13 April 2018
Die strategiese beplanningsessie wat ons op 7 April gehou het, is deel van ‘n proses, het Lizette reg van die begin af vir ons baie duidelik gemaak. Dit was baie duidelik dat ons nie sommer onmiddellike klinkklare antwoorde moes verwag nie. Dit was eerder die oogmerk van die vergadering om groter duidelikheid te hê oor waarheen ons op pad is (en wil wees) met die gemeente. Ons het die geleentheid gekry om te sê wat ons dink die mees uitstaande eienskap van die gemeente is, en veral ook wat ons dink oor nog ‘n paar jaar die gemeente behoort te kenmerk. Toe eers kon ons begin gesels.
Een ding het baie sterk uitgekom: die beste eienskap van die gemeente (en dit was eintlik nog al die jare, van die begin af, so) is die warmte en samehorigheid van die gemeente. De Eike is nog nooit gekenmerk deur spanning en dwarstrekkery nie, en daarvoor is ons die Here baie dankbaar – dis ‘n groot genadegawe. Dis juis hierdie sterkpunt waarop die gemeente verder kan voortbou.
Oor en oor het ons stemme gehoor wat sê dat De Eike graag ‘n familie wil wees, waarin ons vir mekaar omgee en na mekaar omsien. Ek het nogal agterna gewonder tot watter mate ons dit alreeds regkry. Baie nuwe intrekkers getuig tog juis van hierdie warmte wat hulle dadelik tuis laat voel het – maar ongelukkig is daar ewe veel wat vertel dat niemand hulle ooit welkom laat voel het nie. Ons het duidelik ‘n groot uitdaging voor ons as ons regtig wil wees wat ons sê ons wil wees…
Dis daarby net so duidelik dat ons ook nie net na mekaar kan omsien nie – ons moet ‘n verskil maak in die gemeenskap waarin ons bly. Alleen dan gaan ons ‘n getuienis hê en gaan mense graag deel van ons familie wil wees. In die proses sal ons nie dit prysgee wat ons tot dusver van die Here ontvang het nie, maar sal ons ook moet leer om wyer te kyk en dinamiese nuwe planne uit te voer.
Met hierdie soort gesprek in ons agterkop, gaan die proses van strategiese beplanning steeds voort. Ek self is baie opgewonde oor die pad waarop ons is, en kan nie wag om te sien waarheen die Here besig is om ons te lei nie. Die volgende fase gaan waarskynlik meet konkrete antwoorde bring van spesifieke dinge wat gedoen moet word en skuiwe wat gemaak moet word. Maar moenie bekommerd raak nie – ek sal jou die hele tyd op hoogte hou!
HB