19 Oktober 2018

Hallo Hannes

Ek het sommer ‘n behoefte om hierdie briefie te skryf.  Weet nie of mens dit in die nuusbrief kan plaas nie.  Dit gaan sommer vir my oor die hart van De Eike.

Sommer ‘n bietjie positiwiteit vandag : Ek dwaal “down memorylane”, en raak sommer bewus van De Eike se omgee-hart, wat  my lewe  reeds  22 jaar beïnvloed.

Met Adri Burger se groot verjaarsdag onlangs, het ek sommer weer teruggedink aan my aankoms hier in De Eike in 1996.  Op daardie stadium het ek ‘n 3-jarige seuntjie, is ‘n huisvrou, en beland in ‘n splinternuwe dorp waar ek basies niemand ken nie.  Nou, die mense wat my ken, sal weet dat dit erg onlekker vir my is.  Ek is ‘n ekstrovert met ‘n baie hoë telling op die Myers Brix profiel, en het dus mense baaaaie nodig.  En manlief Jacques het vir maande lank weggewerk in die Oos-Kaap.

So bel ek toe die kerkkantoor en vra of daar nie ‘n Bybelstudiegroep is waar ek kan inskakel nie (my 3-jarige gaan 2 oggende per week na ‘n speelskooltjie in Van Aardestraat, daardie tyd by Lida Visser).  Die kerkkantoor deel my mee,  die enigste Bybelstudiegroep van my portuur is die Kinderkransleidster Bybelstudiegroep, en hulle funksioneer nie tans nie, omdat die voorsitter (Adri Burger) in ‘n aflospos is by Hoërskool Hottentots Holland vir 3 maande. Maar ek kan inskakel in die tweede kwartaal.    Hulle neem my in, met groot liefde en aanvaarding, SONDER dat ek ‘n Kinderkransleidster is.

Intussen word ek hartlik verwelkom in die vroue Bybelstudiegroep van Johan Morkel, waar ek die wonderlikste tannies leer ken.  TE heerlik.  Hulle het ook ywerig saamgebid toe ek graag nog ‘n baba wou hê.  Die baba is toe gebore in Januarie 1997, en skaars ‘n jaar oud, toe val ek in by die Kinderkrans, waar ek vandag nog werksaam is, net in ‘n ander gedaante.  Op 2-jarige ouderdom wou baba ook nie meer by die bediende op ‘n Dinsdag bly nie, en het hy so op my heup ook saam Kinderkrans gehou.  Gelukkig was Heidi Nel op daardie stadium die tannie vir die voorskoolse maatjies, en synde my vriendin, het hy sommer daar ingeskakel saam met sy 6-jarige boetie.

‘n Groot groep van daardie tyd se Kinderkransleidsters is vandag nog my liewe vriendinne, Adri Burger inkluis, en het ons deur die loop van die 22 jaar baie lief en leed gedeel.  En sê ek nog steeds, ‘n groot persentasie van my kennis oor kinderbediening (al het ek later daarin gaan studeer) het ek by Adri geleer, veral haar entoesiasme, harde werk, goeie leierskap en liefde vir kinders.

Dankie girls!

Liefde, Riëtta Odendal