28 September 2018

Hierdie jaarlikse geleentheid vir ons seniors was vanjaar op Woensdag 26 September om 09:30 in ons kerksaal.  Ons seniors het dié geleentheid so goed bygewoon dat die parkeerterrein stampvol was, laatkommers moes op die “grasparkeerterrein” langs die kerkgebou parkeer!  Vanjaar se gaskunstenaar was Lizette Janse van Rensburg van Vredendal   Haar man, Jaco, het die klank gedoen.

 

Lizette se optrede het bestaan uit die sing van liedere wat afgewissel is met getuienisse uit haar lewe.  Sy het aangrypend getuig van hoedat sy die Here gevind het en ook hoedat die Here haar later in haar lewe gesond gemaak het van ‘n baie ernstige siekte.  Sy het ‘n baie swak verhouding met haar pa gehad en het ons vertel hoedat die Here haar gebruik het om haar pa na Hom te lei.  Nie lank daarna nie het haar pa gesterf.  Mens kon sien dat haar sang en die getuienisse lidmate diep geraak het.

 

Na Lizette se optrede is koffie en tee en verversings in die gang by die konsistorie bedien.  Weereens het die Kommissie vir Vrouelidmate (vroeër Vrouediens) ons nie teleurgestel nie.  Die groot verskeidenheid van eetgoed was op tafels in die gang uitgepak en koffie en tee is in die konsistorie bedien.  Die seniors het so lekker gesels en gekuier, dit het omtrent na ‘n basaar geklink!

 

Baie dankie aan die Kommissie vir Vrouelidmate wat hierdie geleentheid gereël het.  Elkeen wat dit bygewoon het, het dit verseker baie geniet!

Johan Morkel