9 Maart 2018

Op Dinsdag 6 Maart 2018 om 09:00, sit die Senior Burgers die bus vol en wag opgewonde om na Bellevue te vertrek. Ds Johan vertel ons van sy vinnige voetwerk sedert Maandag die 5de Maart toe sy broer Dirkie hom ingelig het dat die besoek aan Bellevue ongelukkig nie meer kan plaasvind nie. Die rede hiervoor was dat die druiwe se suikergehalte nie reg was nie en sonder druiwe sou hy die parsproses nie sinvol aan ons kon verduidelik nie. Inderhaas moes hy ander reëlings tref en só beland ons toe op die wynplaas Kaapzicht. Danie Steytler het ons persoonlik ontvang en deur die hele wynmaakproses geneem, van waar die druiwe ontstingel word tot by ‘n kort demonstrasie van die seël van die proppe en die etikettering van die bottels. Tussendeur kon ons ook proe aan druiwesap en mos. Wanneer ‘n mens bottels wyn op die winkelrakke sien, behoort jy meer waardering daarvoor te hê, want die proses van wynmaak duur lank en behels baie harde, toegewyde werk.

Die Steytlers besit die plaas al sedert 1946. Danie self is die 3de geslag en sy seun Klein Danie die 4de. Die eerste wingerdstok is in 1947 geplant en daarmee het Klein Danie ‘n wêreldtoekenning vir sy Chenin Blanc ontvang. Na hierdie leersame toer was dit tyd vir dankie sê en groet. Ds Johan noem dat Danie sedert 1982 die Sportmanne Bybelstudie-byeenkoms op Maandag-aande bywoon. Danie lewer ‘n hoendervel getuienis van sy siekte en die rol van gebed in sy genesing en lewe.

Hierna vertrek ons na Groenland. Met die instap hier word ons verwelkom deur ons gasvrou, Heléne Steenkamp, en die heerlike geur van koffie. Kosie Steenkamp is baie besig met oes, maar knyp ‘n tydjie af om ons te kom groet. Heléne bederf ons met skons met “extra cream” en heerlike southappies met tee/koffie daarby. Hiernaas was bakke vol soet Hanepootdruiwe op die tafels die kersie op die koek. Aan ds Johan en sy span: baie dankie vir ‘n genotvolle en leersame oggend. Ons sien uit na die volgende verrassing!

Elise van Wyk