18 Januarie 2018
2018 is hier! Die Senior burger klub(SBK) het ‘n goeie afskop-jaar in 2017 gehad. Ons het twee baie interessante uitstappies gehad. Die eerste een was in die derde kwartaal na die Botaniese tuin op Stellenbosch en die tweede na die Rehabilitasiesentrum vir Roofvoëls by Spier. Belangriker as die vermaaklikheidswaarde van dié uitstappies, is die verhoudings wat tussen lidmate gesmee word. Daar word nuwe vriende gemaak, en daar word gesels, gekuier, geeët en gedrink! Twee van ons seniors het mekaar tydens ons uitstappie na die Botaniese tuin herken as twee skoolvriendinne. Daar is lekker gesels en dadelik ‘n afspraak gemaak om mekaar so gou as moontlik weer te sien en verder oor vervloë dae te gesels!
Ons wil graag voortgaan vanjaar om eenmaal per kwartaal ‘n uitstappie na die een of ander besienswaardigheid te onderneem. Die Bestuur het lede gevra om vir ons moontlike besoekpunte deur te gee en ons het meer as 30 plekke se name ontvang! Ons is in die Weskaap so bevoorreg om te kan kies en keur tussen plekke wat kan besoek word! Ek wil graag weer van die geleentheid gebruik maak om vir Illse van Fairy Coaches baie dankie te sê vir hul busdiens wat sy nog elke keer vir ons gratis aangebied het. Illse is ook ‘n lidmaat van De Eike. Senior burgers wat nog nie deel van ons klub is nie, kan gerus aansluit. Dit kos niks nie, jy gee bloot jou naam by die Kerkkantoor op as daar weer ‘n uitstappie is! Ek het ook ‘n paar ander idees vir ons klub vir die komende jaar, maar sal dit eers met die Bestuur wil bespreek voordat ek iets meer hier bekendmaak! ‘n Mooi 2018 toegewens vir alle lidmate van De Eike en (mag ek dit maar sê?) ‘n besondere jaar vir ons senior burgers!
Johan Morkel