17 Maart 2023

Die buitelugdiens op Avalon is maar altyd ‘n groot hoogtepunt in die kwartaal. Dit is net SO spesiaal om te aanbid in die natuur, en wanneer ‘n mens stil word, honderde voëltjies te hoor.  Al ‘n mens se sintuie word geprikkel in die koel troubos.  Die koel plante, RUIK ook mos so lekker en vars.

 

En Sondag het die weer lieflik saamgespeel.  Dit was nie te warm nie, ook nie te koud nie, en geen wind nie, heerlike herfsweer, my gunsteling seisoen. Chris het ons harte aangeraak met ‘n boodskap uit  Mattheus 9 v 12.  Hy het ook mooi vir die kinders verduidelik dat ons kerk Jesus se hospitaal is.  En ons moet mooi wees met afvlerk mense.  Tot ons Graad R’e het mooi verstaan.

 

Ag, van die “dekor”, tot die “venue”, tot die lof en aanbidding, en natuurlik Chris se boodskap, was net eersteklas.  Ons kindertjies het vir die grootmense gewys hoe sing ‘n mens die Bybelboeklied.  Hulle ken nou alreeds byna al die boeke van die Nuwe Testament, en het dit ywerig voorgedra. Wat ook nog so mooi is, is dat die gehoor ingesluit het, ‘n baba van seker so 18 maande, dalk 2 jaar, maar ook seniors, 70 plussers!  Dis hoe dit mos hoort!  Een groot familie!

 

En dan kan die De Eike-familie mos lekker kuier en eet!  So, agterna is die komberse en kampstoele en –tafels uitgepak, en heerlik gesmul aan piekniekkos.  Die foto’s getuig daarvan.  Ons kon kuier soos net De Eike kan!

 

Ek kan ook nou nie anders nie, as om te vertel van my rolspel as ‘n boemelaar.  Chris sou ‘n eksperiment doen, en kyk hoe reageer ons gemeentelede op ‘n boemelaar wat lastig is.  Ek het my toe vermom, en by heelwat mense (wat my glad nie ken nie) gaan bedel vir ‘n “mêtjie” vir my “.  Net soos ekself gewoonlik, het die mense vermy om oogkontak te maak met die boemelaar.  Sommer net haastig aangestap.  Een sagte-hart vrou het vir my ‘n geldjie gegee.  ‘n Mens loop ook mos nie eintlik met ‘n klomp kleingeld in jou beursie rond nie.  Ek het op ‘n kol vir die welkom-span gevra hoe lank nog voor die erediens begin, want ek moes toe vir my ‘n plekkie gaan soek om te sit, en Franci het gewys 6 minute.  Net voor die aanvang van die erediens, het sy na my toe gestap om te kom sê die erediens gaan nou begin, mooi so Franci!  Sy het my eers herken toe sy by my kom sit.  Ek het my toe gaan neerplak langs arme Fritz van Wyk, en hy was SO ordentlik, eintlik so ‘n bietjie opgeskuif dat die vuil tannie ‘n plekkie kan hê.  Mooi so Fritz!

En ek het ‘n les geleer!  Volgende keer sal ek, as ek so ‘n eenkant mens sien, gaan vra of hy/sy okay is, of ek iets kan doen, die Woord met hom/haar deel.

 

Want Jesus het gesê : “Dié wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.”  Matt 9 v 12.

 

Liefde-groete, tot volgende keer

Riëtta