12 Junie 2020

“Wat het ons gedink en beleef toe ons gehoor het van die totale afsondering, en van die eensaamheid toe ons geen gaste meer mag ontvang het nie? Dit was erg dat alles toegesluit is – die kerke, die winkels, en die skole. Hier in Andanté mag ons nie eens by ons bure gaan kuier het nie. Ek self was baie onseker van myself. As ons hoor van die geweldige getalle mense wat in China oorlede is, het ons gedagtes op hol gesit. My groot vraag is: hoeveel van hulle het ooit die Here geken? Self weet ek na wie ek my toevlug neem: na my Bybel en my God en Here. Ek steun op verse soos Joh. 4:8, 1 Joh. 3:1, en 2 Kor. 12:9: “My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is…”

Lerina Venter.

Wat het ons ervaar. Kom ons begin met die positiewe:

  1. Louis se eerste woorde was: “Ons gaan ‘n klomp geld spaar!”
  2. Ons het gehoorsame ouers geraak! Ons kinders leer ons om paraat te wees. Hulle bring kos, en ons bly net tuis!
  3. Egpare leer mekaar beter ken, en huistake deel (maar Louis wil steeds nie leer kook nie!)
  4. Ons lees elke dag saam met duisende gelowiges om 12uur Psalm 91 hardop. Ons herinner God aan sy beskermende beloftes daarin, en vra vir die besekerming van sy engele. Dit loop uit op gebede vir ons dierbares, vriende, maar ook vir onverskilliges. Ons vra dat sy Naam hierdeur geëer sal word.
  5. Ons hou meer sinvol en langer stiltetyd. Ons klein, simpele gebedjies word verhoor, en dan staan ons in verwondering oor Sy grootheid.
  6. Ons is dankbaar vir wat ons het, en baie bewus van hulle wat nie eens kos het nie.

– En nou die negatiewe:

  1. Ons mis ons geliefdes, veral ons kinders in die buiteland. Selfs die wat hier woon sien ons net oor die selfoon. “My vel bly honger vir ‘n drukkie…”
  2. Die tyd wat nou bietjie lank raak, pla…
  3. Ons mis die kerk, ons Bybelstudiegroep en kleingroep, al voel ons dat die besluit om eers te wag, die regte een is.
  4. En moet elke 2-3 weke bloedtoetse by die hospitaal laat doen. Jy voel nie veilig daar nie (al sterk dit jou vertroue in die Here!).

Louis en Elza Cloete