Lukas 6:32-36
Datum: 26 Augustus 2018
Prediker: Johan Morkel
Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is. Kinderbybel: Wees soos God: help ander mense.
Het mense al vir jou gesê: Jy lyk darem baie na jou pa of ma? Of jy is darem nes jou pa of ma? Of jy aard darem baie na jou pa of ma? Of jy is darem jou pa of ma uitgeknip? Kom ek help julle: Wie se pa of ma hou baie van sport? Netbal, atletiek, rugby, enige sport? En nou hou jy ook van dieselfde sport? Wie se pa of ma is baie lief vir diere? Honde, katte. perde? En nou is jy ook lief vir diere? Seuns: Wie se pa of ma hou baie van motors? Resiesmotors, nuwe motors? En nou hou jy ook van motors? Dogters: Wie se ma hou baie van naaldwerk en breiwerk? En nou hou jy ook van naaldwerk? Wie se pa of ma is baie vriendelik, glimlag en is vrolik? En nou sê die mense vir jou jy is darem nes jou pa of ma? Dit gebeur baie keer dat ons na ons ouers lyk; dieselfde praat as hulle; dieselfde maniertjies het; ons na hulle aard: jy is darem ‘n Morkel uitgeknip, ek kan darem sien jy is Piet se seun!
Ons het nie net ‘n aardse pa of ma nie. Ons het ook ‘n Vader/Pa wat in die hemel woon, ‘n Hemelse Vader, die Here. En nou word hier iets van ons Vader in die hemel gesê. Hier staan die Vader is barmhartig, die Here is barmhartig. In die Kinderbybel staan Hy help ander mense. Weet julle wat barmhartig beteken? Kom ons kyk bietjie in die Bybel hoe die Here barmhartig was. Wat het die Here gedoen toe die Israeliete nie kos/water in die woestyn gehad het nie? Hy het vir hulle kwartels(klein voëltjies) gegee om te eet. Hy het vir hulle manna(wat soos stukkies brood lyk) uit die hemel gegee om te eet. En Hy het vir hulle water uit ‘n rots gegee om te drink. Die Here was barmhartig. Die Here het gesien hulle kry swaar en hulle gehelp.
Wat het Jesus gedoen toe hy langs die see gepreek het en sien die mense is honger en dors en Hy het net 5 brode en 2 vissies om vir hulle te gee? Hy het die brood en vissies meer gemaak(vermeerder) sodat daar kos vir almal was. Die Here was barmhartig. Die Here het gesien hulle kry swaar en hulle gehelp. Wat het Jesus gedoen toe Hy by ‘n blinde, dowe en kreupel mens gekom het? Omdat Jesus barmhartig is, het Hy hulle gesondgemaak. ‘n Laaste voorbeeld: In hierdie gedeelte staan omdat Jesus lief is vir alle mense, barmhartig is oor alle mense, gee Hy vir almal sonskyn en gee Hy vir almal reën. Die Here is barmhartig. Hy gee om vir mense, Hy help mense, Hy kry mense jammer wat swaarkry en Hy help hulle.
Nou sê die Bybel: Ons moet soos ons Vader wees! Ons moet ook barmhartig wees. Ons moet ook ander mense help. Nou moet julle mooi luister. Soos ons aan die begin gesê het ons is baie keer soos ons aardse ouers, ons aard na ons aardse ouers, ons lyk soos hulle, so moet ons ook soos ons Hemelse Vader wees! Ons moet ook barmhartig wees! Ons moet ook ander mense help! Ons het nou gehoor hoe die Here in die Bybel barmhartig was, kom ons kyk hoe ons barmhartig kan wees. As jy ‘n sagte hart vir ander mense het, is jy barmhartig - soos die Here. As jou hart warm is vir ander mense wat swaarkry, (warmhartig = barmhartig), is jy barmhartig - soos die Here. As jy ander mense jammer kry wat minder het as jy, is jy barmhartig - soos die Here. As jy vir mense wil help wat swaarkry, is jy barmhartig - soos die Here.
Voorbeelde van barmhartigheid: Jy is barmhartig soos die Here as jy iemand sien wat geboelie word, en jy gaan wees lief vir hom/haar en jy gaan gee vir so iemand ‘n drukkie. Jy is barmhartig soos die Here as jy ‘n maatjie by die skool sien wat honger is, en jy deel jou toebroodjies met hom/haar. Jy is barmhartig soos die Here as jy R5 Kinderkerk toe bring vir julle projek vir die kinders wat arm en honger is. Jy is barmhartig soos die Here as jy vir ouma/oupa in die huis vir bejaardes te gaan besoek. Jy is barmhartig soos die Here as jy iemand pouse sien wat alleen en sonder maatjies is, en jy gaan gesels met hom/haar. Jy is barmhartig soos die Here as jy nie altyd nog en meer wil hê nie, maar van jou goed, dit wat jy het, klere wat jy nie gebruik, speelgoed, komberse, met ander te deel wat nie het nie.
Ek lees oor die naweek van ‘n dogtertjie van 9 jaar van Warmbad wat baie graag in ‘n landloop teen ‘n skool van Groblersdal wou deelneem. Sy het nie hardloopskoene gehad nie, toe koop haar ouers vir haar hardloopskoene. Tydens die wedloop kon die onderwyser op ‘n stadium nie sien waar sy is nie, sy het agter geraak. Toe sien hy dat sy besig is om ‘n dogter van die skool teen wie hulle deelneem, te dra. Die veld het dorings gehad en dié (swart) dogtertjie het nie hardloopskoene gehad nie. Toe dra sy haar teenstander. Die onderwyser sê toe vir haar dit is nie nodig nie, maar sy sê dit is wat sy wil doen! Die onderwyser sê hy gaan Maandag in die saalbyeenkoms by die skool vir haar ‘n medalje gee!
As ons ons dit begin doen, so lewe, omgee vir die mense wat minder het, dan gaan mense begin sê: ons lyk na ons Vader, ons is soos Jesus was toe Hy op aarde was, ons het dieselfde hart as wat Hy gehad het! Omdat die Here in ons(harte) woon, kan ons dit doen, kan ons dit regkry om soos Hy te wees. Hy help ons!
Nou wil ek graag hê julle moet in twee groepe hier voor die kansel kom staan. Deel aan die een groep elkeen ‘n lekker uit. Vra hulle nou om die lekker aan die ander te gee wat nie het. Nou was julle barmhartig! Die Here sal dit gedoen het. Ons is ook barmhartig, so daarom gee ons nou vir julle ook weer elkeen ‘n lekker!
Volwassenes: Wie van julle het in die laaste Kerkbode gelees van die gemeente Lynnwood? Dit het my nogal aangegryp. ‘n Groepie van 10 jongmense in die gemeente het besluit om vir ‘n week lank met net R14 per persoon per dag kos te koop(ongeveer 1 dollar). 1.1 Miljard mense in die wêreld leef met net R14 per persoon per dag - alles ingesluit. Hierdie groep het net kos gekoop vir ‘n week lank vir R14 ‘n dag per persoon. Hulle sê daarna dat hulle so honger was dat hulle nie kon werk nie en dat dit baie moeilik vir hulle as. Hulle het ook gevind as hulle saamwerk, hulle verder met die geld kom as op hul eie. Hulle het soggens saamgekom en pap gemaak en saam geeët. Op die manier het hulle besef hoe baie mense swaarkry. Hulle ‘n dieper betekenis van barmhartigheid gekry en sal in die toekoms ‘n oper hand vir ander hê.
Amen