14 September 2023

“Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig!” (Romeine 10:15 Afr53)

“Ek het Christenskap gehaat,” sê Sam Kalonjele, wat tot bekering gekom het nadat hy ’n Chiyao oudio-Bybel ontvang het. Hierdie gevoel is nie buitengewoon onder die Yao-mense wat langs die Malawi-meer in Mosambiek, Malawi en Tanzanië woon nie. Hulle is oorweldigend Moslem, met ’n versigtigheid vir Christenskap wat in hul geskiedenis gewortel is. Toe Christene die streek binnegekom en die afskaffing van slawerny voorgestaan het, het die Yao baie van die heerskappy verloor wat hulle saam met Arabiese handelaars opgebou het – ‘n vennootskap wat daartoe gelei het dat die Yao-bevolking Islam as godsdiens aangeneem het. Intussen het Sam al 30 luisteraarklubs in en om verskeie Machinga dorpies gestig.

“Ek wil graag húlle bedank wat bid vir die verlossing van die Yao…”

Só skryf FEBA Malawi se Direkteur, eerw. Amos Siyabu. FEBA Malawi, plaaslik bekend as Litala FM, is passievol oor hul bediening onder die Yao. Buiten vir hul FM-uitsendings, wat by ’n gehuurde ateljee in Blantyre vervaardig word en ook op ander netwerke uitgesaai word, versprei die span opwenradio’s, Bybels, Yao-boekies en oudio-Bybels in die Yao-taal, Chiyao. Hulle stig luisteraarklubs, waar tot 50 mense bymekaar kom om saam na Litala FM se programme te luister, en saai ook via kortgolfradio uit na die Yao wat in Tanzanië woon. Litala FM se bediening sluit baie fisieke werk in. Hulle lewer radio’s af in dorpies, deel Bybels en bykomende leesstof uit en doen individuele opvolgwerk met hul luisteraars. Die span het onlangs met dissipelskap-programme begin – ’n onderneming wat seën en vrug dra.

Oorwinnings

Teen einde Julie het Litala FM tienduisende luisteraars oor alle platforms. Hulle het die afgelope paar maande daarin geslaag om 112 luisteraarklubs in Malawi te besoek en te stig. Hulle het ook verskeie jongmense in media en vervaardiging opgelei, waarvan sommige die opleiding in Julie voltooi het.

‘n Span uit Blantyre het onlangs die Ngauma-distrik in Mosambiek besoek en dissipelskap-programme vir alle ouderdomme aangebied. Twintig groepe het hulself aan die taak van dissipelskap toegewy en getuig nou van God se werk in hul geledere. Een van die mans wat Christus deur so ’n groep ontmoet het, sê: “Ek dank God dat ek nou by ’n Bybelstudiegroep kan aansluit en terselfdertyd na Litala FM radio luister. Ek was ’n Moslem en geniet dit nou om ’n dissipel van Jesus Christus te wees.” Hierdie man en sy hele gesin het Christus aanvaar deur na Litala FM se programme te luister.

Beproewings

Die brandstofprys neem toe, terwyl brandstof skaarser raak. Al hierdie dinge raak die FEBA Malawi-span.

Sommige van die personeel is al op pad werk toe, of terug, deur boewe aangerand, buskaartjies raak duurder en hulle sukkel om die pot aan die kook te hou. Brandstof uitgawes maak dit moeilik om opvolgwerk in afgeleë gebiede te doen. Boonop sukkel die span met ’n tekort aan hulpbronne: hulle kort meer Bybels, radio’s, oudio-Bybels en materiaal vir dissipelskap-opleiding. Hulle bid ernstig vir hul eie ateljee en meer opname-toerusting, sodat hulle beter inhoud vir hul luisteraars kan vervaardig.

Bogenoemde is die probleme van ’n dinamiese, vrugdraende bediening. Daar is geen traagheid nie. FEBA Malawi werk konstant om die oes in te bring, en hulle doen dit met dankbaarheid. Die span, soos hul luisteraars, stap elke dag ’n pad wat vol uitdagings is. Tog, skryf eerw. Siyabu, “doen ons span hier hul bes om luisteraars se moraal hoog te hou deur hulle die Woord van God te bied, wat hulle help om God se vertroosting deur ons uitsendings te ervaar.”

Mag God jou ryklik seën.

