15 Maart 2019

Woensdag 13 Maart 2019 om 9:10 vertrek ons gemeente se seniors per luukse bus na !Kwah ttu, uitgespreek ‘kwa-toe’. Ds Johan is ‘n man met ‘n plan en doen sommer huisbesoek in die bus. By !Kwah ttu aangekom ontvou die leefwêreld van die afstammelinge van die eerste mense voor ons oë. Eerstens is ons na ‘n ouditorium waar ons geleer is van die verskille tussen die San-mense, ook genoem die Boesmans, en die Koi, beter bekend as die Hottentotte. Die Boesman se tweede taal is Afrikaans, word ons op gewys. Irene Staehelin, Switserse antropoloog, koop die plaas Grootwater in 1999 aan met die doel om die San-mense te help om hulle eie mense op te lei in die toerismebedryf en die San-kultuur ten toon te stel. Terloops, “!Kwa“ beteken water en “ttu” waterpan of watergat. In totaal is die San gemeenskappe 130 000 mense en kom verspreid in Botswana, Namibië en Suid-Afrika voor.  Ons gids demonstreer die drie verskillende tongklappe in die San spreektaal.  Die groter groep verdeel in twee en ons groep verskuif eerste na die galery waar ons onder andere na handgetekende skilderye kyk en word ook ingelig van hul geskiedenis, gebruike en gelowe. By die kulturele sentrum kyk ons in filmbeeld na hul leefwyse in die veld. Slegs Namibië se San-mense dra nog tradisionele drag.

Hierna wip die groep op ‘n groot oop voertuig en ry wip-wip op die grondpaadjie in die oopte tussen pragtige elande, springbokke, zebras, volstruise en een enkele bontebok al weiende in die veld. Die eland is ‘n baie belangrike dier vir die San-mense, wat verduidelik waarom hulle so prominent in rotskuns van die San is. Só leer ons by ons drywer dat wanneer ‘n jong man wil “vrou vat”, hy eers ‘n eland moet doodmaak. Nie met pyl en boog nie, maar hy moet die dier jaag tot dié flou is. Dan mag hy dit doodmaak en eers dan kan hy die vrou van sy drome kry.

Ons stop by ‘n stat met ‘n paar hutte van dekriet opgerig in ‘n netjiese kring. Ons gaan sit in die middel op boomstompe rondom ‘n vuurmaakplek. Hier kry ons ‘n demonstrasie van hoe klereversierings van volstruiseierdoppe gemaak word – ‘n ongelooflike tydsame proses. Dié klere asook ander voorwerpe, soos ‘n pyl en boog en koker waarin die pyle en die stokke (om ‘n vuur mee aan die gang te sit) rondgedra is, word vertoon. Ons kry ook ‘n lewendige demonstrasie van laasgenoemde proses. By hierdie geleentheid word vertel dat wanneer ‘n man ‘n meisie in die oog het, gaan hy heen en lê haar soort van iewers voor waar niemand anders dit kan sien nie en skiet haar met ‘n pyltjie in die boud. As sy kans sien vir die jong man, hou sy die pyltjie by haar hart. Maar gee sy dit vir hom terug, kan hy maar van haar vergeet. Só, word hy van ‘n verleentheid voor ander gespaar!

Na al die opwinding was dit tyd om aan te sit vir ‘n feesmaal met ‘n keuse tussen hoender- of wildspotjie.

Almal het so baie op die uitstappie ervaar dat dit omtrent gegons het op pad huiswaarts. Al ons “happy chappies” sê dankie aan Johan en sy bestuur vir die vlot reëlings en die mense wat die bus en die busbestuurder tot ons beskikking gestel het. Dit was voorwaar ‘n onvergeetlike dag!

Elise van Wyk