12 April 2019

‘n Paar van ons vrouelidmate was bevoorregd om op 10 April die Sinodale Vrouebyeenkoms by Eensgezind by te woon saam met vroue van ander gemeentes regoor die Wes-Kaap.

Die weer was effens koel en mistig vroegoggend, maar die warm atmosfeer het ons sommer met die intrapslag reeds welkom laat voel.   Die Zamar musiekgroep het gesorg vir die lieflikste agtergrondmusiek met Veronica Bell op die viool en Monika Stuchlik op die trekklavier.  Hulle het ons nogal verras deur hulle optrede af te sluit met ‘n weergawe van Leonard Cohen se “Halleluja” – gespeel op ‘n viool, en koei-klokke.  (Sien is glo!) Gaan kyk gerus op na ‘n weergawe hiervan op You Tube hier.

Ds Ankia du Plooy van die Sinodale Taakspan vir Vrouelidmate open die byeenkoms met ‘n verwelkoming wat een en elkeen laat voel asof hulle daar tuishoort.  Hilandi du Toit het ons begelei in die sing van toewydings- en aanbiddingsliedere en het deur die loop van die oggend ook van haar eie liedere gesing.

Die Vrouebyeenkoms het die geleentheid geskep vir geestelike toerusting en vir gewone vroue om hulle stories te deel met ander.

Nadat Ankia die Taakspan aan ons voorgestel het, lewer Riana Furniss (Taakspan voorsitter) haar getuienis oor God se getrouheid en die krag van God se Woord.  In ‘n wêreld waar ‘n mens byna nêrens meer kan veilig voel nie, herinner sy dat God se Woord ons plek van veiligheid is.  Veral Ps. 91 hou vir haar besondere betekenis in.

Hilze se lewe het ingrypend verander na haar borskankerdiagnose in September verlede jaar.  Sy vertel van die totale skok en verslaenheid na die diagnose, die magdom mediese toetse en die gevolglike gevoel van verlies aan “persoonlike ruimte” – tot ‘n radikale mastektomie twee weke later, want al was die knoppies baie klein, was haar kanker baie aggressief.  Haar dapperheid en positiwiteit is ‘n inspirasie.  Sy beskou die rooi chemo as ‘n engel wat haar liggaam reinig van die kanker.  Daarom was dit nie vir haar traumaties toe haar hare uitgeval het nie, maar eerder ‘n teken van haar genesing.  Ten spyte van ons letsels (geestelik of liggaamlik) kom God om ons heel te maak en is ons nie stukkend in Sy oë nie.

Esmé het vertel van haar en haar man se ervarings as pleegouers die afgelope 6 jaar en hoe kosbaar dit vir haar was om vir daardie kinders ‘n tuiste in haar huis te kon gee.  Sy vertel hoe sy die afgelope Desember ‘n oproep ontvang het om te vra of hulle as pleegouers kon optree vir 3 broers en susters wat vir 3 maande in beskermende sorg geplaas moes word.  Sy het dadelik “ja” gesê – ten spyte daarvan dat hulle dan 6 kinders in die huis sou hê, dat die huis nie baie groot is nie en dat sy nie regtig geweet het hoe hulle sou sorg vir die kinders nie, aangesien sy die enigste broodwinner is.  Sy getuig daarvan dat God voorsien het in al hulle behoeftes.  God vra slegs dat ons gewillig is om te doen wat Hy vra en Hy sorg self vir die res.

Net soos kinders wat in pleegsorg geplaas word, die behoefte daaraan het om te voel dat hulle iewers inpas en dat hulle by iemand “behoort”, het elkeen van ons dieselfde behoefte.  God kom sê vir ons: “Jy is Myne.  Jy behoort aan My.”

Die gedagte wat by my vasgesteek het, is die besef dat elkeen van ons ‘n storie het om te vertel.   Elkeen van ons dra ‘n stuk seer in ons binneste saam.  Maar: elkeen van ons het ook ‘n stem.

Die deel van ons stories het verskeie positiewe gevolge:

  • Ons skep vir mekaar veilige ruimtes waar ons kan tuis voel en “behoort”
  • Die vertel van ons stories help met die genesing van ons geestelike letsels
  • Ons kan leer uit ander se geloofservarings
  • Ons word geestelik verryk deur ander se getuienisse
  • Dit skep die geleentheid om mekaar te ondersteun, te bemoedig en ook te bemagtig

Op hierdie manier stap ons dan vir ‘n wyle saam met mekaar op ons geloofsreise.