1 Petrus 2:1-10

Datum: 23 Februarie 2020 (Oggenddiens)

Prediker: Johan Morkel

Wie of wat is die kerk, ek en jy?  Wie is ons wat onsself die kerk van Jesus Christus noem?  Kom ons kyk hoe Petrus in vanoggend se gedeelte dié vraag beantwoord.

 

Om mee te begin, gaan ek drie sinsnedes van Petrus wat dieselfde saak beskryf,kombinner.  Ons is in die eerste plek(sê Petrus in v.9) mense wat deur God uitverkies is, mense wat uit die duisternis geroep is tot die lig, mense aan wie God barmhartigheid bewys het.  Dat ons vanoggend hier in die kerk sit en onsself gelowiges noem, kinders van die Here noem, gemeente/kerk van Jesus Christus noem, moet ons goed verstaan, is nie deur ons eie toedoen nie.  Dit is ook nie omdat ons sulke oulike of goeie mense is nie of omdat ons so vroom of  godsdienstig is nie.  Dat ons kinders van die Here is, is enkel en alleen aan God, aan God se genade, te danke!  God het ons uitverkies, God het gekies om ons uit genade sy eiendom gemaak.  God het (soos Petrus sê) ons uit die duisternis tot sy lig gebring.  God het ons gered vanuit die sonde/verlorenheid.  God het ons kinders van Hom, kinders van die Lig gemaak.  God het (om die laaste sin van Petrus te gebruik) barmhartigheid aan ons bewys deur sy Seun Jesus Christus aan die kruis te laat sterf.  Punt 1: Wie is ons?  Ons is mense wat deur die genade van God in Jesus Christus eiendom van God gemaak is.

 

Tweedens:  Wie sê Petrus, is ons verder?  In v.5 wys Petrus vir ons op die verantwoordelikheid wat elkeen van ons as medegelowiges teenoor mekaar het.  V.5: Laat julle as lewende stene opbou tot ‘n geestelike huis, om ‘n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.  Laat julle as lewende stene opbou: Ons is mense wat beskikbaar is, mense wat bereid is om opgebou te word, ingemessel te word, ons plek tussen die ander stene in die geestelike huis van de Eike in te neem.  Ons is “lewende stene”, sê Petrus verder.  ‘n Lewende steen is tog anders as ‘n dooie steen.  ‘n Lewende steen of lewende lidmaat is betrokke, raak soos ‘n steen ander stene rondom hom/haar aan.  ‘n Lewende steen maak ‘n verskil aan die lewens van stene rondom hom/haar.  Die priester het in die Ou Testament in die tempel gewerk, offers na God gebring - diens gedoen in die tempel.  As Petrus ons “’n priesterdom” noem, sê hy, ons moet ook dien soos priesters gedien het.  Ons moet ook dien soos Jesus gedien het.  Kan ek jou maar vra:  Waar dien jy in die gemeente?  Waar is jy betrokkel?  Waar dien jy jou medegelowige/medemens?  Punt 2: Wie is ons?  Ons is mense wat soos stene in ‘n gebou mekaar nodig het, nie sonder mekaar kan klaarkom nie.  Ons bou mekaar op in die geloof, ons dra mekaar, ondersteun mekaar, bid vir mekaar.

 

Mens sou dalk hier kon stop.   Dit wat Petrus tot dusver gesê het, omtrent “wie ons is”, is seker genoeg?  Dit is seker voldoende?  Dit is tog seker wat gemeente-wees is?  Ons is mense wat uit genade deur Jesus Christus gered is en aan God behoort. Ons is mense wat ons verantwoordelikheid teenoor mekaar as medegelowiges uitleef.

 

Maar Petrus stop nie hier nie.  Petrus gaan verder.  Petrus wys op ‘n verdere aspek van gemeente-wees, van “wie ons is”.  Petrus gaan voort in v.9, “Ons is ook mense wat die verlossingsdade van God moet verkondig”.  Die kerk is ook mense wat die verlossingsdade van God verkondig, wat ‘n getuienistaak het.  Ons is gestuurdes van God – mense wat deur die Here gestuur is, wat die verlossing wat ons te beurt geval het, ook aan ander bring.  Is ons dit wat Petrus sê ons is?  Is jy ‘n verkondiger van die verlossingsdade van God?  (Eintlik moet mens dié vraag vra aan die mense met wie jy elke dag in aanraking kom)  Maak ons, de Eike, erns met hierdie derde aspek van gemeente wees, van wie ons is?

 

Kom ons neem ‘n drie-been stoeltjie as voorbeeld.  Kan ‘n drie-been stoeltjie staan as mens een van die pote/bene afbreek?  Nee, dan val hy in mekaar, dan is dit nie meer ‘n stoel nie, dan voldoen hy nie meer aan wat hy is nie.  Dieselfde is waar van die kerk, ‘n gemeente.  As ons volstaan met die die eerste twee bene van “wie ons is”, dat ons gered is en dat ons ons verantwoordelikheid teenoor mekaar nakom, maar die derde verantwoordelikheid, ons getuienistaak, versaak, is ons soos ‘n drie-beenstoeltjie waarvan die een been afgebreek is.  Ons voldoen nie aan wat ons veronderstel is om te wees nie; ons is nie meer kerk nie!

 

Ons kan vanoggend kan “ja” antwoord op die vraag of ons ons getuienistaak ernstig opneem.  Ons kan sê ons as gemeente is betrokke by al die verskillende terreine wat op die brosjure wat julle ontvang het.  Plaaslik: Huis de Kuilen, die maatskaplike werkers by die skole, Kos vir Skole, Aksie Samaritaan, die speurtak van die plaaslike SAPD.  En verder by Badisa, Green Park, Huis Sonop, Kalkfontein en VGK Koelenhof.  En nog verder(uithoeke) by Mosambiek, Indië, FEBA radio en Bibles for Believers.  Hierdie getuienisaksie van De Eike is ‘n sukses-verhaal.  Dit vertel die die verhaal van hoedat die Here hierdie instansies oor ons pad gebring het en deur die jare voorsien sodat ons steeds by hulle kan betrokke bly.  Prys die Here daarvoor.  Ons gaan nou verder hoor van verteenwoordigers van sommige van die instansies oor hoedat ons betrokkenheid by hulle hulle raak.  Ek wil mooi vra, bly betrokke, bly hulle ondersteun.  Sluit by die Getuienis-aksie aan om self te beleef wat die Here alles daar doen!

 

Ek wil egter afsluit: Ons moet nie net volstaan met die gemeente se betrokkenheid op al hierdie terreine nie.  Ons is elkeen elke dag ook ‘n draer van die Verlossingsboodskap van God.  Ons kry elke dag geleentheid om deur: dit wat ons sê, dit wat ons doen, ons gesindheid teenoor ander, ons voorbeeld, draers te wees van die Verlossingsboodskap van Jesus Christus.  As ons by die deure van die kerkgebou uitstap, is elkeen van ons ‘n sendeling, ‘n gestuurde!

AMEN