Matteus 20:1–16

Datum: 11 Januarie 2026 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Janse van Rensburg

“Vir ‘n video opname van die preek kliek hier om dit te kyk”

Preek sal gepubliseer word sodra beskikbaar

Wanneer ’n Dominee by ’n nuwe gemeente begin, is daar altyd ’n mengsel van verwagting en onsekerheid. Vir die Dominee is alles nuut: mense, stories, tradisies, wonde en hoop. Vir die gemeente is daar ook vrae: Wie is hierdie leraar? Wat lê voor? Wat gaan verander – en wat gaan dieselfde bly?

 

In so ’n oomblik help die Bybel ons om weer te hoor wie ons regtig is. Nie eers ’n Dominee en ’n gemeente nie, maar werkers in God se wingerd. Hierdie beeld herinner ons daaraan dat die kerk nie aan ons behoort nie. Die wingerd is God s’n. Nie die Dominee s’n nie. Nie die kerkraad s’n nie. Nie die gemeente s’n nie. Dit is God se werk, God se sending, God se droom.

 

In die gelykenis word arbeiders op verskillende tye van die dag geroep: vroegoggend, later in die dag, selfs teen laatmiddag. Dit vertel iets belangriks van God se manier van werk.

 

In ’n gemeente is daar mense wat al dekades lank in die wingerd werk. Hulle dra herinneringe, opofferings en stories van getrouheid. Daar is ander wat later aangesluit het – dalk ná seer, twyfel of ’n nuwe begin. En nou is daar ook ’n nuwe Dominee wat sy ek inneem in God se wingerd hier. Niemand is meer of minder werd nie. Elkeen is hier omdat God roep, stuur en toerus.

 

Die verrassende deel van die gelykenis is dat almal dieselfde loon ontvang. Dit bots met ons menslike idee van verdienste. Maar Jesus leer ons: in God se koninkryk gaan dit nie oor verdien nie, maar oor genade.

 

Vir ’n nuwe hoofstuk in ons gemeente se verhaal is dit uiters belangrik. Die gemeente en die Dominee begin nie saam op grond van prestasie of verwagtinge nie, maar op grond van God se genadige roeping. Ons werk nie om God se liefde te wen nie. Ons werk omdat ons reeds geliefd is.

 

Vandag staan ons aan die begin van ’n nuwe hoofstuk. Nie met vrees nie, maar met verwagting. Nie alleen nie, maar saam in God se wingerd. Ons staan ook nie aan die begin van ’n nuwe projek nie, maar aan die voortsetting van God se werk. Ons word nie geroep om die wingerd te besit nie, maar om daarin te werk. Saam. Met nederigheid. Met hoop.

 

Mag hierdie nuwe seisoen een wees waarin ons leer om mekaar as geskenke te ontvang, om mekaar se werk te eer, en om saam te vertrou dat God self die groei sal gee. Want dit is en bly God se wingerd.