3 Oktober 2019

Liewe Gemeente

Ek was nog skaars terug van die Camino af, toe ry ek alweer Stellenbosch toe vir die Algemene Jaarvergadering van die SA Kerkorrelistevereniging.  Dit is en was deur al die jare my lewensaar by die kerkorrel en ek mis daardie byeenkoms nie maklik nie – die orreliste ken mekaar al vanuit die Noorde en Suide van ons land en dis ‘n geselsery van die eerste water.  Behalwe die Vonkk-liedere se aanbieding, was een van die hoogtepunte vanjaar vir my Barry Smith, baie bekende afgetrede orrelis, se praatjie.  Dit was in Engels, met die tema, “A Touch of Humour” – hy het ons laat lag met staaltjies van orreliste vanoor die hele wêreld.  Ek het lanklaas soveel binnepret gehad.

 

Die hoofonderwerp was die verskillende “genres” van die Vonkk-liedere en in watter dienste ons dit kan gebruik.

 

Ds Hannes vd Merwe het gepraat oor die Psalms in die Vonkk-liedereskat en ek was trots dat De Eike al ‘n hele paar daarvan sing, bv. Vonkk 4 (Ps 96) – Sing vir die Heer en Vonkk 85 (Ps 8) – Here, ons Here, hoe groot is U.  Daar is ‘n klompie pragtige kontemporêre Vonkk-liedere waaronder Vonkk 126 – Hoër as die hemel, Vonkk 344 – ?rens kom ‘n kind vandaan (‘n pragtige lied by die Doop), Vonkk 359 – Die Here seën en bewaar jou (The Lord bless and keep you), Vonkk 403 – Op U verlaat ek my (ou Halleluja) en baie ander.

 

Ds Jacques Louw het oor Vonkk se klassieke liedere gesels.  Sommige daarvan is bekende ekumeniese liedere vanoor die wêreld, sommige kom uit die Halleluja-bundel (ons het verlede Sondag reeds 2 daarvan gesing), sommige is tradisionele liedere en dan is daar ook eietydse nuutskeppings uit Suid-Afrika.  Hier was ek die blyste oor Vonkk 345 – Seën ons huisgesinne, Heer (Bless this House o Lord, we pray) – Reinhardt Liebenberg sing dit DV vir ons by die Dankbaarheids Feesdiens.  Daar is ook ‘n pragtige Nagmaals lied, Vonkk 280 – U nooi ons na u tafel, Heer, wat ek vir die gemeente sal leer.  Ons het reeds Vonkk 38 (op die wysie van Bly by my Heer) – Wegstuur met Seën Sondag gesing – dis vir my persoonlik ‘n lieflike lied wat ons soms ná die Uitspreek van die Seën kan sing.

 

Dr Gerrit Jordaan het Vonkk se Meditatiewe liedere behandel.  Ek het dit vir Jaco Burger deurgegee vir moontlike gebruik by die aandsang. Vonkk 266 (Shalom Chaverim) en Vonkk 72 (Wees stil, want die Heilige is hier) sing ons alreeds.

 

‘n Mens kry so waardering wanneer jy by so ‘n geleentheid kom en ons Saakgelastigde het vooraf gesorg dat al jou goed reg is daar.  En dan besef ‘n mens maar net weer elke keer De Eike se Sangbediening is absoluut deel van die Woordverkondiging en dat ons regtig op die voorpunt is van die aanleer van nuwe én ou liedere, selfs met ons geliefde Liedboek.

Baie dankie vir hierdie wonderlike geleentheid.

René Ferreira

Orrelis