13 September 2019
Op Woensdag 11 September het ‘n groep van ongeveer 40 opgewonde senior burgers om 11:00 vanaf De Eike se kerkgebou na Butterfly World by Klapmuts vertrek. Ons was omtrent 20 minute vroeg (ons afspraak was 12:00) by ons bestemming. Terwyl ons in die restaurant gewag het, het die eienaar van Butterfly World, Ester, van die geleentheid gebruik gemaak om ons meer te vertel van hoe hulle tot stand gekom het en wat hulle tans doen. Butterfly World het in 1996 opgemaak en was, soos die naam aandui, aanvanklik net bedoel om vir besoekers bloot te stel aan die wêreld van die skoenlapper. Daar is steeds skoenlappers, maar omdat dit ‘n koel dag was en ook effens bewolk, vlieg die skoenlappers nie en kon ons nie veel van hulle sien nie.
Twee faktore het daartoe bygedra dat Butterfly World se klem intussen verskuif het. Eerstens is die skoenlapper-mark besig om te kwyn. Lughawens en lugrederye maak dit al moeiliker om lewendige wilde diere te vervoer en in te voer. Dit kos Butterfly World byvoorbeeld R27 000 per aflewering om skoenlapper-papies vanaf die Fillipyne in te voer. Dit het dus algaande vir hulle al moeiliker geword om slegs ‘n skoenlapper attraksie te bly. Aan die anderkant het die publiek al hoe meer diere na Butterfly World gebring. Mense het troeteldiere waarvan hulle wou ontslae raak, by hulle kom aflaai (tot 60 per maand!). Dit sluit omtrent in al wat ‘n troeteldier is waaraan ‘n mens kan dink: papegaaie, skilpaaie, apies, slange, lemurs, skerpioene, marmotte, en so kan mens voortgaan. Diere wat by die Dierebeskermings vereniging en Cape Nature afgelaai is, is ook na Butterfly World gebring. Hulle het dus ‘n veilige hawe vir diere geword wat, om watter rede ookal, na hulle gebring is. Dikwels is van dié diere beseer of verwaarloos en ondervoed as hulle daar aangebring word.
Butterfly World noem hulself tans “Animal Sanctuary on Route 44”. Hulle beskou hulself as ‘n “education centre” en ontvang baie skoolgroepe. Hul doelwit is om die diere nie in hokke te hou nie, maar soveel moontlik die besoeker so na as moontlik aan die diere te bring. Ons het na die praatjie deur die area gestap waarin die diere aangehou word. Mens sien die diere van baie naby: papegaaie, allerhande eksotiese voëls, nagapies, “bearded dragons”, iguana’s, skilpaaie en krimpvarkies – noem op en dit is daar! Daar is ook waterpoele met paddas, koi visse en waterskilpaaie. Daar is ook luislange en ander onskadelike slange. Gelukkig is die slange in glashouers! Hulle hou geen giftige slange aan nie, indien hulle wel ‘n giftige slang ontvang, gaan los hulle dit in die natuur. Ons het ook baie spinnekoppe, skerpioene en taruntulas, gesien – ook agter glas! In een van die kampies is selfs ‘n grysbokkie wat by hulle afgegee is.
Nadat ons deur die “dieretuin” beweeg het, het ons onder ‘n lapa bymekaar gekom waar ons verder toegelig is oor die werk wat by Butterfly World gedoen word. Die man wat die lesing aangebied het, was uitstekend. Mens kan hoor dat hy gewoond is om met laerskoolkinders te praat. Hy het omtrent op dieselfde trant met ons gepraat en ons het dit baie geniet! Ons het die geleentheid gehad om ‘n “bearded dragon”, ‘n koringslang en ‘n krimpvarkie van nader te sien en selfs aan hulle te vat. Ria Koekemoer het klaarblyklik geen vrees vir reptiele nie, sy het nie alleen die drakie en die slang hanteer nie, maar ook gesoen! Daarna het ons gaan aansit vir ‘n baie lekker middagete. Na ete het ons met vol mae en goed ingelig oor ‘n wêreld wat ons weinig van geweet het, teruggekeer huistoe!
Johan Morkel