Dr Jurie Vermeulen

Nasionale Direkteur

FEBA RADIO Suid-Afrika

SEPTEMBER 2023
“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die
nuwe het gekom.” (2 Korintiërs 5:17 Afr83)

 

Vrydag 1 September: Sedert die begin van die Russies-Oekraïnse oorlog het FEBA Moldowa al meer as 70,000 vlugtelinge uit hul buurland, die Oekraïne, gehelp. Hulle deel benodigdhede uit, asook USB-stokkies met inhoud wat FEBA Oekraïne voorberei het om hul mense te bemoedig. Bid dat FEBA Moldowa se ruimhartigheid meer mense na Christus toe sal lei.

Saterdag & Sondag 2-3 September: As die kern swak is, verkrummel die struktuur. FEBA het ‘n groot bediening reg oor die wêreld, wat bestuur word deur ‘n kerngroep leiers wat uitdagende besluite moet neem en mense soms onder moeilike omstandighede met wysheid moet lei. Bid dat FEBA se kern sterk en geanker in Christus sal bly, sodat die bediening kan floreer. Totdat almal gehoor het.

Maandag 4 September: FEBA Suid-Afrika, onder leiding van Dr Jurie Vermeulen, ondersteun radiostasies in Mosambiek, Malawi, Mali en Tsjad. Bid dat hul werk beloon sal word en dat die uitsendings dié wat móét hoor, sal bereik.

Dinsdag 5 September: “Ek volg en luister die afgelope maand na jul regstreekse uitsendings op Facebook. Ek dank God daarvoor, want ek is ongeletterd; ek het nie skoolgegaan as kind nie, so ekmaak slegs staat op luister. Ek luister na die Woord van God en memoriseer dit.” (Hmong Radio luisteraar, Suidoos-Asië)

Woensdag 6 September: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” (2 Korintiërs 5:17 Afr83)

Donderdag 7 September: Een van FEBA se projekte is daarop gemik om Moslems in Rusland, Kazakstan en Kirgisië te bereik deur middel van voormalige Moslems se getuienisse oor hul bekering. Bid vir FEBA-spanne in Eurasië en Sentraal-Asië, sowel as dié wat hul getuienisse deel, want hulle leef voortdurend met dreigemente van vervolging.

Vrydag 8 September: Bid vir FEBA Mali. Elke keer wanneer dit reën, word hulle geforseer om op te hou uitsaai weens die gevaar van weerlig. Bid dat hulle ‘n manier sal kry om die stasie op lug te hou tydens reënbuie, sodat meer mense God se Woord kan hoor.

Saterdag & Sondag 9-10 September: In China monitor en beperk die regering internet en sosiale media. Inhoud wat die woord “Christus” bevat, word gesensor,  en dit raak al moeiliker vir huiskerke om aanlyn te vergader. Ten spyte daarvan groei dieChristendom vinnig. Bid dat FEBA China nuwe en kreatiewe maniere sal vind hoe die Goeie Nuus China voortdurend kan binnevloei…totdat almal gehoor het.

Maandag 11 September: FEBA Indonesië het ‘n kinderbeskermingsprojek om mense in te lig oor kinderhandel, veral in klein dorpies. Te danke aan uitsendings en bewusmakingsprogramme, het kinderhandel afgeneem. Bid dat hierdie projek van FEBA Indonesië sal help om hierdie boosheid volkome te vernietig.

Dinsdag 12 September: “Ek leef al lank, maar ek het nog nooit die waarhede wat julle deel, gehoor nie. Hulle het my denkwyse verander en nou, op my oudag, het ek begin om waarlik ‘n goeie lewe te lei.” (FEBA Kirgisië-luisteraar)

Woensdag 13 September: “Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen … Ek maak in die woestyn ‘n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring.” (Jesaja 43:18-19 Afr83)

Donderdag 14 September: FEBA Thailand werk aan nuwe etniese taal-uitsendings vir mensegroepe in die noorde van Thailand. Bid dat hul voorbereidings goed sal verloop en dat die programme baie harte sal aanraak.

Vrydag 15 September: Daar is sowat 1,3 miljoen Dowe mense in Viëtnam. FEBA Viëtnam werk saam met die Viëtnam Bybelgenootskap vir Dowes om gebaretaal-vertalings op video vir hul uitsendings te vervaardig. Bid dat God hierdie projek en die Dowe gemeenskap van Viëtnam sal seën.

