19 April 2024

Die woorde van Koos du Plessis se Gebed bly die afgelope week in my kop draai:

“Wat ek is, is net genade,
Wat ek het, is net geleen”

En hoe waar is dit nie?

Wat – en wie – ek is in Christus, is net loutere genade.  Daarom leef ek in dankbaarheid.

Wat ek het – alles wat ek myne noem – is nie regtig myne nie.  Alles wat ek het, behoort aan die Here en is my net geleen.

 

Ons is rentmeesters vir die Here en dit beteken ons lewe vir die Here en alles wat ons het – ons geld, ons gawes, ons talente en vermoëns – behoort aan Hom.  Die Here het die eerste en die laaste sê daaroor.  Die feit dat die gawes waaroor ons as rentmeesters aangestel is, nie aan ons behoort nie, stel ons juis onder die verpligting om as goeie bestuurders op te tree.  Daarom sal ons as gelowiges die Here se eiendom wat Hy aan ons toevertrou het, tot sy eer bestuur.

 

Rentmeesterskap gaan ook oor verantwoordbaarheid:

 

  1. In die eerste plek is ons verantwoordbaar teenoor God. Alles wat ons is, en alles wat ons het, is geskenke van God.   Ons kan besluit hoe ons ons gawes, tyd en geld aanwend, maar as bestuurders is ons altyd ondergeskik aan die Here se wil.  Dit beteken ook dat ons die werk wat uit Sy hand kom goed en met ywer sal doen.

 

  1. Ons as mense leef nie in afsondering nie. Ons staan binne ‘n gesinsverband, in ‘n gemeente en ons maak deel uit van ‘n gemeenskap.  Ons optrede en besluite beïnvloed tog diegene rondom ons.  Daarom is ons ook verantwoordbaar teenoor gemeentelede, mede-gelowiges en die samelewing in die breë.  Ons is ook rentmeesters sodat ons dié wat swaarkry in hulle nood kan help.

 

Rentmeesterskap vra dat ons (te alle tye) met verantwoordelikheid moet optree en beskikbare hulpmiddele met wysheid moet aanwend.

 

Lukas 12: 29 – 31 is vir my ‘n gerusstelling: As ons dan doen wat die Here van ons verwag, het ons nie nodig  om oor die dag van môre bekommerd te wees nie.  Ons is God se kinders en Hy neem verantwoordelikheid vir ons.

 

Goeie rentmeesterskap beteken dat ‘n persoon alles wat hy is en het, laat saamwerk om God se wil op aarde te laat geskied.  Deur verantwoordelike rentmeesters te wees, dien en verheerlik ons die Here.