31 Oktober 2019

Ek hoor dikwels mense sê dat die kerk nie ‘n besigheid is nie.  Ek stem saam, en gee toe dat die kerk in baie opsigte anders as ‘n besigheid funksioneer.  Dit beteken egter glad nie dat ons daarvan vrygestel is om gesonde besigheidsbeginsels toe te pas nie.  Die feit dat die gawes waaroor ons as rentmeesters aangestel is, nie aan ons behoort nie, stel ons juis onder die verpligting om as goeie bestuurders op te tree.

Rentmeesterskap gaan vir my ten diepste oor verantwoordbaarheid.

  1. In die eerste plek is ons verantwoordbaar teenoor God. Alles wat ons is, en alles wat ons het, is geskenke van God.   Ons kan besluit hoe ons ons gawes, tyd en geld aanwend, maar as bestuurders is ons altyd ondergeskik aan die Here se wil.  Dit vra deeglike besinning en ‘n soeke na God se wil.

 

  1. Ons as mense leef nie in afsondering nie. Ons staan binne ‘n gesinsverband, in ‘n gemeente en ons maak deel uit van ‘n gemeenskap.  Ons optrede en besluite beïnvloed tog diegene rondom ons.  Daarom is ons ook verantwoordbaar teenoor gemeentelede, mede-gelowiges en die samelewing in die breë.

Daar is die afgelope tyd in die media heelwat berig oor bedrog en diefstal by verskeie NG-gemeentes.  ‘n Mens besef nie altyd hoe ver en wyd die gevolge van sulke optrede uitkring nie. Gemeentes word finansieel op hulle knieë gedwing en het dikwels nie enige ander opsie as om predikante af te betaal en pastorieë te verkoop nie.

Rentmeesterskap vra dat ons (te alle tye) met verantwoordelikheid moet optree en beskikbare hulpmiddele met wysheid moet aanwend.

Vergewe my as ek hier hoofsaaklik by ekonomiese rentmeesterskap stilstaan, en spesifiek binne die konteks van ‘n gemeente se geldsake.

Ons vra van ons ampsdraers en kerkraadslede om erns te maak met die rolle wat hulle aanvaar en om in alles wat hulle doen, te wag op God se leiding.  Ons bepaal visies en missies om as riglyn vir ons aksies te dien.  Ons stel finansiële beleidsdokumente op waaraan ons optrede gemeet kan word en ons lê prosedures neer vir die hantering van fondse.

Geen beheermaatreël kan egter die veiligheid van bates – veral fondse – waarborg nie.  Maar om dit as ‘n verskoning te gebruik om geen beheermaatreël in plek te stel nie, is nie ‘n opsie nie.   Ons wys juis ons gehoorsaamheid aan God daarin dat ons as verantwoordelike bestuurders optree, goeie besigheidsbeginsels toepas en omvattende kontrolemaatreëls instel en nakom.

Lukas 12: 29 – 31 is vir my ‘n gerusstelling: As ons dan doen wat die Here van ons verwag, het ons nie nodig  om oor die dag van môre bekommerd te wees nie.  Ons is God se kinders en Hy neem verantwoordelikheid vir ons.

Ek sluit af met ‘n definisie van rentmeesterskap: goeie rentmeesterskap beteken dat ‘n persoon alles wat hy is en het, laat saamwerk om God se wil op aarde te laat geskied.  Dit geld vir die persoon as individu en die Kerk as geheel.

Deur verantwoordelike rentmeesters te wees, dien en verheerlik ons die Here.