3 Mei 2019
Ek deel graag my getuienis :
Op 15 Februarie 2019 het ek flou geword, as gevolg van ‘n bloeiende maagseer. Ek was nie eers bewus van ‘n maagseer nie, wat nog van ‘n bloeiende een. Op daardie stadium het ek al heelwat bloed verloor, en moes 4 eenhede bloed ontvang in die hospitaal.
Lang storie kort, ek het in ons plaaslike hospitaal, Kuilsrivier Netcare, se Trauma eenheid beland, en daarna ‘n paar dae in die Intensiewe Sorg Eenheid deurgebring. Alhoewel al die personeel baie bekwaam en dierbaar was, was daar een baie spesiale student verpleegstertjie, ‘n engeltjie, Jomarie Mentoor – oor 3 maande is sy ‘n volwaardige suster – wat my meestal daar versorg het. Ons twee het dadelik “connect” en het ek toe baie vinnig ontdek dat sy Rina, ons kerk se skoonmaker is, se dogter is. Sy het werklik ‘n tiende myl vir my geloop.
Siende dat ons lede van die Gideons is, en ek graag die engeltjie wou seën met ‘n geskenkie, het ek vir Jacques gevra om vir haar ‘n pienk (baie spesiaal vir vrouens) Afrikaanse Bybeltjie te bring. Ek kon nie skryf nie, as gevolg van al die naalde en pype in my arms, en het haar gevra om self ‘n boodskappie in haar Bybel te skryf, maar in my woorde. Sy het dit SO waardeer, en die aand reeds by die huis daarmee gespog. (Net ‘n kant aantekening, sy het my in hierdie week weer gekontak per whatsapp om te hoor hoe dit met my gaan. Ek het toe ook beloof om vir haar te bid vir haar finale teorie eksamen.)
Met baie tyd om te dink as ‘n mens so op jou rug lê, voel ek toe dat ek eintlik al die personeellede wil seën met ‘n Bybeltjie in hulle onderskeie tale. Jomarie het vir my ‘n opname gemaak, en Jacques het die volgende dag die Bybels gebring (Afrikaans, Engels en Xhosa). Toe hy die Bybels uitpak op die susters se toonbank, toe lyk dit vir hom so min dat hy vra of daar nie nog personeel is vir wie hy kan bring nie. Die intensiewe eenheid bestaan uit ‘n paar sale.
In dieselfde asem noem Jacques dit toe aan die Suster in beheer, dat ons Gideons hulpgroep vrouens gewoonlik elke twee jaar ‘n afspraak maak, en vir ‘n paar ure in die teekamer sit waar ons die personeel bedien soos wat hulle tee- en middagete breke neem.
Verlede jaar het die verpleegsters se persoonlike assistent ons laat weet dat daar niks Bybels benodig word nie, en kon ons nie toegang kry nie. Toe sal Jacques kennis neem dat die eenhede (hulle praat van die units) se personeel nog nooit Bybels ontvang het nie, want hulle gaan nie na die teekamer toe tydens hulle breek-tydperke nie.
Met ander woorde, as ek nie in die intensiewe eenheid beland het nie, sou ons nooit bewus gewees het van die personeel wat nooit Bybels ontvang nie.
Toe Jacques die volgende hoeveelheid Bybels bring, het die Suster sy hande gevat, en gevra dat ons moet bid dat hulle hande geseën word vir die werk wat hulle doen.
So draai die Here ‘n “slegte” ding om na ‘n wonderlike geleentheid om Sy werk gedoen te kry.
NASKRIF : Ek het net weer eens die waarde daarvan besef om Jesus as my anker te hê. Van die oomblik dat ek flou geword het, tot die paramediese outjie met sy vinnige kar arriveer het, daarna die ambulans, en ek in die Trauma eenheid ingestoot is, het ek ‘n oorweldigende vredevolle gevoel oor my gehad. Ek is normaalweg verskriklik bang vir naalde – en daarvan het ek ‘n oordosis gehad – maar was nie vir een oomblik bang nie. Dit was nie eers so seer soos gewoonlik nie. En glo my, ek het ‘n taamlike netwerk van pypies om my gehad, eintlik baie intimiderend. Ek het net gevoel die personeel is in beheer, en werklik instrumente in die Here se hand. En tog, was ek heeltemal gereed om Jesus te ontmoet. Ek was SO SO swak as gevolg van al die bloed-verlies, dat ek net kon oorgee en gedink het dit sal nogal lekker wees om nou hemel toe te gaan.
Maar, helaas lyk dit my ek het nog ‘n paar joppies om te doen hier op aarde.
Liefde-groete
Riëtta Odendal