18 Augustus 2023

Liewe Vriende,

Hartlike groete uit Suid-Afrika. Vir die afgelope paar weke was ons bevoorreg om in een van die mooiste plekke wat God geskape het, te kon wees. Alhoewel ons gedurende hierdie besoek baie moes rond beweeg, is ons dankbaar vir die dae wat ons net die pragtige natuurskoon rondom ons kon geniet.

 

Baie dankie vir julle gebede vir Priyanka en Nadia terwyl hulle eksamen geskryf het. Albei het baie hard gewerk en voel dat dit goed gegaan het, ons vertrou dat hulle tevrede sal wees met die uitslae as dit kom. Priyanka se gradeplegtigheid was die 17de Junie, dit was ‘n pragtige geleentheid en ons is so trots op haar! Sy het werklik deurgedruk ten spyte van baie persoonlike uitdagings en vorder steeds baie goed met die Here se hulp.

 

Ons is beide opgewonde en bang waar ons nou voor die deur van ‘n nuwe seisoen staan. Priyanka het gekies om verder in Suid-Afrika (Kaapstad) te studeer en beplan om volgende jaar te begin met “Communication Design”. Intussen het sy tot klasse begin ‘n deeltydse werk en verblyf op Stellenbosch gekry. Sy hoop om nog werk by te kry, maar haar voet is in die deur en ons is baie dankbaar. Die res van ons keer 13 Augustus terug na Indië. Bid asb vir ons waar ons eersdaags moet groet. Ons weet ons laat Priyanka in die Here se sorg en dat Hy haar onsettend liefhet, maar dit bly moeilik om haar hier agter te laat. Ons sal julle gebede baie waardeer!

 

Die werk in Indië gaan soos gewoonlik baie goed voort in ons afwesigheid en ons is die Here dankbaar vir toegewyde en bekwame personeel. Rahul is daagliks met hulle in kontak en bly sodoende ingelig en kan situasies hanteer soos nodig.

 

Sodra ons terugkeer sal Rahul die eienaar van ‘n moontlike plek wat ons as Sorgsentrum kan huur ontmoet. Ons bid dat hierdie uiteindelik die antwoord op ons gebede vir ‘n meer permanente plek, waar ons met ons kinders byeen kan kom, sal wees. Vertrou die Here asb saam met ons vir ‘n deurbraak. Ons weet die vyand sal hierdie deur ook probeer toemaak, maar ons glo dat ons binnekort sal getuig van God se voorsiening, tot eer van sy Naam!

 

Ons is so dankbaar vir julle! Jul liefde, gebede en ondersteuning seën ons, baie dankie!

 

Met liefde,

Rahul, Lorette, Priyanka en Nadia