n afwesige pa of ’n afwesige ma.
Daarom pleit ek by elke kerk in die kleine dat Paulus se gebed deel sal word van julle praktiese geloof-geskenke wat aan jul kinders hierdie Kerstyd uitgedeel gaan word:

 

2. LEER JULLE KINDERS OM ONVOORWAARDELIK LIEF TE HÊ.

Wys aan jou kinders hoe om met sagte oë na ander mense te kyk. Leer jou kinders dat Christus alles en in almal is.

Kol 3:11 Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Spreuke 1:7 Wys aan julle kinders dat lewensgeluk begin by liefde vir die Here. Sonder liefde is daar geen lewensvreugde nie.

Spreuke14:27 Die Here se liefde is soos ‘n borrelende fontein. Dit maak van jou , sprankelende mens.

Theuns Jordaan het altyd met woorde geskilder wat my keer op keer diep geraak het:

Ons vingers moet voel hulle moenie net raak nie,
Ons voete moet swerf anders maak ons nie saak nie,
Wat in die wêreld is liefde. As ons stil sit....
Waarvoor is vingers en voete dan daar,
As ons sit agter mure en niks ooit ervaar nie.
Wys hulle hoe om onvoorwaardelik lief te hê.

3. DINK VOOR JY DOEN

Leer julle kinders die vermoë aan om dit wat maak in die lewe te herken en te kies.
Modelleer aan jou kinders hoe om met fyn begrip en aanvoeling besluite te maak. Leer
hulle om te dink voor hulle doen. Kweek dit by jou kinders aan om te onderskei wat
reg en verkeerd is. Ons noem dit onderskeidingsvermoë.

Psalm 1:1  Dit gaan goed met die mens wat nie die
raad van die goddeloses volg nie, nie met sondaars
omgaan en met ligsinniges saamspan nie, 2 maar
wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit
dag en nag oordink.

 

4. SUIWER EN DEURSIGTIGE MOTIEWE

Leer jou kinders om Psalm 49:4 voluit uit te leef: “My mond gaan suiwer wysheid
praat; wat ek gaan sê, sal van wysheid getuig.” Wys aan jou kinders dat dubbel
agendas nie deel van jou lewe is nie. Leer hulle dat suiwer liefde nie manipulerend
van aard is nie. In alles wat ons sê en doen moet ons deursigtig wees. Verskuilde
agendas is nie deel van ons gesin se woordeskat nie.

 

5. DADE VAN GENADE

Wys julle kinders dat hierdie liefde vir Jesus jou toelaat om dade van genade te
genereer. Wees diensbaar en wees beskikbaar. En laat die Heilige Gees toe om deur
jou “act of kindness” te modelleer.

1 Kor. 9: 19 Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar
gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.
Liewe vriende en dit vra toewyding ...

6. TOEWYDING

Wys aan julle kinders hoe om as gesin die Here met toewyding te dien en in dieselfde
asem saam met ander gesinne die Here te aanbid. Skep ’n spangees, ’n hegte
eenheid binne die gesin. Modelleer aan jou kinders hoe jy die Here dien. Wys aan jou
kinders dat jou verhouding met die Here ’n ereplek in jou lewe het en om saam met
ander gesinne te aanbid ’n Bybelse opdrag is.

Hebreërs 10:25 Ons moenie van die samekomste van die gemeente af wegbly soos party
se gewoonte is nie, maar mekaar eerder aanmoedig om daarheen te gaan en dit des te meer namate julle die oordeelsdag sien nader kom.

Die Boodskap. Juis daarom moet ons gereeld bymekaarkom en nie sommer wegbly nie, al doen party van julle dit moedswillig. Laat ons mekaar se hande vat en mekaar daarmee help, veral as ons daaraan dink dat dit nie meer lank is voor die Here weer kom nie.

 

7. Slot.

Geloof moet prakties gemaak word deur eensgesind te wees: een in liefde, een van hart, een in strewe”.. Leer julle kinders hierdie 5 geloofswaardes aan:
Onvoorwaardelike liefde.
Dink voor jy doen.
Suiwer en deursigtige motiewe.
Dade van genade. “Act of kindness”
Toewyding

Spreuke 22:6  Gee leiding aan ’n jongmens oor hoe hy moet leef en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie.

AMEN