5 Mei 2023
Little Seeds is tans een van drie implementeringsagente vir SmartStart. Hierdie nie-winsgewende organisasie beoog om aan elke kind toegang te gee tot hoë kwaliteit vroeëkindontwikkelingsgeleenthede. Daar word toenemend op tegnologie gesteun om kinders in moeilik-bereikbare areas te teiken. Praktisyns (vroue wat deur SmartStart opgelei en ondersteun word om ‘n gehalte kurrikulum aan 3-5 jarige kinders aan te bied) merk teenwoordigheid aan met behulp van ‘n Bot genaamd “FundaChat”. Hierdeur bekom hulle ook nuwe idees oor aktiwiteite, laai die kinders se vordering in terme van mylpale op, registreer en deregistreer kinders en vele meer. Die Bot is ontwikkel sodat dit so min as moontlik data gebruik, maar ‘n mens benodig ongelukkig ‘n slimfoon daarvoor.
Indien jy ‘n ou slimfoon het wat êrens in ‘n laai lê, kan jy ‘n daadwerklike impak op die program maak deur jou foon aan een van hierdie vroue te skenk. Dit kan enige slimfoon wees en hoef beslis nie die nuutste generasie te wees nie. Ons vra egter dat jy nie stukkende (gekraakte skerms/sonder batterye/wil nie aanskakel of laai nie) stuur nie. Indien jy nog die oorspronklike verpakking het, stuur dit asb. saam. So ook met die laaier/kabel. Indien die kabel egter stukkend of weg is, sal ons self ‘n plan probeer maak. Verwyder asseblief alle persoonlike inligting van die foon.
Jy is welkom om dit saam met julle afgevaardigde na die opkomende sinodesitting te stuur. Merk dit asseblief net duidelik vir aandag: Isabella de Kock (omgee@kaapkerk.co.za). Rig gerus ook enige navrae aangaande hierdie projek aan Isabella.
Jy kan dit natuurlik ook vir een van die afgevaardigdes gee om daar te oorhandig – Hannes.