Saterdag & Sondag 16-17 September: FEBA Malawi het ‘n dinamiese bediening met tienduisende luisteraars. In die afgelope klompie maande het hulle 112 luisteraarklubs besoek en/of gestig. Die ekonomie tref hard, maar hulle hou aan werk om die oes in te bring, soveel so dat hulle gedurig ‘n tekort het aan materiaal om uit te deel. Bid dat God genoeg Bybels, oudio-Bybels, radio’s en Yao- boekies sal voorsien, sodat Sy Koninkryk in Malawi kan aanhou groei.

 

Maandag 18 September: FEBA Kazakstan se getuienis-video’s is al deur meer as 100,000 mense gekyk, en die meeste van hulle is Moslem. Bid dat FEBA Kazakstan se vervaardigers en die Christene wat hul stories deel, veilig sal wees. Bid dat hul getuienisse kykers sal aanmoedig om meer van Christus te leer.

Dinsdag 19 September: “Danksy KanuYah FM Sollo het ek my tot die Christendom bekeer. Ek het wondere in my lewe sien gebeur soos ek volhard in my geloof, ten spyte van my gesin se openlike vervolging. Hoe slegter ek behandel word, hoe meer gereeld luister ek na julle.” (FEBA Mali-luisteraar)

Woensdag 20 September: “… deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut. U trou is groot.” (Klaagliedere 3:22-23 Afr83)

Donderdag 21 September: Bid vir FEBA Taiwan. Hulle is nie net in die middel van ‘n erge  tifoonseisoen nie, maar die land beleef ook tans politieke onrus. Bid dat FEBA Taiwan hul werk veilig sal kan voortsit en dat hulle God se vrede met meer luisteraars sal kan deel.

Vrydag 22 September: Die mense in Noord-Korea ly honger as gevolg van Kim Jong Un se inperkings op in- en uitvoere. Nou het geweldige vloede boonop die oeste vernietig. Bid dat God hulle liggaamlik en geestelik sal voed.

Bid dat hulle FEBA Korea se uitsendings sal hoor en hoop in Christus sal vind.

Saterdag & Sondag 23-24 September: FEBA bedien vlugtelinge reg oor die wêreld. In Moldowa help die span vlugtelinge uit die Oekraïne; in Indonesië werk Radio PARS onder Iranese vlugtelinge; en Pakistan het al meer as 1,4 miljoen vlugtelinge uit Afghanistan. Vlugtelinge word dikwels na die rand van die samelewing verstoot, sonder ‘n tuiste of inkomste. FEBA-spanne deel kos en ander benodigdhede uit, tesame met radio’s en Bybels in die vlugtelinge se moedertaal, indien moontlik. Bid dat FEBA die vlugtelinge sal help om ‘n tuiste in Christus te vind.

Maandag 25 September: Bid vir die FEBA Filippyne-span. Hierdie tifoonseisoen het reeds baie verwoesting in hul land gesaai. Bid dat God die radiostasies by Iba en Bocaue se infrastruktuur sal bewaar, sodat hulle kan aanhou uitsaai, en dat Hy die span veilig sal bewaar wanneer hulle reis.

Dinsdag 26 September: “’n Vriend het vir my ‘n radio gegee en ek het op FEBA ingeskakel sodat ek na God se Woord kon luister. Ek dank God dat Hy my hart se wonde genees en my gesin gered het.” (FEBA Kambodja-luisteraar)

Woensdag 27 September: “Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.” (1 Petrus 1:3 Afr83)

Donderdag 28 September: ‘n Nuwe neiging het in China opgeduik – jongmense besoek tempels en brand wierook. Bid dat God FEBA China se programme sal gebruik om met die land se jongmense te praat, sodat hulle sal weet dat Hy die ware God is.

Vrydag 29 September: FEBA Indië het onlangs twee nuwe etniese taal-uitsendings geloods. Die span sê beide programme het ‘n hoë luistertal. Prys God dat Hy FEBA Indië se harde werk beloon en bid dat baie mense Christus deur hul programme sal aanvaar.

Saterdag & Sondag 30 September – 1 Oktober: Prys God vir die wyse waarop Hy FEBA Mosambiek se jeug dissipelskapprogramme seën. Radio Chiuanjota se uitsendings trek baie jong luisteraars, waarvan sommige kies om ‘n lewe van misdaad agter te laat en hul lewens aan God te wy. FEBA Mosambiek het sover 20 groot luisteraarklubs in vier provinsies gestig. Bid dat God sal aanhou om jongmense in Mosambiek se lewens te verander deur Radio Chiuanjota se jeug dissipelskapprogramme.