7 Mei 2021
Liewe gemeentevriende
Graag vertel ek julle van my belewing van die opelug gesins erediens op die Avalon plaas op Sondag, 18 April.
Ek en my seun, Tyan, was bevoorreg om die lof en aanbidding te lei, en het ons reeds om 08h00 op die plaas aangemeld. Die Esterhuizens en Van Zyls was toe al druk besig om voor te berei amper soos wat hulle vir ‘n troue sou doen, met ‘n mooi kanselkleed, en komberse wat oor die banke gedrapeer word. Dit was ‘n soel oggend, met geen wind, doodstil met net die voëlgeluide in die troubos. Ek en Jacques het vir Tyan help afdra aan al sy toerusting, en hy kon begin om al die kabels in te prop, en die klank te balanseer.
So vanaf 08h30 het die gemeentelede begin arriveer, sommiges met stoele, sommiges met piekniekkomberse. Ons het die kleintjies reg voor laat sit op komberse. Op die parkeerplek het van ons senior kinders plekke aangewys. Van ons junior en senior kategete het temperature geneem, en aangeteken. Twee van ons juniors het vir elke gemeentelid ‘n klein bakkie met druiwekorrels uitgedeel. Erné en haar ma het selfs vir ons ‘n pragtige blom rangskikking gemaak, met wingerdblare en al, en met kerse, dat ons mooi kan onthou Wie se Lig tussen ons skyn.
Dit was rustig, maar eintlik ‘n feestelike atmosfeer. Alhoewel gemasker, het almal gesels-gesels nader gekom, soos van ouds by die kerkgebou. Ons jongste in die gehoor was 1 jaar en 3 maande, en die oudste seker so 70plus.
Tussen-in was graad R’e tot 17jariges, tot jongmense alreeds heelwat jare uit die skool, en dan natuurlik ons middeljariges. En groot was baie se verbasing dat ons lof en aanbidding gaan lei, dat ons FLAM liedboeke uitdeel, en daar gesing gaan word van agter die maskers. En dit is hard en duidelik gehoor, hoor! Gaan kyk maar op my faceboekblad. Daar is ‘n paar video’s. Ons mense is LUS vir sing. Ek moet byvoeg dat my dierbare stap-maats my Saterdag oggend kom help het om die boekies bymekaar te sit, nadat die groen lig vir sing eers Donderdag oggend gegee is, en arme Elmarie by die kerkkantoor teen ‘n spoed moes afskrifte maak. Ons erediens was in die bos, so daar was nie powerpoint nie, en boonop het ons FLAM liedere gesing, so die liedboek sou nie werk nie.
‘n Paar van ons jongste gemeentelede het reg voor ons op komberse gesit, en hulle het lustig meegedoen aan die bewegings op “Loof Hom met die Tromme”, “Weet jy nie jy’s ‘n tempel?”, en nog meer. Dit was ook baie spesiaal om die laaste twee liedere in werklike aanbidding te sing, onder andere “In die Hemel is die Heer”, en God se teenwoordigheid intens te beleef, so midde in die natuur.
Ds Chris het ieder en elk op SO ‘n spesiale manier bedien dat alle ouderdomme soos ek reeds genoem het, kon meedoen. (Die Heilige Gees het gesorg dat ek ons openingslied, “Hy’s die Een wat ek liefhet in die môre”, uitgesoek het sonder dat ek geweet het dat Chris uit daardie gedeelte gaan preek. God is die wynstok, en ons die lote, en as ons in Hom bly, sal ons goeie vrugte dra. Maar ons moet ook soms gesnoei word. Chris het Clayton van Zyl, Avalon se boer, se hulp ingeroep om te kom verduidelik hoe dinge werk met ‘n wingerdstok en sy lote. Chris het sommer vir Clayton gebel, die foon op luidspreker gesit dat ons ook kan hoor, en Clayton was maar tog te gretig om vir Chris binne ‘n paar minute te kom bedien van raad. Groot was die opgewondenheid toe die trekker “opstart” en van redelik ver af gehoor kon word. Die jongstes in ons geledere het almal opgespring om te kan sien waaaaaar die trekker vandaan kom. En toe ons weer sien, toe stop Oom Clayton amper in ons midde met die mooi blou trekker (skoongewas vir die okkasie). En hy is toegerus met sy snoeiskêr om ons te onderrig.
Dit was nou werklik ‘n besondere belewenis, en al die gemeentelede het saamgestem dat ons dit asseblief weer moet doen. Tyan het opgemerk dat dit maklik die mees spesiale diens is wat hy ooit aan meegedoen het.
En natuurlik hou ons Jesus volgelinge daarvan om saam te eet! Dit was nou ‘n mooi gesig om al die piekniekkomberse en stoele uitgepak te sien op die welige reuse groen grasperk, met gemeentelede wat heerlik eet, en KUIER! ‘n Geleentheid wat hopelik, as die weer ons toelaat, spoedig herhaal sal word.
Liefde-groete
Riëtta Odendal