25 Januarie 2018
In die media het ons die afgelope twee weke gereeld die storie gelees van twee jong seuns wat in die hartseer van ‘n treinongeluk hoop kom skep het. Die storie laat my wonder. Sou ek dieselfde gedoen het? Sou ek dalk ook, soos die twee seuns, oorgegaan het en ‘n radikale reddingspoging uitgevoer het in brandende treine en bebloede lyke? Die eerlike waarheid is: ek weet nie. Wat ek wel leer uit die storie is dat liefde nie grense het nie. Miskien is dit wat God ons ook hierdie jaar in De Eike wil leer. Liefde is groter as ons. Liefde is om radikaal anders te leef.
‘n Mens kan op verskillende maniere dink oor radikale verandering in ons gemeente. Jy kan dink in terme van ‘n radikale verandering van ons kerk se eredienste, geboue, personeel, gronde en werksaamhede. Maar dis nie regtig wat ons bedoel nie. Ons wil veel eerder mense uitdaag om radikaal anders te leef. Om só te leef dat Jesus se liefde ‘n werklikheid raak in baie mense se gebrokenheid. Om so te leef gaan ons iets moet verstaan van radikaal en dissipelskap.
Radikaal is ‘n gevaarlike woord met baie kontekste. Radikaal kan na enigiets verwys: van ‘n radikale politieke party tot ‘n radikale denkwyse. Radikaal kan iets wees wat ek aantrek of iets wees wat ek eet. In wese kry die woord radikaal sy oorsprong van die Latynse woord “Radix.” ‘n Woord wat wesenlik gebruik is binne ‘n politieke atmosfeer en sterk verwys na oortuiging. Sommige mense verwys selfs daarna om so oortuig te wees dat my denke / opinie eintlik gegrond is in iets.
Dissipelskap aan die ander kant beteken om ‘n volgeling te wees van iets. Binne ons Christelike geloof beteken dit bloot om alles na te volg wat ons Rabbi, Jesus Christus, vir ons kom leer het. Om ‘n volgeling van Jesus te wees beteken ook dat ons in ‘n anderste tipe verhouding met Jesus is. Kom ek verduidelik: die antieke kerk het dissipelskap verstaan aan die hand van hoe dissipels destyds agter hul rabbi’s aan geloop het. Daar was destyds ‘n gesegde wat gesê het, “mag die stof van my Rabbi op my voete val.” Dissipels was volgelinge van hul Rabbi’s en het 24/7 agter hul aangeloop, met die gevolg dat die Rabbi se stof wat hy op die grondpad veroorsaak op sy volgelinge se voete geval het.
Dit is ook baie interessant om te onthou dat Jesus se 12 dissipels eers dissipels was, en toe apostels. En as dissipels was hulle onder die instruksie van hul leermeester. Dis wat dissipelskap ook in ons geval beteken: ook ons staan as sy dissipels onder die instruksie van Jesus Christus. In Engels gebruik hulle so mooi die woorde “under discipline.” Hiervolgens moet dissipelskap verstaan word as ‘n heelhartige begrip. ‘n Begrip wat ook saamgevat kan word in die volgende woorde van Mother Theresa, “Spread love everywhere you go. Let no one ever come to you without leaving happier.”
As ons as De Eike dan sê ons wil radikaal anders wees, dan beteken dit dat ons denke, lewenswyses, siele gegrond moet wees in die wete dat ons navolgers is van Jesus Christus. Ons opinies moet gegrond wees in Jesus Christus se liefde en hierdie liefde moet dan dryf om gestuurdes te wees vir die Koninkryk van God. Ons moet verstaan dat ons eers navolgers is en dan gestuurdes.
Hierdeur sê ons dan dat ons hart vir De Eike, is dat die ‘stof’ van Jesus op ons harte sal val. Ons hart vir De Eike is dat ons op nuut sal besef dat ons volgelinge van Jesus is. Ons hart vir De Eike is dat ons radikaal anders sal leef, want Jesus het ons dit geleer hoe om radikaal anders te leef.