20 November 2025

Liewe gemeente-familie

Ek was maar altyd lief vir kinders, en het reeds in Bellville-Vallei gemeente, na my belydenisaflegging in 1981, Sondagskool gegee vir die kleintjies, so vir 2 jaar.

 

My pad met kinderbediening het egter in alle erns begin in 1998, in De Eike gemeente, waar ek by Adri Burger alles geleer het van Kinderkrans.  Rondom 2000 het ek oorgeneem as Voorsitter van die Kinderkrans, en gedien tot aan die einde van 2003.    Ons het  getrek vanaf Soneike na Elim, waarna ek die Voorsitterskap beklee het by Kuilsrivier-Suid Kinderkrans, vanaf 2004 tot en met einde 2010. In 2005 het ek ook ‘n jaarlange kinderbedieningskursus gedoen deur Petra Kollege.

Ons het teruggekeer na De Eike gemeente aan die begin van 2011.  Die Kinderkrans hier het toe reeds doodgeloop, en het ek begin om die informele musiekbediening te lei vanaf 2011 tot die middel van 2014.

 

Op 3 Augustus 2014 het ons weggetrek met die Kinderkerk, soos dit nou daar uitsien.  In 2019 het ek ‘n tweede kinderbedieningskursus gedoen deur Paidion.

Verlede jaar het ons die 10 jaar mylpaal behaal, en was ek meestal geseënd met  toegewyde, liefdevolle klasleiers.  As ek my tienerjare byreken, het ek 30 jaar gedien, presies die helfte van my lewe, en het ek besluit om die aflosstokkie aan te gee vanaf volgende jaar, aan my baie bekwame, passievolle opvolger, Nicole Snyman.  Om die waarheid te sê, het sy alreeds hierdie jaar preekbeurte met my gedeel.

 

Verlede Sondag oggend vra Ds Chris my toe vooraf of ek die kers sal aansteek, aangesien ek uittree, en dit ook Jeugdiens is.

 

En watter verrassing was dit nie!  Beide Ds Chris en Ds Johan met hulle mooie woorde van waardering.  Baie dankie daarvoor.  En toe nog die Jeugkommissie (die beste kommissie waarvan ‘n mens deel kan wees) se teenwoordigheid en geskenke!  En meer nog, my klasleiers met die kinders se briefies per graad wat netjies gebind is deur Nicole.    Ek het die briefies nou al twee keer deurgelees, en dit is vir my die mees kosbare geskenk wat ek kon kry.  Die mooiste woorde, ook deur sommige kinders wat eintlik baie stil en skaam is, en eintlik nooit ‘n woord met my gepraat het nie.  Ek is omtrent verras.

 

My hart is warm! En ek bêre al die mooi woorde diep in my hart.    Baie dankie aan al die betrokkenes!

 

Gelukkig gaan ek nie heeltemal weg nie!  Ek kan wel nou, na 11 jaar wat my arme man meestal alleen in die bank moes sit, by hom aansluit.  Maar ek gaan nog steeds een keer ‘n kwartaal die boodskap bring by die Kinderkerk, anders gaan ek darem heeltemal te veel verlang na die kinders.

 

Gedurende al hierdie jare, was die Kinderkerk werklik vir my ‘n seën, en het ek die voorreg gehad om Jesus se blye boodskap aan soveel kinders te bring.  Die lekkerste ding is, as die hoërskoolkinders my onthou, en gereeld kom hallo sê en drukkies gee.

 

Soli Deo Gloria!

 

Riëtta Odendal