14 Augustus 2020
De Eike se lidmate het my aanvanklik bekommerd gehad toe die bestellings vir die Roadhouse basaar maar stadig ingekom het. Julle het egter uit die blokke gekom en 245 bestellings later, het ek verbaas, maar dankbaar, gestaan.
Nou is die groot vraag op almal se lippe – hoe gaan ek te werk om my bestelling op te tel die oggend van die 22ste. Die prosedure gaan soos volg werk.
Lidmate ry in by die hek in VAN DER HEEVER STRAAT (aan die kant van die torings). By die hek sal ‘n afskrif van jou bestelvorm en ‘n nommer aan jou oorhandig word. Jy gaan parkeer jou motor en wag asseblief in jou motor. (Ongelukkig kan geen lidmate in die kerkgebou toegelaat word vanweë die inperkingsmaatreël nie, slegs die werkers.) ‘n Kelner sal jou bestelvorm by jou kom haal (in nommervolgorde natuurlik), hy/sy sal dan die items op die bestelling bymekaar maak by die onderskeie tafels in die saal en daarna die bestelling na jou motor bring waarna jy die kerkgrond verlaat deur die hek in PIONIER STRAAT. Jy is baie welkom om die kelner se goeie diens en harde werk met ‘n fooitjie te beloon.
Bestellings kan tussen 10:00 en 12:00 afgehaal word. Soos hierbo genoem is daar 245 bestellings ontvang. Ons wil lidmate mooi vra om asseblief nie almal te verwag dat hulle hul bestelling om 10:00 gaan kry nie. Dit gaan absolute chaos wees as almal om 10:00 daar opdaag. Daarom doen ons ‘n beroep op lidmate om ons behulpsaam te wees en by die volgende reëling te probeer hou.
Lidmate wie se van met letters A tot L begin, kom haal hul bestelling tussen 10:00 en 11:00 af, terwyl die res, M tot Z, tussen 11:00 en 12:00 ‘n draai by die kerk kom maak.
As jy ‘n mandjie of boks het wat jy kan saambring sodat die bestelling daarin verpak kan word, sal dit ons baie help. Die plan was om bierboksies by die drankwinkels te kry, maar nou ja, selfs dit is tans nie moontlik nie.
Dit is die eerste keer in De Eike se geskiedenis dat ons op hierdie manier ‘n basaar hou. Ons vra dus almal se samewerking en geduld. Baie dankie by voorbaat.