27 November 2020
LIEWE gemeente
HUIS LILI (LEAP INTO LIFE INDEPENDENTLY)
Soos julle weet, het ek hierdie jaar betrokke geraak by die satelliethuis van die Durbanville Kinderhuis, Huis LILI, om vir Lize Fölscher (my regterhand en linkerhand by die Kinderkerk) by te staan met raad en daad. Sy was die skoolverlaters by LILI se versorger vir drie maande.
Kant-aanmerking : Is dit nie wonderlik hoe die Here beskik het dat ek tyd gehad het vir kinderhuis, omdat ons nie kinderkerk gehad het nie. Die inperkingstyd het baie slegte dinge gehad, maar as dit nie daarvoor was nie, kon die Here my nie inspan vir die taak nie. Ek glo mos nooit die Here bring slegte dinge oor ons pad nie, maar Hy kan vir seker slegte dinge omdraai in goeie dinge.
Alhoewel Lize nie meer versorger by LILI is nie, het ek en sy en nog ‘n paar vriendinne betrokke gebly as vrywilligers om die kinders se lewens te vergemaklik. Dit het soms baie dink en planne gekos, maar die Here het SO getrou vir ons deurgekom. Ek kan Hom net loof en prys al die pad. Ons is mos net Sy instrumente. As die kinders ons so herhaaldelik bedank, het ek hulle ook verduidelik dat ons die Here se hande en voete hier op aarde is, dat ons gehoorsaam is aan Hom, en dat hulle ook eendag as hulle op hulle voete is, ander mense moet help. Hulle stem heelhartig saam.
Ons kon al agt kinders vir skaduwerk stuur (met die hulp van besigheidskontakte), en het dit ook die kinders se belangstellings en moontlike studierigtings bevestig. Die kinderhuis het nie kans gesien om die kinders te vervoer na hulle verskillende “werkgewers” nie, en ons het maar ingespring vir die takie ook. Gelukkig het ek baie finansiële bydraes gekry, en kon ek hier en daar vervoerkostes dek. Die kinders het baie baatgevind by ons ondersteuning en liefde en aandag, en sommer ‘n nuwe huppel in hulle stap gegee.
Een van my vriendinne (en ook vrywilliger) het ‘n ruim bedrag geskenk waarmee ek moes beddegoed koop vir die meisies. Haar vereiste was dat hulle dit self moet uitsoek, want dit is ‘n voorreg wat hulle nog nooit gehad het nie. Hulle kon nog nooit klere en skoene en beddegoed uitsoek nie. Hulle moes maar vat wat hulle kon kry by die kinderhuis.
En was dit nou nie ‘n prettige uitstappie nie! Om die meisies se gesiggies dop te hou wat in ‘n linnewinkel staan, en enigiets kon kies wat hul harte begeer. Ons het baie pret gehad, en sommer gedans in Game se gange waar ons naweeksakke gekoop het. Hierdie tannie het nuwe “steps” aangeleer!
Die laaste hekkie wat ons vir eers moes oorkom, was blyplek vir twee van ons kinders. Die reëlings van die kinderhuis (lees regering) is dat die kinders se adres waar hulle weggeneem is 8 jaar gelede, ook die adres is waarnatoe hulle moet teruggeneem word. Dit is waar die kinderhuis se bussie hulle Vrydag sal aflaai. Wanneer die kinders 18 word, en klaar is met skool, is hulle nie meer die staat se verantwoordelikheid nie, hulle is op hulle eie. Die kinders was almal vir 4 jaar in Westcliff Vaardigheidskool, en hulle kwalifikasie is gelykstaande aan graad 9. Maar hulle moet werk soek, en hulle moet oorleef sonder enige volwasse ondersteuning.
Ek en Lize het net besef dit KAN NIE gebeur nie! Vir twee van die meisies is hulle ouers of ander familie se adresse dwelm- en drank- en bende-hole. Die kinders is alles behalwe “streetwise”, want hulle is baie beskerm in die kinderhuis.
Nie ek of Lize kon hulle huisves nie, en ek het gebid. “Here gee vir ons planne, ASSEBLIEF! Die kinders kan nie by ons kom woon nie, maar ook nie by hulle familie nie. Waarnatoe Here? En skuus Here, maar die planne moet nou vinnig gebeur, want ons het net 3 weke.”
En die Here het ons nie teleurgestel nie!
Met al die geselsery tydens die inkopies, het ek te hore gekom dat die een dogter ‘n vakansie/naweektannie in Brackenfell het. Sy het ongelukkig gedurende die inperking min kontak gehad met besoeke, en sy het so op haar eie gedink die tannie sal dit nie kan bekostig dat sy by hulle gaan woon nie, omdat sy self 3 kinders het. Maar sy was verkeerd! Haar engel, groot-kind-van-die-Here tannie, met man en al, gaan haar inneem, en sy trek Donderdag soontoe. Hulle het ‘n lieflike kamer onder hulle huis wat hulle vir haar gaan inrig. Van daar af kan ons weer verder ondersteun met studies en naweekwerke, asook finansieel vir vervoer van die dogter en allerhande ander dinge.
Ek kommunikeer met Westcliff se hoof, en vra of daar nie ‘n kamer te huur is in hulle koshuis nie. Hy sê ongelukkig het hulle net ‘n seunskoshuis, maar ek kan hoor by De Grendel Vaardigheidskool in Milnerton. Hulle het ‘n meisiekoshuis ook, en verhuur vir seker kamers uit aan buite-mense. Ek maak toe so, en kry ‘n kamer vir onse meisiekind. Dis baie beter as die “hell-hole” waarna toe sy moet teruggaan, maar nog nie eerste prys vir ons nie, want ons wil haar ook eintlik graag vestig in ‘n gesin.
En die Here stuur vir ons ‘n vriendin van Lize, wat ook ‘n maatskaplike werker is, en sy en haar man stem in om ons kindjie in te neem. Halleluja! Ons God is die beste! En hy gebruik Sy kinders!
Ons het gistermiddag met hulle vergader, veral om vrae van hulle te beantwoord, en ook te bevestig hoe ons (ek en Lize) betrokke gaan bly. Ons kind het ook gisteraand by hulle gaan eet, en heerlik gekuier.
Hierdie jonggetroude paartjie gaan ons kindjie mentor, haar help om ‘n identiteitsdokument te kry (waarmee haar voogde opge”slip” het), haar help om toegang tot studies te kry, of eers net ‘n “gap”-jaar by hulle kerk te doen.
Ter opsomming : Ek is SUPER opgewonde, oor die Here se uitstekende tydsberekening, en die perfekte mense wat hy op ons pad gestuur het, sodat ons nie alleen staan in SY diens nie.
Liefde-groete
Riëtta Odendal