29 Augustus 2019
Liewe De Eike Gemeente
Wat ‘n voorreg om gister ons Kinderkerk se 5de verjaarsdag te beleef! ‘n Hele paar van ons “lidmate” was in graad een toe ons afgeskop het, is tans ons seniors in graad 6, en verlaat ons aan die einde van die jaar, snik-snik. Hulle is ons groot staatmakers wat dankoffer opneem, die musiekmasjien “operate”, en male sonder tal rollespelle doen saam met Tannie Riëtta. Zané help ook dikwels wanneer ons die verjaarsdagliedjie in kanon sing, en twee voorsangers nodig het.
Dit gesê : Gister het ‘n graad een mannetjie my gehelp met die kanon. En ons liewe Christo Groenewald, wat maar in graad 4 is, is elke oggend langs Tannie Lize baie bedrewe agter die rekenaar met die “powerpoint”. Hy was ook gister die mede kers aansteker vir die verjaarsdagkoekies. So span ons die kinders in om hulle gawes aan te wend vir Jesus. Om nie te praat van almal wat elke Sondag so ywerig geldjies bring vir ons Bottelary projek, en kans kry om dan sterre te plak nie, asook plastiek doppies en “breadtags” bydra nie.
Wat klasleiers aanbetref vanaf 2014, is ek, Lize Fölscher en Heidi Jonas nog in die tuig. Heidi verlaat ons aan die einde van die jaar, met dié dat haar jongste ook volgende jaar DV aandkerk toe gaan. Ons benodig dus ‘n nuwe graad een klasleier.
Die wonderlike ding is, dat, deur die loop van die vyf jaar, ons regtig nie ‘n groot “personeel-omset” gehad het nie. Ons is geseënd met werklike passievolle, toegewyde klasleiers. En wanneer party die tuig neerlê vir ‘n welverdiende rus, of hulle kinders wat grootkerk toe gaan, dan spring daar net weer nuwes in! Ons is geseënd met jong mammas wat betrokke raak, en lekker Kinderkerk saam met hulle kleintjies beleef. Ons het selfs twee JONG mense in ons span, naamlik Tiaan Theron en dan ook Lize, wat nie net ‘n klasleier is nie, maar sedert hierdie jaar die totale koördineerder. Dit, terwyl sy haar eie psigometrie praktyk het, en 20 ure per week by Durbanville Kinderhuis werk. Maar kyk, as die Here jou roep, dan maak jy mos ‘n plan, en buitendien, as jy ‘n passie het, kan jy mos nie wegbly nie.
Slotwoorde : Dit was ‘n groot uitdaging 5 jaar gelede om ons kinder erediens van die grond af te begin. Geen leier kan dit alleen doen nie. Jy kan so goed bestuur soos jy wil, maar sonder gewillige, passievolle hande en harte kan jy maar vergeet om ‘n sukses te maak van so ‘n uitdaging. Daarom, DANKIE DANKIE DANKIE aan almal wat betrokke was, en nog steeds is, en nog gaan word. ‘n GROOT dankie aan Lize wat die toue so mooi vasvat, en haar gawes so mooi vir die Here aanwend. Ons kantoorpersoneel, Cathy Fullard en Mariana van Schalkwyk en ons koster, Tim Burrows is vir ons dik rieme onder ons harte. Niks is ooit vir hulle te veel moeite om ons taak te vergemaklik nie. NATUURLIK gaan die grootste dank aan ons HEMELSE VADER wat SY bediening so seën, en ondanks teenspoed soms en my bloeddruk wat menigmaal oor verskeie redes gestyg het, veral as ons kids benadeel word, ons hande en moed hoog gehou het.
NS LAASTE LAASTE opmerkings : Wat beplan ons vorentoe? Met my Paidion (Grieks vir Klein Kind) studies hierdie jaar het ek en Lize besef dat ons nogal, ek glo Geesgerig, so 80% op die regte pad is met ons manier van kinderkerk aanbieding. Daar is egter ruimte vir verbetering, en ons beoog om volgende jaar daarmee te begin aan die hand van nuwe Paidion handleidings. Dit raak toenemend moeiliker om die KIX materiaal te verander in “preke”, terwyl Paidion s’n klaar uitgewerk is. Dit is ook nie die ideaal om kinders van graad 1 tot 6 op dieselfde manier te onderrig nie, net soos hulle nie almal akademies op dieselfde vlak onderrig word nie. Ek sal ook graag volgende jaar die klasleiers wil toerus met my nuwe, baie waardevolle kennis.
Ons kry soms die vraag waarheen ek dan nou verdwyn het : Vir dié wat nie weet nie, Lize is nou ons hoof organiseerder. Ek behartig die helfte van die kwartaal se boodskappe, en die dominees en ander boodskappers die ander helfte. Verder behartig ek die uitsoek van ons liedjies, om by ons boodskap aan te sluit. Wat my by nog iets bring : Ons sukkel vreeslik om sang aanbieders te kry hoor! ‘n Mens hoef regtig nie ‘n helikopter loods te wees om dit aan te bied vir die kinders nie. Ons begeleiding is cd’s, en die voorsanger moet net lekker energiek voorgaan. Die voorsanger kan egter ook sy/haar eie liedere uitsoek en per cd begelei of met ‘n instrument as hy/sy so kundig is. Die probleem is, wanneer ek die boodskap bring, doen ek ook die sang, sê nou maar 4 keer die kwartaal. Die ander 3 of 4 keer wanneer die dominees of iemand anders die boodskap bring, is daar nie sangers nie. Tans doen die Conradie egpaar twee beurte, maar hulle verlaat ons ook aan die einde van die jaar. Gaan hoor asseblief by die Here of dit nie ‘n bediening is waar jy Hom kan dien met jou gawe nie.
En op die noot, of is dit nood, sluit ek af!
Liefde-groete
RIëTTA ODENDAL